Victoria, ek gaan Korea toe!” Karin Cronje se dramatiese aankondiging aan haar huishulp. “Waar’s dit?” “Bokant ons iewers,” beduie Karin vaag. Gebukkend voor die wêreldkaart soek hulle. Victoria vind dit eerste: Daai plekkie naby Japan. Nie baie groot nie. En ver.

Maande vroeër het Karin bedank as skakelkonsultant vir ’n klompie uitgewers. Sy wou ’n werk hê waar sy iets vir die samelewing beteken. Maar in plaas daarvan dat sy die wêreld red, sit sy toe onder die eikeboom in haar tuin en staar na Tafelberg terwyl haar geld minder word. Suid-Korea sou minstens daardie probleem oplos.

“Jy gaan Engels gee? Jy’s nie ’n onderwyser nie.” Victoria wat versigtig pols. “Ag, ek maak dit op soos ek aangaan.” Die minste van Karin se probleme. Sy wás ’n rukkie in die onderwys. En die joernalistiek. En binnehuisversiering . . . In Korea sou sy ’n neseier kon opbou. Vir Victoria se pensioen spaar. Marko, haar blondekop-seun, finansieel help om sy argitektuur-studies te voltooi.

En skryf. Sy swoeg toe al agt jaar aan haar tweede roman, Alles mooi weer. Haar lewe het om daai boek begin draai. “Ek kan nogal obsessief wees. Ek kan dit nie vat om iets te los as ek reeds moeite ingesit het nie.”

Aan die onaangename hoofkarakter, Hilette, met haar hofpakkies, sykouse en hofskoene, kan sy maar net nie vatplek kry nie. Karin had genoeg insig om te weet sy projekteer iets in haarself, haar omgewing, kultuur waarvan sy nie hou nie, op dié arme vrou. ’n Groot kopskuif was dus nodig. Soos om na die ander kant van die wêreld toe te trek.

Die hande wat om die teekoppie gevou is, se naels is prakties kort. Die blouselblou oë het dieselfde stip kyk as op haar foto’s van Korea. Haar grys hare laat haar strenger lyk as op dié einste foto’s, toe sy ’n donkerkop was. Daardie twee jaar in Suid-Korea sou haar hele wese omdop, ’n binnereis wat sy in haar 2018-boek, There Goes English Teacher: A Memoir (Modjaji Books, R280), beskryf. Die gevoel van vervreemding met humor en selfspot getemper. Soos ’n Marsman op Venus was taal, alfabet, kultuur, gebruike, als ’n raaisel. Gulliver teenoor die Lilli-putters, want hulle is kléin, man. 

In die slaapkamer van Apart 603, haar woonstelletjie op die piepklein dorpie waar sy beland (“Gatsrand maar ook totaal anders”), is sy ’n reus in ’n pophuis. Haar hele lyf voel uit proporsie. Hier, ver van die wêreldstad Seoel, kom bitter min Westerlinge. Mintig, twee babas begin huil toe hulle haar sien! Sy kom uit Aprika? Hoekom die “f” van Afrika ’n “p” word, weet sy nie. “Nam Aprika Mandela,” probeer sy land van kontinent onderskei. Dán kom daar ’n sprankie herkenning in oë. Maar Suid-Afrika? Hulle weet nie waar dit is, of wat dit is nie.

In een bisarre voorval sit sy in die spa, net maar ’n kommunale bad, en die vroutjies staan tou om aan haar boesem te voel. (Nie besonder groot nie, in Westerse terme.) En daar gebeur dit weer in ’n hysbak, dié keer ’n ou tannie, soos ’n vraagteken deur die osteoporose gebuig . . . Nie net haar voorkoms laat haar uitstaan nie.

