Val jy vir jou beste vriend, of verkies jy die ridder? Dalk raak jy verlief op die afvlerk-siel of maak die stoutseun jou opgewonde. Jou gunsteling-fliekheld verklap baie van jóú en die soort man wat jou trek.

Volle anderhalf uur lank is jy deel van sy wêreld. Hy voer jou mee na ’n plek waar jy kan vergeet van jou sorge. Jy is, sonder dat jy énigiets hoef te doen (dalk ’n paar peuselhappies geniet!) as’t ware in sy hande.

Vir party van ons is ’n gunsteling- romantiese komedie of drama ’n gereelde ritueel. Ons swymel en raak van voor af verlief op die held in die fliek … vir die soveelste keer.

So, hoe lyk die helde in jóú wêreld?

En jou keuse verklap als.

Die stoutseun

FOTO Instagram

In 2001 tref die skreeusnaakse enkelloper Bridget Jones (Renée Zellweger) en stoutseun Daniel Cleaver (Hugh Grant) die grootskerm in Bridget Jones’s Diary. Sy val holderstebolder vir sy vleitaal, want hy is pittig, sjarmant, kafoefel vir ’n vale, maar laat haar telkens in die steek.

Sy aantrekkingskrag?

Hy is gewoonlik avontuurlustig, speels en spontaan. Eienskappe wat vroue kan bekoor. 

Wat verklap dit van jóú?

As jy geneig is om baie ernstig te wees, word jy dalk aangetrek deur dié soort mans, juis omdat hy jou blootstel aan die ligter sy van die lewe. Dalk sien jy hom as ’n lekker uitdaging. Sy wisselvalligheid en die feit dat hy kanse waag maak hom interessant. Miskien kan jy hom “tem”.

Waarop moet jy bedag wees? 

As julle nie bereid is om by mekaar te leer nie, sal hy net die stoutseun bly en moontlik nog “stouter” word. Jy sal dalk nog meer in die “hoofmeisie”-tipe verander en kwaaier optree. As die verlief-fase ná sowat 18 maande oorwaai, kan jy juis sy speelsheid en geneigdheid om planne op die ingewing te verander ervaar as onbetrokkenheid of dat hy nie ernstig genoeg oor jul verhouding is nie. Dit kan daartoe lei dat jy hom begin wantrou.

Hoe kan jy jul verhouding laat werk?

As jy gedurig op die stoutseun verlief raak, moet jy jouself eerlik afvra: Wat bied hy nou eintlik? Die eienskappe waarop jy verlief raak gaan jou moontlik later irriteer. Dis dalk in die begin van die verhouding opwindend dat hy kanse waag en jou aan ’n lyntjie hou. Maar as dit só aanhou, gaan jy later onseker raak. Dis dus nodig dat julle baie goed kommunikeer. Besef ook dat julle nie jul persoonlikhede kan verander nie. As jou persoonlikheid meer ernstig is en hy is “stout”, kan julle wel ’n ander kant van julself ontdek en koester, eerder as om sekere aspekte van mekaar te probeer onderdruk. Maar dan moet jy en hy albei bereid wees om dit te doen.

Kommentaar: Izelle van Zyl, verhoudingsterapeut van Kaapstad

Die ridder

FOTO Instagram

Een van die gewildste liefdesflieks ooit was sekerlik Pretty Woman in 1990, met Richard Gere en Julia Roberts in die hoofrolle. Die ryk sakeman Edward Lewis huur die dienste van die Hollywood-prostituut Vivian Ward vir ’n week, gee haar 'n make-over en raak dan verlief op haar. Gere se karakter is die versinnebeelding van die moderne ridder op die wit perd, baie dogtertjies se droomman ...

Sy aantrekkingskrag?

Hy verteenwoordig ’n kindertydsprokie. Die “prins” wat jou uit die toring kom red, wat jou op die hande dra. Jy is sy prinses, hy sal jou ondersteun, emosioneel en geldelik. Hy is gewoonlik aantreklik, het hope sjarme en charisma. Vroue wat ’n groot heldeverering vir hul pa het, hou dikwels van dié soort mans.

Wat verklap dit van jóú?

Jy hou van romanse en wil veilig en geborge voel. Mans moet jou op die hande dra en jy glo aan sterk gedefinieerde tradisionele manlike en vroulike rolle. Jy wil ’n man bewonder.

Waarop moet jy bedag wees?

Waak teen oorafhanklikheid. Behou jou eie identiteit. Speel die spel slim. Hy kan dínk hy neem al die besluite, maar jy kan dit só “bestuur” dat jy in die stilligheid ook ’n sê het. Behou jou eie belangstellings en moet nie net fokus op jul eie “koninkryk” nie. Bly altyd interessant vir hom (en vir jouself).

Hoe kan jy jul verhouding laat werk?

Gee hom báie erkenning. Hy hou daarvan om wonderlik te voel in sy vrou se oë. Hoe meer jy hom boost, hoe sterker is sy beskermingsdrang teenoor jou. Dit gaan nie soseer oor wat jy vir hóm doen nie. Eerder op hoe jy reageer op wat hy vir jóú doen. Maak seker dat jy hom toelaat om die ridder te bly. Laat hom toe om die motordeur vir jou oop te maak. Jy sal op die ou einde die vrugte pluk.

