En die woord van die jaar? Fake news. Die Collins-woordeboek het dit gister aangewys en sal in hul volgende bygewerkte uitgawe verskyn, lees meer hier.

Wat is fopnuus?

Elkeen met ’n selfoon is deesdae ’n joernalis. Maar wat as feite nie toegelaat word om met ’n sappige storie in te meng nie? Die een gehoor van die piesangs wat met MIV besmet is? Mos die handewerk van die “bose” dokter wat die virus oorspronklik geskep het. En dis nou op ons winkelrakke! Snert, ja, tog het baie mense dit op sosiale media gedeel. Die vals gerug oor aartsbiskop Desmond Tutu se dood was moeiliker om as sodanig te eien. Hy was pas uit die hospitaal en baie siek.

“Kan jy alles glo wat so as riller opgedis word?” vra tannie Evita Bezuidenhout, wat ons help lag vir dinge wat ons bang maak, op Netwerk24. Nuus was altyd kil en koud, sonder fanfare, of MGM-musiek op die agtergrond. Deesdae word “brekende nuus” egter vergesel van Beethoven se Negende Simfonie, sê sy.

FOTO Rawpixel

Fopnuus (fake news) is ’n nuutjie in ons woordeskat. Dit gee voor om ware feite te wees, maar is enigiets van satire (wat ernstig opgeneem word) tot propaganda, skryf prof. Lizette Rabe, voorsitter van die departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, in ’n onlangse artikel op Netwerk24. In Hollands is dit nepnieuws – “nep” beteken “bedrieg”.

Dis ’n ou slimstreek in die gesondheidsveld. “Verloor drie kilogram binne drie uur met ons ongelooflike wonderwerkpil!”; “Sit die fut terug in jou liefdeslewe met ons onverbeterlike oer-Indiaanse liefdesdoepa!” Daar’s mos niks nuuts onder die son nie. My oupa het graag vertel van die kruiedokter waarna vroue gestroom het – sy pilletjies het jou gewig laat verloor ... en verloor ... Lintwurmeiertjies gewees. Stadslegende? Sweerlik.

FOTO William Iven

Toe was die internet net ’n wetenskapfiksie-droom. Nou is dit die wind in sulke bogstories se seile. Mense reageer, deel dit, braak gal, verdedig dit in die kuberruim. Eers was hoofsaaklik glanspersoonlikhede die teiken van dié doelbewuste verdraaiings of verdigsels. Onlangs weer moes ons hoor van Bryan Habana se “afsterwe”.

Die Amerikaanse verkiesing het egter die kollig laat val op die gesmokkel met die waarheid vir politieke gewin, sê Verlie Oosthuizen van die prokureursfirma Shepstone en Wylie se afdeling vir sosiale media (www.wylie.co.za).

Die getrompetter van vals stories moes Donald Trump se volgelinge se geloof in hom versterk, wei prof. Rabe uit. Hillary Clinton is ’n satanis en haar dogter ’n skelmpie se kind. Tot die pous het kastig Trump as kandidaat ondersteun. Trump self beskryf natuurlik enige storie waarvan hy nie hou of nie mee saamstem nie as fopnuus.

FOTO Yolanda Sun

Dit het ’n manier geword om propaganda vir jou spesifieke saak uit te saai.

Dion Chang, tendenskenner, omskryf dit kleurryk op News24.com: “Dit het gegroei en soos ’n bakteriële spoor versprei, met ’n onvoorspelbare politieke arena wat as warm en vogtige petribakkie dien. Brexit, die Amerikaanse verkiesing en selfs ons plaaslike munisipale stemmery is geraak deur dié manier van moddergooiery.”

Verlede jaar is onthul hoe ’n fop-“Twitter-weermag” die Gupta-agenda ter plaatse bevorder. Die onlangse bekendmaking van e-posse wat illustreer hoe diep die omstrede familie se hande in die staatskas is, word (gerieflik) deur hulle as fopnuus uitgekryt.

Die opkoms van regse en linkse populisme dra by tot die skep en verspreiding van fopnuus, volgens prof. Rabe. Met die internet ’n gerieflike megafoon vir propaganda. Sy verwys na een ondersoek waarin bevind is drie groot regse webwerwe se Facebook-boodskappe tydens die Amerikaanse verkiesing het 38% vals feite, of ’n mengsel van vals en ware feite, gedra. “Dit was juis dié inligting wat viraal versprei het.”

Volgens BuzzFeed is fopnuus drie weke voor die Amerikaanse verkiesing meer gedeel en bespreek as dié deur tradisionele nuusmedia soos The New York Times en The Washington Post.

Plaaslik het ons byvoorbeeld die City Sun, wat op die rug ry van die poniekoerante Daily Sun en Sunday Sun se handelsname.

“In wese is dit niks anders nie as ’n propaganda-webwerf vir die ANC, maar dit lyk soos ’n egte nuuswerf,” sê prof. Rabe. Niks nuuts nie. “Ons weet hoe hoofstroommedia oor die wêreld heen, nie net in Suid-Afrika nie, in die verlede verskeie politiek-ekonomiese belange gedien het. En daarmee natuurlik ook propagandiste vir ’n spesifieke boodskap was.”

Die internasionale korrespondent Christiane Amanpour beskryf fopnuus as ’n “tsoenami”. Sy waarsku dit gaan die volgende kritieke verkiesings in Europa, soos dié in Duitsland en Frankryk, beïnvloed. Emmanuel Macron, die nuwe Franse president, was knap voor die presidentsverkiesing die slagoffer van ’n “reuse- en gekoördineerde” kuberkraak-veldtog.