Water én wind – hetsy ’n briesie of stormsterk. Karo van Tonder van Langebaan kan nie genoeg kry nie. Dis élke keer anders, dis wat seilplankry so verslawend maak, sê sy.

“Soms loop die wind en gety saam en die strandmeer by ons is blinkglad ... Jy kan jou oë toemaak terwyl jy oor die water vlieg en na die seemeeue luister. Ander dae steek so ’n sterk noordwester op dat jy met jou seilplank soos ’n cowboy oor groot golwe spring terwyl die adrenalien pomp!”

Op die water is Karo altyd gelukkig, en as dit boonop met ’n uitdaging gepaardgaan, skop haar kompetisie-instink en dryfkrag in. 

Verlede jaar op Mauritius het sy die eerste vrou ter wêreld geword wat op die oop see ’n 80 km-resies op haar seilplank aflê. Met ons ter perse gaan was sy weer daarheen op pad – dié keer om 100 km aan te pak. 

FOTO: Instagram / @karo.vantonder

Sy het hard aan haar stamina gewerk en emosioneel goed voorberei, vertel Karo. “Verlede jaar was die eerste 20 km op die water fantasties. Die see was diepblou, ek kon my verkyk. Later het dit soveel inspanning geverg, ek moes nét fokus. Ek het heeltemal alleen gevoel, almal was kilometers uitmekaar. Jou kop moet sterk wees, want jou liggaam raak oneindig moeg. Ek het nie eens by die waterpunte afgespring om iets te drink nie, want ek het geweet ek sou kwalik die krag hê om weer op te klim.” 

Sowat die helfte van die deelnemers het voor die eindpunt tou opgegooi, maar Karo het deurgedruk, veral toe sy haar pa doer op die strand sien wag. “Ons het albei in trane uitgebars toe ek klaarmaak!” 

Haar pa, Joos Bester, het sy sportiewe tomboy-dogter altyd Desembervakansies op Langebaan op die water touwys gemaak. (Die gesin het op George gewoon.) Karo se man, Charl, was aanvanklik haar seilplankry-afrigter toe hulle albei nog tieners was. Ná hul troue het die twee op Langebaan kom woon. “Ons is seker van die min inwoners wat hier is vír die wind!” sê Karo.

FOTO: Instagram / @karo.vantonder

Charl is ’n ingenieur en sy het ’n besige troukoek-onderneming, maar as hulle ’n naweek oop het, gaan die twee soms by Elandsbaai, so ’n uur van daar, seil. “Die berg daar maak dat sterk winde deurwarrel wanneer daar nie eens op Langebaan wind is nie. Soms is die branders so groot, jou adrenalien skiet deur die dak.

Ek is mal daaroor om saam met my man dié avonture aan te pak.” Dis ’n ander wêreld. “Jy hoor die geklots van die water, jy voel jy léwe, jy is na aan die natuur ... As ek terugkom aarde toe ná so ’n sessie, voel elke probleem wat ek gehad het, kleiner. Ek sal aanhou tot ek stokoud is, hoewel dalk nie meer vyf uur elke dag nie!”

Karo het altyd aan pret-resiese deelgeneem, maar eers internasionaal begin meeding nadat die SA agent van Severne, ’n top- internasionale seilvervaardiger, haar toevallig twee en ’n half jaar terug op die strandmeer raakgesien het. “As jy op daardie vlak wil deelneem, moet jy dié beste seile en borde hê. Nou het ek. Ek is bevoorreg dat dinge vir my in plek geval het.”

Dit verg steeds inténse oefening, veral omdat sy in Suid-Afrika meestal teen mans meeding. “Ek is soms gaar omdat ek twee keer so hard moet oefen. Maar terug op land is almal beste vriende. Hulle is soos my windsurf-familie.”

Haar volgende doelwit is die Lüderitz Speed Challenge in Oktober, waar die voorste seil- en vlieërplankryers van oor die wêreld byeenkom. Sy het verlede jaar daar die eerste amptelike Afrikaspoedrekord vir vroue opgestel. 

Getrou aan haar aard – daar is áltyd nog ’n uitdaging – werk Karo nou ook aan ’n nuwe loopbaangeleentheid, waar sy haar graad in voedselwetenskap kombineer met haar ervaring as sportvrou. Sy het reeds ’n blog, en brei dit nou uit met ’n fokus op voeding, soos om die regte dieet vir ’n spesifieke leefstyl of sportprogram te ontwikkel. Soos enigiets wat sy aanpak, hetsy ’n reuse-deining of ingewikkelde troukoek, is dit mind over matter: Karo doen dit net.

Besoek karolife.com.