Kommentaar: Elmari Mulder Craig, seksuoloog en verhoudingskenner van Pretoria

Die beste vriend

FOTO Instagram

Wie kan die 1989-lokettreffer When Harry Met Sally vergeet? Sally Albright (Meg Ryan) en Harry Burns (Billy Crystal) was aanvanklik net vriende. Maar soos dikwels in die lewe gebeur verander ’n platoniese verhouding in ware liefde wat dan op ’n huwelik uitloop.

Sy aantrekkingskrag?

Vroue hou dikwels van hul beste vriend, want hy laat hulle veilig voel. Sulke verhoudings is gemaklik en gemoedelik. Hulle bring gewoonlik baie tyd saam deur en deel belangstellings.

Wat verklap dit van jóú?

Jy hou van goeie kommunikasie en om tyd saam met jou maat deur te bring. Jou “liefdestaal” is gehaltetyd.

Waarop moet jy bedag wees?

Doen ekstra moeite om die seksuele vonk in dié verhouding lewend te hou. Vriendskap is belangrik, maar as julle te gemaklik met mekaar is, kan dit vervelig raak. Stel seks soms éérste voor en probeer rolspel: Sit byvoorbeeld ’n blonde pruik op en speel jy is ’n sexy vrou in ’n restaurant. Jy moet probeer om meer sensueel te wees en nie nét die maat te wees wat saam met jou man tennis speel nie. Seksuele hulpmiddels kan dinge ook interessant maak.

Hoe kan jy jul verhouding laat werk?

Dié verhoudings se boustene is dikwels gegrond op respek, gehaltetyd en doeltreffende kommunikasie. Koester dit en bou daarop voort.

Kommentaar: Elmari Mulder Craig

Die afvlerk-man

FOTO Instagram

Vroue reg oor die wêreld wou Sam Baldwin (Tom Hanks) in Sleepless in Seattle (1993) troos nadat sy vrou aan kanker dood is. Boonop moes dié treurende pa sy seuntjie, Jonah (Ross Malinger), help aanpas in ’n nuwe stad. Gelukkig het Annie Reed (Meg Ryan) op die toneel verskyn.

Sy aantrekkingskrag?

Vroue hou daarvan om so ’n man te “red”. Hy lyk weerloos, asof hy aandag en baie liefde nodig het. Moederlike, koesterende vroue hou van die afvlerk-man.

Wat verklap dit van jóú?

Jy wil voel jy beteken iets, iemand het jou nodig. Dis soms ’n onbewustelike manier om jou eie seer en trauma te probeer hanteer. Jy bevind jou dalk selfs in ’n huwelik waar jy op verskeie maniere mishandel word, of jou man of maat is ’n alkoholis of in die greep van ’n ander verslawing.

Waarop moet jy bedag wees?

Waak daarteen om te veel te fokus op jou afvlerk-maat en in die proses self die slagoffer van jou omstandighede te word. Onthou, jy wil hê hy moet homself kan help en sodoende groei en ontwikkel. Stel gesonde grense in die verhouding. Doen jy dit nié, sal jy misbruik word.

Hoe kan jy jul verhouding laat werk?

Dis goed om jou omgee-kant te ontwikkel. Maar wees bewus van wat jy self moet leer. Jy moet eerstens jou eie seer erken en jóú emosionele probleme probeer oplos. Jy het self nodig om te genees.

Kommentaar: Elmari Mulder Craig

Die swerwer

FOTO Instagram

Een van die mooiste liefdestonele was sekerlik toe Denys Finch Hatton (Robert Redford) sy minnares, Karen Blixen (Meryl Streep), se hare in die romantiese drama Out of Africa (1985) in die buitelug op ’n plaas in Kenia was. Hy is die liefde van haar lewe, maar ’n tipiese rolling stone, ’n swerwer. Hy verlaat haar, belowe om terug te keer, maar sterf in ’n vliegongeluk.

Sy aantrekkingskrag?

Hy het ’n behoefte om die wêreld te verken en hou nie daarvan om ingeperk te word nie. Hy is soms passief-aggressief, dog interessant, avontuurlik, onafhanklik, rebels, dapper, en kies beroepe wat nie inpas by die “hoofstroom’’ nie, soos oorlogsfotografie. Redes vir dié gedrag is moontlik ’n vrees om hom permanent tot ’n verhouding te verbind.

Wat verklap dit van jóú?

Jy beskou dié ou dalk as ’n uitdaging. Dikwels raak afhanklike vroue op dié soort mans verlief. Jy glo dikwels hoe meer onafhanklik jy optree, hoe groter is die kans dat jy hom verloor. Jy sal dus dikwels opofferings maak of die vrede probeer bewaar. Enigiets, solank hy jou net nie verlaat nie.

Waarop moet jy bedag wees?

Jou vrees vir alleenwees en gepaardgaande afhanklikheid kan net soveel bydra tot probleme in die verhouding as die swerwer se vrees vir “intimiteit”. Die swerwer moet weer besef dat hy eintlik ’n sterk behoefte aan intimiteit het, maar weens die vrees om sy onafhanklikheid te verloor het hy homself geleer om dit te ontken of te onderdruk.

Hoe kan jy jul verhouding laat werk?

Moenie mekaar probeer verander nie. Maar wees nugter: Die moontlikheid bestaan dat die swerwer jou op die duur kan beskou as te behoeftig en onseker. Jy sal hom waarskynlik op die duur beskou as onbetrokke en afsydig. Moet hom geensins probeer inperk nie. Weens jul verskille kan die verhouding soms van korte duur wees.

Kommentaar: Izelle van Zyl