Dis byna soos jou eerste soen, beskryf die 18-jarige model van Bloemfontein die gevoel voor sy op die loopplank in modestede soos Milaan en Parys uitstap en moet skitter.

“Ek is net 200 000 keer meer senuweeagtig. Maar dis die soort opwinding wat lei tot ongekende vreugde. Jy stap uit, die ligte skyn op jou, en dis jóú oomblik,” het sy aan W24 gesê.

Ansolet is deur ’n Kaapse modelagentskap op Instagram ontdek. Sy glo in haarself, wil nie iets probeer wees wat sy nie is nie. En sy het gou geleer: jy is sterker as wat jy dink. “As jy by ’n oudisie kom en jy sien groot name soos Kaia Gerber, kan jy in jouself begin twyfel. But you need to own it.”

Net Chanel het haar ontwyk. Maar toe die legendariese Karl Lagerfeld, kreatiewe reus van dié topmodehuis, vroeër vanjaar by die keuring vir ’n Paryse modevertoning was, het sy vir haarself gesê: “Dís jou kans, Ansolet!”

Sy het na hom gestap en haarself voorgestel. Daarna het sy die oproep gekry – sy was ín. 

Bronne: W24, SARIE