Leserstorie:

Leanne Belling van Durban het jare lank die wêreld vol gevlieg vir haar werk, sonder om ooit twee keer daaroor te dink. Totdat sy op ’n vliegtuig beland het wat deur weerlig getref is. “Daar was ’n knalgeluid, die vliegtuig het begin ruk en die kajuit was skielik vuurwarm.

Die vlieënier het gesê ons moet stywe klere losser maak en ons suurstofmaskers opsit. Die lugwaardinne het bleek rondgeskarrel. Mense het begin huil en saam gebid. Die vliegtuig het die res van die vlug geruk en gepluk. Toe ons land, hoor ons ’n enjin en ’n vlerk is beskadig – oral op die landingsbaan het noodvoertuie rondgestaan.”

Almal was veilig, maar Leanne het ’n vliegfobie ontwikkel. “Elke keer wanneer ons opstyg, het ek begin huil. Die hele vlug lank het ek paniekerig gevoel – naar, sweterig, met hartkloppings. My dokter het kalmeerpille voorgeskryf wat ek saam met báie alkohol gedrink het, maar niks het gehelp nie. Ek het selfs oorweeg om te bedank weens my fobie.”

Sy het vir hipnoterapie gegaan en ses maande later haar fobie oorkom. “Dit was ’n geleidelike proses, maar elke vlug was ’n bietjie makliker. As jy sukkel met ’n fobie, kry hulp. Dis nie nodig om so swaar te kry nie – jy kán daaroor kom!”

WAT IS ’N FOBIE?

Daniel Rabinowitz, kliniese sielkundige van Kaapstad, sê ’n fobie is ’n soort angsversteuring. “Dit verskil egter van ander angsversteurings omdat dit net een sneller het en jy nie angstig voel tensy jy daarmee gekonfronteer word nie. Die simptome is net so intens: hartkloppings, bewerigheid, oormatige sweet, koue rillings of hittegloede, borspyn, duiseligheid, naarheid of maagpyn, lamheid, en die gevoel dat iets jou wurg en jy nie asem kan kry nie.”

Vrees is normaal, maar as dit buite verhouding is tot die bedreiging en inmeng met jou daaglikse aktiwiteite, is dit ’n fobie. Mense weet ook gewoonlik hulle het ’n fobie, anders as in die geval van baie ander geestesversteurings, en sal uit hul pad gaan om dit te vermy. Jy het dalk ’n fobie vir klein of beknopte spasies (engtevrees) en sal eerder 30 stelle trappe aandurf as om in die hysbak te klim. Kom jy laat en sweterig aan vir ’n belangrike vergadering met ’n kliën it in met jou dagtaak en kan dit ’n probleem raak.

WAT IS DIE ALGEMEENSTE FOBIES?

Van die algemeenste fobies is dié vir water, tandartse, inspuitings, diere soos slange en spinnekoppe (vier keer meer vroue as mans sukkel hiermee), beknopte spasies en hoogtes, maar Daniel sê daar is soveel fobies soos wat daar dinge in die wêreld is. “Dis nie rasioneel nie, en daarom kan die kleinste,

HOEKOM HET NET SEKERE MENSE FOBIES?

Dis soos om te vra hoekom een mens ’n gesondheidsprobleem het en ’n ander nie, sê Welmoet Bok, kliniese sielkundige en gesinsbemiddelaar van Kaapstad. “Vrees speel ’n evolusionêre rol – spesies wat bang is vir die regte dinge, oorleef. Maar by party mense gebeur iets in die brein wat maak dat hulle fikseer op één bedreiging. Baie dinge speel ’n rol in die proses – jou gene, breinchemie, of ’n traumatiese voorval. As jy as kind byvoorbeeld byna verdrink het, kan jy ’n waterfobie ontwikkel.”

Andrea Kellerman, ’n opvoedkundige sielkundige en hipnoterapeut van Durban, sê mense wat tot depressie en angstigheid geneig is, het ook meer dikwels fobies. “Dit begin gewoonlik al in die tienerjare of vroeë volwasse jare, wanneer jy meer bewus word van jou emosies. Dis min dat ’n fobie eers ná 30 ontwikkel, maar dit kan gebeur.”

fobie
FOTO Getty Images / Gallo Images

MAAK SÓ OM DIT TE BEHEER

Die stappe om ’n fobie te beheer is dieselfde vir byna alle snellers:

1. Verstaan jou vrees. As jy byvoorbeeld bang is om te vlieg, dink na oor wat dit is wat jou eintlik pla, sê Andrea. Is jy bang vir hoogtes? Vir die onstuimigheid? Om nie beheer te hê nie? Wat kan die oorsaak wees – het jy ’n nare ondervinding op ’n vlug gehad, of selfs een in ’n fliek gesien?

