‘Ons maak ’n verskil’

Anelia Prinsloo en Rhona Erasmus, eienaars van Pienkvoet-Pret

Dis meer as ’n besigheid, sê Anelia Prinsloo. Dis haar “baba”, en Rhona Erasmus, haar vennoot, die “peetma”.

Alles het begin toe Anelia negentien jaar gelede besef het as voltydse onderwyseres beleef sy weinig van haar oudste, Anton, se kosbare eerste treë en sêgoed. Daar en dan het sy besluit om haar passie vir opvoeding van die huis af uit te leef en daarmee ’n inkomste te verdien. Ná baie navorsing het sy ’n eie besigheid, Pienkvoet-Pret, begin. En toe vriendin Rhona as mede-eienaar ingetrek.

Hul gedeelde kennis van opvoeding, en die wete dat hulle as ma’s wat verstaan ’n verskil kan maak, het gelei tot die uitbreiding van die franchise-besigheid na 32 takke landwyd. Een keer ’n week kom ma’s en hul kleingoed ’n anderhalf uur bymekaar vir ’n waardevolle bederf van ontwikkelings- en stimulasieklasse.

“Ons klasse moet die hoogtepunt van hul week wees. Dit is wonderlik om kindertjies se oë te sien blink as hulle iets regkry. En die ma’s blom. Wat is lekkerder as om te ervaar hoe ’n baba sy eerste seepborrel blaas of drie blokke bo-op mekaar stapel?” vra Rhona.

Anelia sê in die begin was die besigheid maar ’n saak van geloof. Sy moes geld leen, in ’n tyd dat haar man, Anton, ’n finansiële raadgewer, van werk verander het.

“Dit was harde werk. Bedags het ek klasse aangebied en saans administrasie en voorbereiding gedoen.”

Oor hul saamwerk sê die twee baie mense reken vriendinne wat saam iets aanpak, soek moeilikheid. Maar vir Anelia en Rhona is dit soos ’n gesonde huwelik. “Jy voel aan wanneer die ander een swaar kry, jy praat daaroor en neem outomaties mekaar se werklading oor. Ons respekteer mekaar en lê klem op mekaar se sterk punte,” sê Anelia.

Sy is die duo se kreatiewe gees. “Ons doen baie navorsing om aan die voorpunt van opvoedkundige #tendense te bly. Ek vind dit baie stimulerend.” Rhona sorg weer dat die geldsake klop en strukture werk. En beskou Anelia, wat naas Anton (nou 19) ook ma van Lumé (16) en Ané (11) is, as haar mentor.

Oor Rhona, ma van Júan (5) en Wikus (2), sê Anelia: “Ek geniet my jonger vennoot. Sy hou my op my tone en het ’n moderne aanslag.” By Pienkvoet-Pret word nuwe eienaars streng gekeur en vir gehalte-beheer word takke besoek. “Elke tak volg ’n verpligte program en word gereeld besoek om te verseker dat gehalte op standaard is. Ons is ’n wenspan, soos familie wat mekaar deur lief en leed ondersteun.”

By Pienkvoet-Pret word groepe volgens die kinders se ouderdom ingedeel: drie tot ses maande, sewe tot twaalf maande, dertien tot een-en-twintig maande, en dan tot drie jaar.

Die fokus is tot op drie jaar, want dan is kinders soos sponse en belangrike breinpaadjies word gevorm, sê Anelia en Rhona. En hoe meer tyd hulle saam met hul primêre versorger bestee, hoe beter. Pa’s en ander versorgers is ook welkom om die weeklikse klasse by te woon.

“Tydens die klasse word mylpale wat kinders op verskillende ouderdomme kan bereik, uitgewys. Aktiwiteite word dan gedoen om dit te oefen, dikwels met alledaagse voorwerpe wat in en om die huis gebruik word. Ons moedig byvoorbeeld fyn motoriese ontwikkeling aan deur stokkies in ’n aartappel te druk wat die kinders weer moet uittrek. Dit versterk hul handspiere. Wanneer hulle in modder of klei speel, of met ’n veer gekielie word, stimuleer dit weer sensoriese ontwikkeling,” verduidelik Anelia.

“Ons glo kinders leer deur te speel. Ons program bly nuut en vars en is genotvol,” beklemtoon Rhona. Duidelik is dit nie net genot vir die ma’s en kinders nie, maar ook vir die twee vriendinne wat vreugde – en sukses – gevind het in saamwerk. 

z
Christelle Janse van Rensburg en Stefanie de Wet, eienaars van Canvas Club

‘Ons skep geleenthede vir ander’

Christelle Janse van Rensburg en Stefanie de Wet, eienaars van Canvas Club

Twee susters, ’n argitek en ’n bedryfsingenieur (albei met MBA-grade), wuif op ’n dag die korporatiewe lewe vaarwel om ’n kunsvlytbesigheid, Canvas Club, te begin.