Die groep is alles – familie (voorvaders inkluis), dorp, land . . . Iemand vertel haar in ’n fluisterstem sy broer bring skande oor die familie. Want hy’s nie getroud nie. Die bloedlyn kan nie voortbestaan as hy nie ’n seun (dogters tel nie) het nie. Ook die voorvaders, vir wie hulle groot respek het, is dan in limbo – en die josie in.

En sy? Stoksielalleen. “As jy jonk en alleen is, is dit te verstane. Ek is egter ’n middeljarige vrou, waar’s my familie? Hulle kon nie hul kop daarom kry nie. Toe Marko die eerste jaar kom kuier, was dit verstommend hoe hulle teenoor my verander. Nou’s ek skielik ma en van ’n seun nogal.” (Sy verduidelik dis háár interpretasie daarvan. Sy het immers nie die taal verstaan nie en hul Engels is meestal gebrekkig.)

Dis ’n samelewing waar individua-lisme ’n frons ontlok en sy het altyd gesukkel om te konformeer. Sy gee die eerste jaar Engels by ’n hagwon, oftewel private skool. Die kinders draf daar klas bykomend tot hul gewone skool, soms tot twaalfuur snags. Daar is soveel druk om te presteer, so min ruimte vir kind wees. Karin se hart bloei.

Sy probeer klasse meer informeel maak, ’n bietjie pret in die streng gestruktureerde lesse inbou. Moedig hulle aan om deel te neem, meer uitbundig te wees. En hulle raak stóút. Eendag klim al die seuns in een klassie deur die venster en verdwyn. Sy besef sy het ’n lat vir haar eie bas gepluk. Maar dink ook: Lekker!

Haar tweede jaar daar onderrig sy Engels aan ’n nasionale universiteit. Tóé probeer sy die reëls volg. Maar nou is dit nog die eerste jaar en sy gee private lesse vir Ferdinand, seun van die skool se eienaars, waardeur hulle albei worstel. “Hy’s so veertien, netjies en pligsgetrou. Sy ouers druk hom om dokter te word, maar al waarin hy belangstel, is karre. Een keer ’n week sit ons tot laat en gesels nonsens. Hy vertel hy gaan ’n dans in die skoolkonsert doen, en iets kom oor my en ek sê: Nou kom ons dans.

’n Konkoksie van Westerse danse waardeur hy my in Engels moet lei. Ons dans te lekker onder ’n groot gelag, min wetende daar is ’n kamera in die klas. Toe ons daarna afstap ontvangsarea toe, staan van die onderwysers by die TV-monitor en staar na die nou leë klaskamer. Die eienaar, Sarah met die deursigtige oë, sê: ‘Karin, we all saw you dance!’ Die heel eerste keer is daar emosie in haar stem. Nou hoe weet ek wat hulle dink? Dis fantasties? Of het ek (weer) ’n grens oortree? Wat het daai skielike energie in haar stem beteken?” Dít weet sy darem: die ouers het van haar gehou, gesê sy is soos ’n ma vir die kinders.

Jy verdrink in ’n see sonder rigting-wysers, trap water in ’n kultuur waar mense wat altyd hoflik is maar geslote en emosieloos, nie weggee wat hulle dink nie. “Baie van hoe ons leef is onbewustelik, subliminaal. Jy ‘lees’ mense in jou kultuur maklik, voel woordeloos, gedagteloos aan. Daar ‘voel’ jy ook iets, maar weet nie so lekker wat dit is nie. Daar is ’n hiërargie: Ouderdom speel ’n groot rol, jy het respek vir ouer mense. Geslag speel ’n enorme rol, vroue is respekvol as hulle met ’n man praat. Vir jou as Westerling is daar nie plek in die hiërargie nie. Dis moeilik, want hulle weet nie rêrig hoe om teenoor jou op te tree nie.”

