Sy maak die rol van die feeks-dokter Annelize Roux in kykNET se Binnelanders haar eie. Koud, klinies, vat-nie-nonsens-nie . . . verpleegpersoneel sowel as pasiënte is bang vir haar. Met so nou en dan glimpse van ’n weerloosheid wat daaragter skuil.

Cindy het haar debuut as aktrise in ’n verhoogproduksie van Kringe in ’n bos gemaak. Maar daar is ’n ander kant aan haar. Die figure wat sy vir skadu-teater skep, is noukeurige, fyn werk – stadige werk. ’n Boom, takke, blaartjies . . . teken, plak, sny. Die detail is alles. Hoe meer daarvan, hoe meer lewe die figuurtjie. Soms, ná eindelose moeite, sit sy dit in die helder kollig en dit word te lig bevind, beweeg dalk nie lekker nie. Of is perfek.

Sy maak dit steeds, al is dit nie meer om den brode nie. Kop-terapie, sê Cindy. Sy het skadu-teater gedoen toe haar loopbaan nie goed op dreef wou kom nie. En mettertyd besef: As jy iets bitter graag wil hê en aanmekaar daaroor broei, raak jy desperaat. Dit word dan negatiewe energie, nie meer ’n passie nie. Daar is altyd ’n rede vir die pad waarop jy is.