Die hartseer nuus van die SAUK-8-joernalis Suna Venter (32) se skielike dood het skokgolwe deur die mediawêreld gestuur. Haar liggaam is Donderdagoggend in haar woonstel in Fairland, Johannesburg, gevind. 

Luidens ’n mediaverklaring deur haar familie is Suna vroeër vanjaar met die harttoestand streskardiomiopatie of "gebrokehart-sindroom" gediagnoseer.

Haar kollega Foeta Krige, ook een van die agt SAUK-werknemers wat verlede jaar afgedank is nadat hulle beswaar gemaak het teen ’n beleid om nie gewelddadige protes op TV te wys nie, is oortuig dat die drama by die korporasie tot haar dood bygedra het, berig Netwerk24.

FOTO Facebook / Suna Venter

Wat is gebrokehart-sindroom?

Kardiomiopatie veroorsaak vervorming van die hart. Dit word deur stres en trauma vererger, berig Netwerk24.

In ’n artikel wat in Augustus 2016 in SARIE verskyn het, verduidelik dr. Wilmé Steenekamp, mediese dokter en kliniese sielkundige van Potchefstroom, die toestand só: Streshormone soos kortisol en adrenalien berei die liggaam voor op ’n komende uitdaging. Die uitdaging kan fisiek van aard wees, maar ook emosioneel, soos met die verbreking van ’n verhouding, die dood van ’n geliefde of verwerping. Die hart is veral baie sensitief vir kortisol en adrenalien se werking. Sommige mense se hart “breek” dan ook letterlik.

’n Paar jaar gelede het ’n groep dokters by die Johns Hopkins-universiteit in Baltimore, Amerika, verslag gedoen oor ’n seldsame maar potensieel dodelike harttoestand wat deur akute emosionele of fisieke stres veroorsaak word. Stresverwante kardiomiopatie gebeur skielik – die hartspier se vermoë om saam te trek verminder tydelik. Die media het dit gebrokehart-sindroom gedoop. Dis eerste waargeneem by vroue wat ’n traumatiese emosionele gebeurtenis beleef, soos die dood van haar man, volgens heart.org, die webtuiste van die Amerikaanse hartstigting.

Grafiek Maresa Pretorius

Vroue is dan ook meer geneig as mans om die skielike, intense borspyn - die reaksie op ’n opwelling van streshormone - ná ’n stresvolle gebeurtenis te kry. Emosioneel kan dit die dood van ’n geliefde wees, egskeiding, argument, verraad of verwerping. Fisiek weens beroerte, probleme met asemhaling (bv. weens asma of emfiseem) en hewige bloeding. Eintlik enige gebeurtenis wat ’n skokreaksie by jou ontlok. Selfs ’n “lekker” een, soos as jy die Lotto wen. Dit word gevind by 2% van mense wat ’n koronêre angiogram kry omdat ’n hartaanval vermoed word, maar dis vir seker ondergediagnoseer, volgens die webtuiste sciencealert.com.

Dit kan verkeerdelik as ’n hartaanval gediagnoseer word omdat die simptome dieselfde is, verduidelik heart.org. Maar anders as ’n hartaanval, is daar geen teken van verstopte slagare nie. By gebrokehart-sindroom vergroot die linkerkantse hartkamer tydelik en pomp stadiger. Die res van jou hart funksioneer normaal, of het selfs meer kragtige sametrekkings. Dit kan lei tot ernstige korttermynhartversaking. In uitsonderlike gevalle selfs jou dood.

Maar meestal is dit behandelbaar. Die hartspier word nie permanent beskadig nie en die meeste mense herstel heeltemal binne ’n paar weke. Die risiko is boonop laag dat dit weer gebeur, volgens heart.org.

Simptome

Dit kan soortgelyk wees van die van ’n hartaanval, insluitend angina (borspyn), kortasem en lae bloeddruk. Ook arritmie (ongereelde hartklop) en kardiogeniese skok (’n skielik verswakte hart kan nie genoeg bloed voorsien vir die liggaam se behoeftes nie en dít kan dodelik wees), sê heart.org. Kry jy gereeld simptome soos kortasem en borspyn as jy stres, gaan dokter toe vir toetse. Die kans is egter skraal dat dit gebrokehart-sindroom is.

Tot die dood ons skei - of nie?

Die aantal ouer mense wat ’n hartaanval of beroerte ’n maand ná ’n geliefde se dood kry, is dubbel soveel as by mense wat nie rou nie, volgens ’n studie in die Journal of the American Medical Association (JAMA). “Ons gebruik dikwels die term ‘’n gebroke hart’ om die pyn te beskryf ná die dood van ’n geliefde. Ons studie wys so ’n verlies kan ’n direkte uitwerking op jou hart se gesondheid hê,” volgens een van die navorsers. Dit geld vir alle hartkwale, nie net gebrokehart-sindroom nie. Nog navorsing, in die internasionale joernaal Plos One, suggereer mense bo 65 het ’n groter risiko om te sterf tot ses maande ná hul wederhelf se dood. Net die hospitalisering van ’n eggenoot kan ’n bejaarde se risiko op dood vergroot, volgens die Amerikaanse joernaal New England Journal of Medicine.

Bron: www.bbc.com