DIT WAS DIE OOMBLIK . . . JAN het alles laat kliek. Dié TV-reeks vir VIA het Carien, wat die regie behartig het, se belewing van kreatiwiteit vir altyd verander. Oor dertien episodes het sy Jan Hendrik van der Westhuizen, Suid-Afrika se enigste Michelin-sjef, na ons voorhuise gebring.

“Die eerste aand by JAN [sy restaurant in Nice, Frankryk] het alles vinnig gebeur – tafels gedek met perfek gestrykte tafeldoeke, elke kristalglas gepoets en silwereetgerei uitgepak. Die blomme soos iets uit Marie Antoinette se kasteel, die beste Franse sjampanje . . . Die elite van die Franse Riviera, internasionale rugbyspelers en ’n Hollywood-ster het opgedaag,” vertel Carien.

En hul kameraspan soos Olimpiese gesinchroniseerde swemmers deur die goed geoliede kombuis. “Soos ’n Hollywood-span wat ’n Hollywoodster fotografeer.”

Toe sy moeg neersink ná die lang eerste dag en ’n kelner ’n spierwit bord met ’n spierwit meringue voor haar neersit, sien sy dis die “ligste, mooiste, perfekste dingetjie waaroor ’n sagte vla-karamel-vanieljesousie gedrup en ligpienk hibiskuspoeier gesprinkel is”. Toe sy die meringue oopbreek, proe sy “wintervrugte op ’n veerligte sagobed”.

Tóé weet sy wat kreatiwiteit kan wees.