2. Vind meer uit daaroor. Hoewel fobies nie rasioneel is nie, help dit sommige mense om meer daaroor te weet omdat die onbekende jou vrese kan vererger. Vind uit hoe vliegtuie werk, watter spinnekoppe giftig is, of lees na oor die grot wat julle besoek.

3. Begin klein. Stel jouself stelselmatig meer aan jou vrees bloot. Wees kreatief en dink aan maniere om jou vrees in klein “porsies” te oorkom, sê Daniel:

  • Het jy engtevrees, kan jy eers vir kort rukkies in ’n klein stoorkamer of klerekas gaan sit of selfs ’n kussingsloop oor jou kop trek en jouself só gemakliker maak tot jy byvoorbeeld die dag ’n groot grot en dan ’n kleiner grot kan besoek.
  • Indien jy bang is vir vlieg omdat jy dan nie beheer het nie, kan jy dalk busry of ker voel, of selfs vlieglesse oorweeg.
  • As spinnekoppe die probleem is, kyk eers na video’s en besoek dan ’n dieretuin waar spinnekoppe veilig agter glas is.
  • Vir ’n waterfobie kan jy in vlak damme of riviere begin swem, of selfs net eers jou bene in die water sit, en stadigaan dieper swem tot jy veiliger voel om byvoorbeeld tussen die kleiner branders in die see te wees.

4. Let op jou vordering. ’n Fobie moet afgeleer word, eerder as oorkom word, sê Andrea. Dus is dit belangrik om elke keer te let op jou vordering en trots te wees daarop. Dís hoe jy jou brein leer om nuwe gevoelens en gedagtes aan die vrees te koppel. Hoe meer jy oefen om só die positiewe in die situasie te sien, hoe makliker gaan dit elke keer word.

IN DIE OOMBLIK

Om oor ’n fobie te kom is ’n proses. Gebruik dié tegnieke om jouself te kalmeer terwyl jy daaraan werk, sê Andrea:

  • Haal diep asem. “Jy besef dit nie eens nie, maar jy hou waarskynlik jou asem op as jy bang is en die tekort aan suurstof dra by tot jou gevoel van paniek. Fokus daarop om diep en eweredig asem te haal.”
  • Kyk om jou. Identifiseer vier dinge wat jy kan voel, drie wat jy kan hoor, twee reuke en een smaak. Dit lei jou aandag af en help jou om in die oomblik te leef, waar jy wél veilig is – anders as die toneel wat waarskynlik in jou kop afspeel.

HOE OM NIÉ TE MAAK NIE

Dit help nie om met ’n fobie te redeneer nie. “Fobies aktiveer jou oerbrein. Dis nie ’n rasionele deel van die brein nie, maar dis só kragtig dat dit die res van jou brein ‘kaap’. Om vir jouself te sê dis irrasioneel of simpel is soos om jou groot neus só te probeer wegwens. Boonop gaan dit jou net nog méér hulpeloos laat voel,” verduidelik Daniel.

KAN JY RÉGTIG ’N FOBIE AFLEER?

Ja! Hieroor is die kenners dit eens. “Baie mense wil nie hulp kry nie omdat hulle bang is selfs dié proses sal angswekkend wees,” sê Welmoet. “Maar ’n kenner sal seker maak jy is deurentyd gemaklik terwyl jy jou fobie afleer. Trek jy kop uit, word die fobie gewoonlik net erger.”

Oorweeg hipnoterapie, kognitiewe gedragsterapie (waar ’n sielkundige jou help om eers die vrees te verstaan en dan die patroon te verbreek) of blootstellingsterapie (waar ’n sielkundige jou help om ’n program uit te werk wat jou geleidelik meer aan die fobie blootstel).

KONTAK:

Welmoet Bok: www.bgpsychologists.co.za

Andrea Kellerman: www.eq-advantedge.co.za

Daniel Rabinowitz: www.danielpsychologist.com