VIA (DStv-kanaal 147) het ’n splinternuwe videoprojek geloods Wat maak jy? (WMJ). Dié projek het ’n dubbeldoel: VIA soek vars Afrikaanse video-sterre en bied tegelykertyd vir Afrikaanse vloggers ’n bemarkingsplatform.

VIA het die hulp van bykans 20 Afrikaanse aanlyn-videomakers, vloggers en ander sosialemedia- persoonlikhede ingeroep. Dié span het elkeen vir VIA vyf eksklusiewe video’s gemaak wat op die TV-kanaal asook Facebook en YouTube sal verskyn oor die volgende drie maande. Dié groep gaan as inspirasie dien vir voornemende videomakers en ook as VIA-ambassadeurs optree vir die tydperk. Die projek skop af met die vloggers Ammiël Smith en Leone Mostert (beter bekend as Net Nog ’n Moerige Mamma) en hul video’s kan op VIA se Facebook-blad en YouTube-kanaal gekyk word.

Hier's ’n voorsmaak:

‘‘Toe ons eers in die digitale wêreld gaan krap, was ons verbaas oor die hoeveelheid oulike Afrikaanse inhoudmakers, maar dis nog steeds heeltemal te min! VIA glo Afrikaans kan doen met nog baie unieke stemme. Ons hoop hierdie groep van 20 mense gaan jou inspireer en dat VIA deur WMJ baie nuwe interessante karakters en talentvolle mense gaan bekend stel. Inteendeel, as enige van dié videomakers groot aftrek kry sal ons beslis ‘n TV-reeks met hulle oorweeg,’’ sê Izelle Venter, VIA se kanaalhoof.

Met Wat maak jy? (WMJ) nooi VIA die hele Suid-Afrika uit om hul unieke talente, perspektiewe, oomblikke en stokperdjies te deel. Oud, jonk en almal tussen in, kan hul video’s stuur. Die VIAspan se gunstelingvideo kan elke week R5 000 tot en met die einde van Oktober wen. Om in te skryf, hoef jy net ’n kort video in Afrikaans te maak, dit op YouTube, Facebook of Instagram te laai met die hutsmerke #VIATV en #VIAWMJ. Stuur dan ook ’n skakel van die video na info@viatv.co.za.