Dae-ho, met wie sy ’n innige vriendskap aanknoop, neem haar na ’n winkel vir ’n teedrink-ritueel. Die vrou in die winkel laat weet via hom, kon sy maar soos Karin wees. Net spontaan praat en lag. “But this is ‘forbid’,” sê Dae-ho. “We don’t make big motion, we don’t show big happiness, o

r big smile or tears. We must hide our emotion. So Western feel good with Korean and don’t get big smile. So, our feelings are same, but not express same.” Dit moet wees waarom Westerlinge voel hulle word deur ’n muur van hoflikheid begroet. “Also we are one blood people. We don’t have chance to get together with other people. So we don’t know them. Big motion and big express is exaggerate and we can’t help we are discomfort.” (Uit: There Goes English Teacher.)

Karin besef sy moet hulle uit hul nate skok. Die groot handgebare wat haar woorde vergesel, net maar die puntjie van die ysberg. Met ’n dramagraad in die sak, kan sy lekker dramaties raak. En dít het sy gemis: Om sommer net te hardloop en skreeu en mal te wees. Nie dat jy dit doen nie, maar daai vryheid, jy kán.

“Toe ek en Marko Viëtnam besoek het, was dit wonderlik. Jy kibbel oor pryse en almal probeer jou ’n kous oor die kop trek. Almal sweet en dis warm en die kos is lekker en jy eet als.

“Die kos verskil hemelsbreed van Korea s’n. Ek weet nie wat hulle in die kos gooi wat daardie spesifieke Koreaanse geur het nie, maar dis ’n smaak wat ons nie ken nie. Aanvanklik was die reuk iets verskrikliks. Die mense ruik anders; jinne, hulle eet kilogramme knoffel. En daai kimchi, koolblare met rou anchovy en goed wat fermenteer.

In my tweede jaar het ek ’n kortstondige affair met ’n Skandinawiese fotograaf gehad. Hy het gesê ék ruik ook snaaks. Want ja, ek het dieselfde kos geëet. Nou hoor ek Westerlinge ruik weer vir Koreane suur – al die melkprodukte wat ons inneem.” Later het sy baie lief vir hierdie einste kos geraak. Terug by die huis besoek sy ’n Koreaanse restaurant . . . en watter teleurstelling. Dit proe glad nie soos die ware jakob nie.

Ai, hoe het sy verlang na Afrika se wye hemel, helder lig, sterk kleure, harde grond wat kraak as jy daarop loop. Vol heimwee het sy skoon misgekyk hoe mooi Korea in werklikheid is. Alles daar is sagter, meer gedemp. Die mense ook. Dalk omdat alles oor die groep se welsyn gaan, gaan jy nie sommer ’n ander ou inloop nie. Eenkeer word by ’n woonstel ingebreek en koerantopskrifte basuin dit uit. Nie iets alledaags nie. Terug in Suid-Afrika probeer almal haar aanvanklik inloop en buit haar vrygewigheid uit. Sy was bloot nie meer op haar hoede daarvoor nie.

Alles mooi weer word kort ná haar tuiskoms gepubliseer en ontvang die Jan Rabie/Rapportprys vir innoverende Afrikaanse letterkunde. Met Hilette het sy uiteindelik versoen geraak.

“Ek het op ’n punt gekom waar ek deernis met haar het, haar verstaan. Ek het ’n enorme psigiese skuif gemaak en is gemakliker met goed wat eens vir my moeilik was en wat ek op haar geprojekteer het. Reeds in my eerste jaar daar het ek besef iets is besig om met my te gebeur, dat ek dit moet deurvoer. Ek het nie geweet wat dit is nie, het geen woorde daarvoor gehad nie. Maar ek was besig om te verander, ek kon dit aan Hilette sien.”

Sy het met ’n groot stilte in haar teruggekom, minder gepraat, meer waargeneem.Dan lag sy. “Daardie stilte, dis als verlore, natuurlik. Ag, dalk is daar tog ’n bietjie meer van ’n stilte in my, dis nou as my kop nie te veel aangaan nie!”

We don’t show big happiness, or big smile or tears Dae-ho, vriend