’n Heavy metal-konsert. ’n Elektriese kitaar verpletter die laaste akkoorde van ’n luide, aggressiewe solo. Swymel jy: “Dis koel!” Of stuur jy saggies ’n dankgebedjie op dat dit uiteindelik klaar is?

Wat van die strelende, ontspannende note van ’n akoestiese kitaar? Laat dit jou hart van vreugde bons? Of gaap, jy wil slaap want dis net só vervelig?

Glo dit of nie, jou antwoord verklap baie van jou persoonlikheid, volgens navorsing wat in die joernaal PLOS ONE gepubliseer is.

Die mensdom kan in twee groepe verdeel word: Dié wat van reëls en orde hou en dié wat meer deur hul emosies gelei word, sê die hoof-outeur David Greenberg, ’n sielkundige aan die Cambridge-universiteit en jazz-saksofoonspeler aan The Telegraph.

Elkeen van die groepe verkies ’n sekere soort musiek. Die gevoelsmens hou van romantiese, ontspannende musiek wat diep emosies ontlok, hetsy positief of negatief. Soos Jeff Buckley se “Hallelujah,” Norah Jones se “Come Away With Me,” en Queen se “Crazy Little Thing Called Love.”

Terwyl die logiese ouens wat op die kleinste detail inzoem, weer na tegnies komplekse musiek luister. Intense genres soos punk and heavy metal, byvoorbeeld die Sex Pistols se “God Save The Queen” en Metallica se “Enter Sandman”. Ook klassieke musiek en jazz.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Mense wat van rustige én intense musiek hou, het eienskappe van albei groepe en is dus meer “gebalanseerd” in hul denke.

Die teorie is dat gevoelsmense belangstel in musiek se emosionele eienskappe en hoe dit hulle laat voel. Hul logiese, sistematiese maters weer, in die strukturele eienskappe. “Hulle fokus meer op die instrumentele elemente, hoe die musiek saamgevoeg is. Dis amper soos ’n musikale legkaart wat hulle bymekaarsit,” volgens Greenberg aan CNN.

Die meer logiese groep kies beroepe in die wiskunde en wetenskap: Die weerkundige wat vinnig ontwikkelende weerpatrone ontleed; die geoloog wat onmeetlike tydruimtes se geheimenisse ontknoop om te bepaal hoe ’n berg gevorm is, volgens CNN.

Gevoelsmense weer, is geneig om goeie luisteraars te wees. Jy kan jou in iemand anders se skoene plaas. Dis nie te sê die meer logiese groep kan dit nie doen nie, hulle het nie noodwendig ’n gebrek aan empatie nie. Maar hul vermoë om dinge te sistematiseer, is net nog beter, sê Greenberg.

Die navorsers het sowat 4 000 proefpersone gedetailleerde vrae oor hul denkstyl gevra. Daarna is hul musieksmaak geanaliseer. Hulle moes na 50 verskillende liedjies uit ’n wye verskeidenheid genres geluister en sê waarvan hulle die meeste hou. Die navorsers het voorsiening gemaak vir ouderdom, geslag en ander faktore.

In watter groep val jy? Voltooi die navorsers se vraelys hier.

Bykomende bron: Quartz