Honderd agtergeblewe vroue, van wie baie voorheen nié kon hekel nie, is vandag so vaardig met die hekelpen dat hulle nou as “hekelkoninginne” bekend staan.

Alles danksy Juliana Walters en Tana van Schalkwyk, wat Ukuthunga Handmade drie jaar gelede gestig het. Die Swazi-woord ukuthunga beteken “om met die hande te werk”.

Dit het alles in 2016 begin toe Juliana, op 55, ’n dubbele heupvervanging ondergaan het. Om die tyd te verwyl het sy begin hekel, en nooit weer opgehou nie. In die proses het sy ook saam met vriendin Tana arm vroue uit die omgewing aan die hekel gekry om ’n ekstra inkomste te verdien.

Juliana se man, Louis, boer met sitrus en makadamianeute naby Nelspruit (Mbombela) en hulle het drie volwasse kinders. Tana, ook van Nelspruit, is getroud met ’n plastiese chirurg, André, en het twee kinders. “Dié projek verg ure van ons tyd, maar dit is net joy,” sê Tana.

Juliana glo vas dit is ’n stem van Bo wat gemaak het dat hekel hul passie en missie geword het. Sy vertel: “Eendag terwyl ek hekel, sien ek die mooiste vrou verbystap. Ek dink die Heilige Gees het die vraag in my kop geplant. Voor ek my kon kry, vra ek of sy kan hekel. Sy kon wel.” Maar toe sy meer begin rondvra, was daar kort voor lank ’n paar vroue wat wou leer.

Ukuthunga
Ukuthunga

In 2016 stig Juliana en Tana toe Ukuthunga om vroue uit die omgewing met hekelwerk te bemagtig. Aanvanklik was dit slegs ’n groepie van vyf wat in ’n bouvallige, vuil saaltjie op Witrivier bymekaargekom het. Nou is daar 100 vroue tussen 40 en 60 jaar wat lustig saam in groepe in die omgewing van Nelspruit en Sabie hekel en mekaar oor en weer touwys maak. Soms in iemand se agterkamer of ’n motorhuis, waar daar ook al plek is in Mpakeni, Msholozi, Back Door en Kanyamazane.

Vir hul opheffingswerk in die gemeenskap het Ukuthunga in 2018 R10 000 van die Kruger Laeveld Kamer vir Sake en Toerisme (KLCBT) ontvang. “Die vroue nader ons as hulle wil leer. Ons het ’n beperkte produktelys: sagte speelgoed vir kinders, plekmatjies, en verskillende groottes mandjies,” vertel Tana.

“Taal is nie ’n probleem nie. ’n Vrou wat altyd by die kinderhuise in die omgewing as tolk opgetree het, Thina Moyane, help by die klasse,” sê Juliana. “Hulle leer baie vinnig.”

Tana en Juliana het tot nou toe alles voorsien – vir elkeen ’n sakkie met ’n skêr, hekelpen, wol en maatband. Van vanjaar moet hulle hul eie wol koop. “Heel eerste leer hulle om ’n plekmatjie te hekel, ’n plat sirkel. Ons standaard is baie hoog. Laaste leer hulle om die ingewikkelde safari-diere te hekel. Die hekelonderwysers, wat ook hekel, word meer as die gewone werkers betaal.”

Die vroue deel in die opbrengs volgens hoeveel produkte hulle gelewer het. “Die stories van hoop is ongelooflik. Van die vroue is enkelma’s en het nog nooit ’n werk gehad nie. Nou verdien hulle iets. Jy kan nie glo hoe hulle die rande rek nie. Een het met haar eerste salaris haar eerste stel kastrolle gekoop,” vertel Tana.

Van die vroue soen hul eerste geldjie en vertel hoe hulle hul hare gaan doen en lekker kos en klere vir die kinders gaan koop. “Hul ontwikkeling is so lieflik. Hulle kry selfvertroue. Baie was jare lank afhanklik van die staat. Nou kan hulle self vir hul gesin sorg.”

Ukuthunga
Ukuthunga

Volgens Juliana word daar een keer per week oor koek en tee gekuier. “Tana bak die lekkerste koek en iets gebeur wanneer mense saam eet.” Terwyl hulle werk, word spontaan gesing. Lofliedere van dankbaarheid.

Tana en Juliana kan nie uitgepraat raak oor hul “roeping” nie. Tana het ’n meestersgraad in mikrobiologie en Juliana was ’n Engelsonderwyseres vir hoërskoolleerders. Maar hulle hunker nie terug na hul vorige lewe nie. “Die Here werk op vreemde maniere. Ons ervaar soveel hulp van die gemeenskap,” sê Tana.

Eendag het hulle die vroue na ’n spoggerige aandenkingswinkel op die dorp geneem. “Toe hulle die Ukuthunga-etiket sien, was hulle ongelooflik trots dat mense betaal vir hul produkte. Dan besef hulle opnuut hoe belangrik gehalte is.”

Sover is hul handewerk te kry by uitsoek-toeristewinkels op Nelspruit en Graskop en landwyd op bestelling. Intussen is hulle besig met die ontwikkeling van ’n webtuiste vir aanlyn verkope. En hulle steek voelers na oorsese markte uit.

Ukuthunga
Ukuthunga

Onlangs het ’n groep Amerikaanse langhaar-bikers daar stilgehou. “Ons dog ons word beroof, maar toe hulle afklim, bars hulle in trane uit,” sê Tana. “Dié ouens vertel toe hulle was twee jaar tevore in ons hout-shack waar van die vroue se produkte was – net om nou tafels vol daarvan te sien. Hulle het video’s gemaak en beloof om ons ware in te voer. Daar is ongelooflike ligpunte.”

’n Hele paar uitdagings is daar wel ook, soos om die regte mark te kry. “Ons vriende hardloop al weg as hulle ons sien aankom,” lag Tana. “Ons soek gereelde bestellings van reg oor die land.” Die twee hoop die projek is oor vyf jaar selfonderhoudend. “Ons wil die vroue bemagtig en sal bloot daar wees om raad uit te deel. Hulle moet vlerke kry om te vlieg.”

Juliana en Tana word nie betaal vir hul werk nie, maar eindeloos verryk. “Ons leer nederigheid by die vroue. Hulle het niks, maar is dankbaar oor die kleinste ding. Hulle is trots en maak planne om die lewe vir hulself en hul gesin beter te maak,” sê Tana.

* Ukuthunga se produkte kan by waltersjuliana@gmail.com en avtv@yebo.co.za bestel word. Pryse wissel van R60 tot R400.