Die Kaapse borduurkunstenaar Danielle Clough dink buite die raam.

As jy “borduurwerk” hoor, is jy geneig om aan ou tannies met brilletjies te dink. “Dit is ’n opwindende vaardigheid en hoogs kreatief,” sê Danielle egter.

En die wêreld is gek na haar werk. Vanjaar is sy gevra om portrette van die Amerikaanse komediante Tina Fey en David Letterman te maak vir sy geselsprogram My Next Guest Needs No Introduction.

In Januarie verlede jaar het sy en die Mexikaanse beeldhoukunstenaar David Madero saamgewerk om vir Adobe Photoshop ’n kunswerk te skep as deel van hul Collaboragram-projek. Die idee is dat twee kunstenaars uit verskillende dissiplines saam ’n opdrag uitvoer, met die uiteinde ’n skerpioen in donker metaal en die ongelooflikste fyn, gekleurde borduursteke.

En in 2016 was sy een van net 19 kunstenaars wêreldwyd wat deur die Italiaanse modehuis Gucci genooi is om elk ’n video van ’n minuut lank te maak om hul ikoniese Ace Sneakers te interpreteer. Haar tekkies met helderkleurige voëls en vrugte versier.

As millenniër is Danielle deel van ’n nuwe geslag kreatiewe entrepreneurs wat hul talente deur Instagram bemark. Sy het 120 000 aanhangers op dié sosialefotonetwerk. Kyk jy na wat sy reeds bereik het, verstaan jy waarom vooraanstaande nuusblaaie soos The New York Times en die internasionale TVnuusnetwerk CNN al oor haar berig het.

Haar enigste begeerte is om te skep en haar intuïsie is haar muse. “Ek probeer geen politieke stellings met my werk maak nie. Elke projek is anders. My passie straal hopelik uit my projekte en ek hoop dit resoneer by kliënte en dat hulle oomblikke van sonskyn daardeur beleef.”

Wel, die aktrise Drew Barrymore, een van haar gunstelingkliënte, hét. “Ek het op versoek van Drew op ’n raket ’n kopbeen en op ’n ander ’n vliegtuig geborduur. Sy het dié prettige, sentimentele geskenke vir vriende gegee.”

As dogtertjie wou Danielle ’n speurder word. Eers op hoërskool het sy besef naaldwerk is haar ding toe haar ma haar leer borduur het. Later het sy sagte speelgoed vir vriende gemaak, en die deurbraak het gekom toe sy op ’n dag ’n hasie op ’n speelding geborduur het. “Dit is asof ek deur ’n reeks ‘gare-sketse’ my loopbaan per toeval ontdek het.”

Sy het wel ook ’n deeglike kunsagtergrond. Nadat sy ’n diploma in grafiese kuns aan die Red & Yellowadvertensieskool in Kaapstad verwerf het, het sy die pot aan die kook gehou as mode-intern, grafiese kunstenaar en kelnerin. Verlede jaar het sy ’n eenvrousakeonderneming, Sew Far Sew Good, begin. “Ek borduur enigiets van rakette, tekkies, kussings en miniatuurkunswerke soos hangertjies . . .

“My grootste projek sover was vir die Johannesburgse hoofkantoor van Nike, op ’n borduurring met ’n deursnee van 1,2 meter met metaalgaas as agtergrond.”

Haar inspirasie loop wyd. “Soos die werk van die talentvolle, nederige SA fotograaf Wayne Reiche. Of die Kaapse kunstenaar Olivié Keck, wie se werk roerend en speels is. My ma en die tatoeëerkunstenaar Tyler B Murphy asook my vriende wat almal in my geglo het, gee my ruimte om myself uit te leef.”

Haar grootste kompliment is wanneer kliënte e-posse stuur en vertel watter emosies haar werk in hulle losmaak. Borduurwerk voed haar met “die stadige, meditatiewe ritme”. Sy borduur ook in verskillende ruimtes – in ’n stil tuin, of ’n koffieplek met musiek, en selfs terwyl sy na ’n goeie TV-reeks kyk. Die werk pas haar persoonlikheid, sê sy, want elke dag verskil.

“Ek neem foto’s of maak tekeninge van my kunswerke en werk nie van ’n patroon af nie. My dae bestaan uit fotografie, administrasie, illustrasie, die aankoop van gare en ander produkte – maar ek wil eintlik nét borduur.”

Danielle hou nooit op om haar grense te verskuif nie en wil nog die omslag van ’n musiekalbum borduur en baie reis – na die ou Oosblok en Japan.