Christelle Janse van Rensburg, die argitek, het die idee gekry en sonder sukkel sus Stefanie de Wet oor soesji oortuig om haar vennoot te word.

’n Jaar gelede het hulle hul eerste tak in Tamboerskloof, Kaapstad, begin. Nou het hulle al 31 agentskaptakke landwyd en brei internasionaal uit. Hulle maak weekliks nuwe takke oop en kry aansoeke van plekke soos Doebai, Miami en Singapoer.

Christelle, ma van die elf maande oue Henry en getroud met Werner, sê sy en Stefanie wou albei meer pret hê in hul beroep, fleksietyd werk en steeds genoeg verdien.

Stefanie, ’n bedryfsingenieur, het dadelik ’n “voorlegging” oor dié nuwe sake-avontuur met haar man, Meiring, ’n IT-kenner, bespreek. Hy was baie opgewonde.

Hulle vertel hul ouers het hulle kleintyd al gemotiveer om groot te dink. Hul ouboet, ’n entrepreneur in Durban, bied ’n platform vir grootskaalse besigheidsherwinning en hul ander broer, ’n straatkunstenaar in Londen, kweek reusagtige sampioene. As student aan die Universiteit van Pretoria het Stefanie haar eie klerehandelsmerk, Houkiepoukie, bemark. “Neonkleurige klere en leopard prints,” lag sy.

Volgens Christelle spruit haar inspirasie vir Canvas Club uit kunsklasse by ’n “tannie Gerda”, waar lekker met verf gemors en gespeel is; iets waarna haar siel begin hunker het toe die lang ure van haar beroep sy tol eis.

Om te begin is spaargeld gebruik. “Nie ’n reuse-bedrag nie. Ons het baie tyd aan die regte stelsels bestee. Almal het slimfone en ons bedryf die maatskappy aanlyn. Dit is dus maklik om betalings deur ’n sentrale platform te bestuur. Om dié rede kan ons in Nieu-Seeland ’n tak hê. Ons hoef niemand te ‘jaag’ vir geld nie. Baie ondernemings sneuwel omdat hulle nie inbetalings kry nie,” vertel Stefanie.

Voornemende takeienaars moet ’n sterk motivering aanbied oor hul entrepreneurskap. Keuring is streng en vereis uitstekende verwysings en ’n telefoononderhoud. Maar ervaring as ’n entrepreneur is nie noodsaaklik nie, want eienaars word ondersteun deur die susters se “playbook” met sakebeginsels wat hulle self opgestel het.

Canvas Club het drie bene: weeklikse kuns- en kunsvlytklasse en vakansieprogramme vir kinders tot 13, kinderpartytjies, en spesiale geleenthede vir volwassenes soos spanbouprojekte.

“Kuns en kunsvlyt is terapeuties, maar kinders leer ook deur opvoedkundige projekte nuwe vaardighede aan,” vertel Christelle, die kreatiewe brein. Dit help byvoorbeeld met probleemoplossing, verbeter selfbeeld, leer jou droom en is meditatief. “Baie kinders is onrustig, maar wanneer hulle vlyte doen, moet hulle fokus en word só kalmer.” Van leë toiletrolle en eierhouers tot skeerseep en kryt word as materiale ingespan. “Pa’s en kinderoppassers kan ook die klasse bywoon. Dit doen wondere vir verhoudings,” sê Christelle.

Stefanie geniet dit om die besigheid holisties te ontwikkel. “Ek beproef my eie kreatiwiteit deur interessante, soms komplekse sakeplanne op te los.”

Die susters se leuse is “vryheid en vreugde”. Hulle is passievol oor hul werk en daar is weinig reëls. “Dit hou my doelgerig,” sê Christelle. “Juis omdat dit vir my lekker is, was dit nie moeilik om my eersteling te borsvoed terwyl ek werk nie.” Stefanie voeg by: “Ons geniet dit om vir ander geleenthede te bied om te groei en kry aansoeke van fisioterapeute tot aktuarisse, en studente tot vroue in hul vyftigs.”

Vir dié twee het hul korporatiewe lewens vervaag en saam deel hulle ’n toekomsvisie. Hulle het pret, inspireer mekaar én hulle maak ’n verskil.

San-Marié Blignaut (links) en Uida Havinga

‘Alles is in die naam’

Uida Havinga en San-Marié Blignaut, eienaars van La Vie Lente Bistro & Venue

La Vie Lente – op Frans, “die stadige lewe” – is hul muse.

Dié Bistro & Venue is die geesteskind van die vriendinne Uida Havinga en San-Marié Blignaut en het in 2012 aan die buitewyke van Pretoria geopen.

As bedryfsingenieur was Uida op ’n punt moeg om soos daardie hamster in die advertensie om die stuurwiel te hol. Dít het saamgeval met die geboorte van haar eersteling, Christopher (nou 7). Intussen het sy en haar man, Andrew, nes sy ’n bedryfsingenieur, ook ’n dogter, Raphaella (5), ryker geword.

