Vrydagmiddae ná skool was die Buitendags se blou Kombi reeds gepak. Dan skiet “ma, pa, boeties, sussie, hond en surfboards” deur na Stilbaai of die Weskus, of waar ook al die beste branders is. Maandagoggend vieruur vat die gesin weer die pad terug...

“Ek was seker so nege, tien, maar ek onthou dit só goed,” vertel Bianca Buitendag, die sussie in die prentjie. “As ons dan Maandagoggend so effe oes by die skool in die Strand aankom en juffrou wil weet hoekom so laat, dan sê ons: Maar Juffrou, die swell het eers gisteraand gekom!” 

FOTO: Instagram / @biancabuitendag

Deesdae is Bianca ’n professionele branderplankryer. Sy het kort ná matriek in 2012 vir die Wêreldbranderryliga (WSL) se kampioenskapstoer gekwalifiseer; een van net 17 vroue wêreldwyd wat jaarliks aan tot 16 byeenkomste deelneem. Vanjaar is sy besig met haar graad in finansies en rekeningkunde, en neem sy net op uitnodiging deel. Sy was juis in Julie op Jeffreysbaai vir ’n byeenkoms. 

Vandat sy kan onthou, was die oseaan deel van haar lewe. Haar ingenieurpa, Colin, het vir Suid-Afrika branderplank gery en haar ma, Yvette, ’n argitek en kranige tennisspeler, het gou die boogie board bemeester toe sy besef dat haar kêrel geen ball sense het nie. Op drie was Bianca tuis in die see en op ses het sy begin branderplank ry. 

Toe die gesin eers in haar hoërskooljare na Victoriabaai in die Suid-Kaap verhuis, letterlik tien meter van die see, was daar geen keer aan haar nie. Sy’t in die water geboer en van dertien af drie keer per jaar in Europa deelgeneem.

Sy’s eintlik amfibies, sê sy. “Ek is meer gemaklik in die see as op land. Ná ’n week sonder seewater voel ek asof ek nie asem kan kry nie. Net tien minute se swem in die golwe, dan is ek reg. Onder water verdwyn die hele wêreld. In ’n swembad voel ek ingehok, ek hou van die vryheid en wildheid van die oseaan.”

_______ @roxy Photo @t_kothlow

A post shared by bianca buitendag (@biancabuitendag) on

Deur die jare het Bianca al van Hawaii tot Australië se branders aangedurf. Sy het ’n paar gunstelinge. Soos Swakopmund. “Dis so opwindend om daar te kom – jy land in die woestyn met jou propeller-vliegtuigie. En mense kom van oraloor vir daai ronde, sterk branders wat twee kilometer ver aanmekaar breek. Jou bene brand later van die inspanning!”

Fidji is altyd spesiaal, dis nog primitief en tradisioneel, vertel sy. “Dis in die uithoekie van die wêreld, vier vlugte tot daar. Jy vaar 45 minute met ’n bootjie tot jy afspring in die see . . . Jy kan dwarsdeur die branders sien, tot die vissies onder jou.”

Bianca is deesdae vier maande van die jaar in Suid-Afrika en agt maande op die dorp Capbreton in die suidweste van Frankryk, waar sy vir haar ’n huisie gekoop het. 

In die begin was die lewe oorsee egter ’n groot aanpassing. “My ouers se ingesteldheid was altyd dat surfing ’n lekker stokperdjie is, ons moet steeds ’n A-gemiddelde op skool kry, gaan studeer. Toe ek so goed vaar dat ek op 19 kwalifiseer vir die wêreldtoer, moes ons herbesin. En daar is ek toe, in ’n professionele omgewing met ’n streng, gefokusde prestasie-ingesteldheid. Ek moes vinnig grootword, leer om onafhanklik te wees. Jy mis uit op studentwees of normale goed soos verjaardae of om in jou eie bed wakker te word.”

As jy so baie toer, verander jou kulturele identiteit ook. Jy is Afrikaans, “maar jy voel nie soos die tipiese Afrikaanse meisie nie”. Sy het terselfdertyd baie as mens gegroei en geleer.

FOTO: Instagram / @biancabuitendag

Ná haar geliefde pa se dood in 2015 het Bianca as’t ware in die see ontvlug. “Die see is baie helend, en jy voel na aan jou Skepper.” Sy het ook daardie jaar nommer vier op die wêreldranglys gehaal – haar beste posisie nog.

Sy sal altyd mal wees oor die sport, maar sy weet ’n professionele loopbaan is beperk. “Dit raak later herhalend. Dieselfde plek, dieselfde doelwit. Nou mik ek vir die grote: Die Spele in Tokio in 2020; dis vir die eerste keer as Olimpiese sport ingesluit.”