IZELE VAN BLERK, bekroonde KWV-wynmaker: The Mentors, Perold en Dr Charles

DIT WAS DIE OOMBLIK . . .

Dis al wat sy wou doen, waarvoor sy gewerk het, vandat sy as 13-jarige vir SA tennis gespeel het. Haar loopbaan uitgestippel, met ’n gesogte vierjaar-sportbeurs in Amerika. Maar toe verander alles in ’n oogwink, die dag op ’n baan in Colorado. Een oomblik het Izele vir ’n bal gehardloop, die volgende het haar knie meegegee.

Kruisligamente geskeur. Haar tennisdroom aan skerwe. Maar Izele het nooit gewonder “Wat as . . .” nie. Om positief te wees was nog altyd in haar aard. Sy’t gaan BSc studeer, die wyngogga het gebyt en vandag proe sy sukses – as wynmaker.

Sy beskryf die parsproses as ’n aanhoudende tenniswedstryd. “Dis uithou en aanhou. Baie ure insit. En jy weet nooit waar jou opponent die bal gaan slaan nie!”

Sy is passievol oor The Mentors, die eksperimentele kelder van KWV wat sy onder meer bestuur. “Jong wynmakers kry hier die kans om innoverend te raak . . . met nuwe metodes, kultivars, streke, vate, noem maar op.”

In 15 jaar het sy nog net twee keer ’n raket opgetel. “Ek kyk nie een oomblik terug nie.”