ELANA MEYER, Olimpiese silwermedaljewenner, vereer deur drie SA staatspresidente*

DIT WAS DIE OOMBLIK . . . Ná soveel jare onthou Elana dit soos gister. Die oomblik in 1992 toe sy haar voete op die Olimpiese baan in Barcelona sit.

“Ek kon nie glo ek is daar nie.” Die grootsheid van die oomblik het haar nie geknak nie, want vir daardie 10 000 m was SA se langasemster voorbereid.

“Ek het vir jare my opponente bestudeer, maar nie geweet of my taktiek sou werk nie, want ek kon nooit [tydens ons isolasie] teen hulle hardloop nie. Ek wou in die laaste helfte van die wedloop die res afskud.

En ek hét! Net Derartu [Tulu van Ethiopië] het in my skadu gebly, en toe goud gevat. Maar my silwer was vir my steeds goud ná soveel jare se wonder of dit ooit gaan gebeur.”

Wie sal vergeet hoe die twee ná die tyd saam om die baan gedraf het?

Derartu, eerste swart vrou van Afrika wat ’n goue medalje by die Spele wen, Elana, die eerste Suid-Afrikaner wat ’n Olimpiese medalje ná isolasie kon wen. Dit het nuwe stukrag aan haar loopbaan gegee.

“Ek het nog ’n goeie tien jaar internasionaal deelgeneem, en ’n paar rekords verbeter.

*Elana is stigter van die Endurocadsportakademie en mede-organiseerder van die Kaapstad-marathon.