BIANCA BUITENDAG, professionele branderplankryer, wie se span in Mei die World Surf League (WSL) Founders’ Cup of Surfing gewen het

DIT WAS DIE OOMBLIK . . .

Bianca was in 2012 pas uit die skool toe sy gekwalifiseer het vir die Wêreld-branderplankligakampioenskapstoer. Sy was net een van 17 vroue wêreldwyd wat dít kon regkry. Haar lewe het in ’n oogwink verander.

“Ek het grootgeword op Victoriabaai in die Suid-Kaap en skielik was die wêreld my huis. Ek was agt maande van die jaar op reis, elke twee weke in ’n ander bed. Ek het nie eens geweet hoe om my eie wasgoed te was nie!”

Op die toer gaan deelnemers elke jaar na meer as 30 lande vir kompetisies. “Dit het my kulturele identiteit getoets. Ek het nie die tale verstaan nie, ek het huis toe verlang, en ek het selfs ’n vreemde aksent begin kry.”

Deesdae woon sy agt maande in Frankryk, vier in Suid-Afrika, en kan sy haar nie ’n ander leefstyl voorstel nie. “Ek het altyd somerweer. Ek mis SA se kultuur, maar het soveel gegroei. Ek het geleer jy moet net vasbyt wanneer jy deur groot veranderings gaan – jy word dit gewoond, en dit verander jóú ook, ten goede.”