Eweneens wou haar universiteitspêl San-Marié ook meer tyd tuis deurbring. Sy en Braam, ’n sakeman, het twee kinders, Clara (7) en Lisa (5), en sy het BSc binne-argitektuur aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Andrew en Braam het die geld voorgeskiet vir La Vie Lente, wat as ’n eksklusiewe “kulinêre boetiek” begin het. Hulle kon gelukkig die huis op hul familieplaas daarvoor restoureer, vertel Uida. Saam met die werkers het hulle geverf, vloere geskuur en deure gehang.

Aanvanklik was ingevoerde Franse kombuistoerusting en kosprodukte te koop. Maar weens die ekonomie het min mense deesdae geld vir ’n stoof van R140 000 of peperduur praliens, sê sy.

Nou bedien hulle bekostigbare hartskos met gemoedelike Franse agtergrondmusiek en kunswerke teen die mure wat te koop is. “Ons aanslag is Frans, maar ons bedien nie Franse fynkos soos foie gras [ganslewer] nie. Ons omarm wel die tydsame, elegante Franse leefwyse en hoop gaste beleef ons bistro as ’n kuier-avontuur.” Hulle bied ook private gesellighede aan soos ooievaarstees en verjaardagpartytjies, asook vroueoggende met ’n leefstyl-afrigter en kosdemonstrasies.

La Vie Lente is aan die voorpunt van kos- en dranktendense. Chenin blanc, boetiek-jenewer en -bier is baie gewild op die spyskaart, sê die twee vriendinne. Dit klink alles pure Franse kunsfliek, maar ’n eie besigheid is stresvol. Fleksietyd pas hulle, maar saans wanneer die kinders slaap, word gewerk. En dertien werknemers moet maandeliks ’n salaris kry. “Sukses verg vernuwende denke,” meen San-Marié. “Die spyskaart word tot drie keer per jaar verander. Ons kan selde sit en vonkelwyn drink en gesels. Dit is harde werk.”

Albei het waardering vir hul mans, wat soms naweke kinders oppas. “Gelukkig was hulle van die begin af déél van ons droom. Ons kon nie elke maand ons skuld aan hulle terugbetaal nie, maar daar was nooit verwyte nie. Hulle weet die besigheid voed ons menswees,” sê Uida.

Volgens San-Marié is dit soms moeilik om balans te kry omdat hulle so passievol is. “Dis egter bevrydend dat ’n baas nie meer oor ons skouer loer nie.” Hul sterk punt is dat hulle mekaar goed aanvul. Uida is analities en goed met syfers. San-Marié kreatief en sosiaal. Sý het grootgeword met ’n ma wat lag-lag vir sestig mense op ’n slag kos gemaak het en hou self van kook. Sy beplan graag spyskaarte en sorg vir interessante tafelversierings. “Santjies hou van vryheid, ek soek struktuur,” sê Uida oor haar vriendin.

Hulle sit min vas. Maar Uida vertel hulle het net ná mekaar swanger geword en is ’n dag ná mekaar met kraamverlof. “Ons moes vasbyt, al was ons gedaan.” Uida het kort voor die bistro geopen het, ’n traumatiese ongeluk gehad. Dit was moeilik om ’n pap baba, die trauma en die uitdagings van ’n nuwe bistro te hanteer. Maar vasbyter wat sy is, hét sy.

Hulle leer nog daagliks. Enigiets van sakebestuur tot die lees van finansiële state. “Ons leef ons skeppende denke uit, maak mense gelukkig en glo dit is God se plan.” Hulle bemagtig werkers en vertel hul voormalige tuinier het onlangs sy staal as barista by ’n landwye wedstryd gewys. Dit maak hulle diep gelukkig om ’n verskil te maak.

Uida, die introvert, vertel hoe sy danksy San-Marié geleer het om uit haar dop te kruip. Maar dit is tog nog vir haar nodig om oomblikke van stilte te skep waar sy weer tot verhaal kom. Hulle lag bloot as doemprofete waarsku teen vriendinne wat saamwerk. San-Marié sê trouens: “Ons het so ’n gemaklike verhouding. Verskille ontaard nie eens in konflik nie, ons vind altyd die middeweg.”

Hulle kon nie anders as om gou aan “die stadige lewe” gewoond te raak nie.

WENKE vir entrepreneurs

Christelle: Glo in jou produk.

Stefanie: Fokus op die 20% wat 80% van die resultate inbring en nie op alles tegelykertyd nie. Pas jou sakemodel aan as iets nie werk nie. Albei: Maak tyd vir ontspanning en inspirasie. Reis gereeld.

www.canvas.club

WENKE vir entrepreneurs

Uida: Wees dapper genoeg om terugvoering met ’n oop gemoed te ontvang.

San-Marié: Adapt or die.

Albei: Geesdrif, nie wins nie, dryf ons.

www.lavielente.co.za