CARINA FRANCK, skoonheidskenner

DIT WAS DIE OOMBLIK . . . Die dag toe ’n onderwyseres vir haar sê sy gaan nêrens in die lewe kom nie, het Carina besluit sy sál haar verkeerd bewys. “Eers was ek platgeslaan, maar iets het toe soos ’n leeu in my wakker geword: ek sou suksesvol wees.”

Vandag ís sy. Sy het die gewilde Nimue-velsorgreeks in Suid-Afrika bekend gestel en toe die Kalahari-skoonheidsreeks ontwikkel. Die reeks word in van die voorste spa’s in die wêreld gevind.

“Ek het al dikwels ervaar: Aanstoot stoot jou vorentoe. Jy sien ’n nuwe plek in jou hart waar jy kan verander. En só kry jy iets goeds uit die sleg.”

Dit was weer so toe Carina in 2014 deur Rusland en Armenië moes reis om ’n praatjie by ’n mediese kongres te lewer, en sy gewaarsku is teen vrou-alleen daar reis.

“Ek het my vrese gesluk, drieuur die oggend op ’n vreemde dorp aangekom, met g’n benul watter taxi veilig is, sonder Wi-Fi, en ek kon nie die taal praat nie.

Maar dit was #wonderlik, bemagtigend.” Slotsom: “Moenie luister as iemand sê jy kan nie iets doen nie!”