Wetenskaplikes beskou visse as ’n belowende hulpmiddel in die ontwikkeling van nuwe soorte antidepressante.

Sebra-visse (Nemo’s, ja) word tans by die Troy-universiteit in Alabama, Amerika, gebruik vir die ontwikkeling van nuwe medikasie om die simptome van depressie by mense hok te slaan, berig The New York Times (www.nytimes.com).

Visse is blykbaar ’n betroubare “dier” om depressie te identifiseer. Want jy kan so duidelik sien as Nemo “af” voel. (Dory sal vergeet!) Gooi ’n sebra-vis in ’n nuwe vistenk. As hy binne vyf minute bo rondswem – die neiging as hy sy omgewing ontdek – is die wêreld reg. Nie so as hy in die onderste helfte skuil nie.

“Die brein-chemie (tussen vis en mens) stem só ooreen, dis skrikwekkend,” het Julian Pittman, professor in biologie en omgewingswetenskappe aan Troy, aan die koerant gesê.   

Vir enigeen wat al eerstehands ervaar het hoe dit voel as die swart hond op jou spoor is, kan dit dalk fishy klink. “Ons kan nie diere vra hoe hulle voel nie,” volgens dr. Diego Pizzagalli van die sentrum vir navorsing oor depressie, angs en stres aan Harvard se mediese skool. “Visse kan ook nie die volle spektrum van depressie soos ons ervaar nie.”

Maar die woord “depressie” is skynbaar die korrekte benaming vir Nemo en kie wat so laag swem. Want hulle verloor belangstelling in dinge soos kos, speelgoed en om hul omgewing te ontdek, nes ons. Kortom: depressiewe mense onttrek hulself. So ook visse.

Moenie Nemo vlak kyk nie. Sommige visse gebruik werktuie, ander herken gesigte. En ’n gebrek aan stimulasie blyk die grootste sondaar vir depressie by hulle te wees. Hulle is “van nature nuuskierig”. ’n Depressiewe vis is dalk net sowel ’n verveelde vis, as daar nie veel in sy tenk aangaan nie. Visse het plante nodig, hindernisse en ’n rotasie van nuwe voorwerpe om hul besig te hou.

’n Goudvis in ’n bak? Die ergste moontlike scenario, volgens die artikel.

Lees die volle artikel hier.

Bykomende bronne: www.nydailynews.com, washingtonpost.com