“Ek kan van soggens tot saans eksperimenteer,” sê Ingrid de Waal oor haar liefde vir laventel. Haar kop gedurig vol nuwe planne, soos om haar laventel as kulinêre kruie te ontwikkel en bemark. “’n Projek vir iewers in die toekoms.”

‘Ek wil nooit arriveer nie – ek sal sterf van verveling!’

Ingrid de Waal, eienaar van die Canettevallei-handelsmerk, Stellenbosch

Ingrid de Waal se man spot altyd hy kan nie by haar byhou nie. As hy weer sien, het sy nóg ’n projek aangepak. Tans is dit seepmaak – wonderlike skeppings met besonderse geure. Van perdeblom tot fynbos tot wilde-als land in haar seeppot. “Daniël is ook mal daaroor, solank ek hom nie ook distilleer nie!” skerts sy.

Gelukkig bied ’n boetiekwynplaas soos Canettevallei buite Stellenbosch baie moontlikhede as jy “nie kan stilsit nie, ’n agie is en ’n kreatiewe streep” het. Ingrid het eers Frans aan die Universiteit Stellenbosch doseer, maar ’n jaar of twee ná hul troue in 1997 het sy begin moskonfyt kook, soos dit meer as 200 jaar gelede al op haar man se familieplaas gedoen is – oor ’n oop vuur. Hulle botteleer deesdae jaarliks sowat 5 000 flessies van hul Kaapse Moskonfyt.

Later het sy Daniël oorreed om drie hektaar wingerdgrond aan laventel af te staan, reeds aan’t visualiseer wat sy daarmee wou doen. Vandag kan sy nie voorbly om te voorsien in die vraag na hul vlugtige olies, droë laventel en vars snyblomme nie. Haar rou laventelheuning – van byeboerdery het sy so tussendeur geleer – is enig in sy soort.

Aanvanklik het Ingrid niks geweet van die laventelbedryf nie – maar sy is ’n “fanatiese leser”, glo aan instink en as daar een ding is wat haar dryf, is dit die opwinding om iets te verkoop wat sy self gemaak het. Haar sakesin het sy van haar pa, destyds algemene handelaar op Pella in die Noord-Kaap, geërf, vertel sy

Haar eerste olie-oes in 2006 is in stortmaat verkoop, maar dit was nie baie bevredigend nie. Die jaar daarna het sy letterlik met haar groen karretjie van die een apteek en gesondheidswinkel na die ander gery om met haar botteltjies olie te smous. “Niemand in die plaaslike mark het toe hul eie verkoop nie, so die gaping was daar, maar met drie jong kinders was dit steeds harde werk. En dit het tyd geneem.”

Teen die derde jaar was daar nog baie olie oor en oestyd het onrusbarend nader gekom. Toe besluit sy net daar: Nou droog ek alles. “Daar was berge en berge blommetjies, die héle solder vol! My kop het oortyd plannetjies gemaak. Dit móés net werk, vir ’n boer is elke hektaar sy inkomste.”

Die afgelope ses jaar is haar laventelkonfetti en laventelsakkies vir gastehuise en hotelle topverkopers, en ondernemings wat tee en kruiemedikasie maak, klop ál meer aan. Maar tien jaar gelede wou niemand dit koop nie – albei konsepte was nog te vreemd. 

Ingrid het nietemin deurgedruk, en nooit oorweeg om dit te laat vaar nie. As sy iets maak, glo sy hart en siel daaraan. Sodra ’n projek op dreef is, pak sy ’n volgende uitdaging aan. “Henri Matisse het gesê: To arrive is to be in prison . . . Ek wil nooit arriveer nie, ek sal doodgaan van verveling!”

Seepmakery fassineer haar steeds elke dag, “dis ’n bietjie magic, effens verslawend en dit kom selde uit soos jy beplan het!” Dit was altyd ’n droom vir eendag, maar tyd was daar nooit. Tot drie jaar gelede, toe ’n nood-rugoperasie haar tot stilstand “gedwing” het. “Aanvanklik was ek skrikkerig omdat ek geen chemie-agtergrond het nie. Ek was verstom toe my eerste mengsel – laventel, natuurlik – regte seep word.” Ingrid speel graag met botaniese elemente en helende plante, oes haar veldblomme self, droog dit en deurtrek haar basisolies daarmee.

As sy gaan stap, is sy immer op die uitkyk. Brandnetel, pampoenblomme, bloekomblare, olienhout . . . álles het moontlikhede. Selfs die onkruid geeldok se gedroogde wortels is ideaal as sy ’n sepie pienk wil kleur. Boomgom van Pella is ook al seeppot toe. En nadat sy ’n tsamma uit die Kalahari gebring het, werk sy aan ’n tsammaseep, kompleet met groen skilletjie en wit binnekant. “Ek kan van soggens tot saans eksperimenteer,” sê sy.

In dié stadium maak sy alle seep vir haar winkeltjie op die plaas self, so ook die geursakkies wat sy spesiaal borduur, maar sy het ’n span vroue wat groot bestellings hanteer. Haar kop wemel van nog vele idees en planne.

Kinna van der Westhuizen kry haar kreatiewe inspirasie op vele plekke, ook galerye soos Tina Skukan (kontak 083 235 3899 of stuur e-pos na rex@tinaskukangallery.co.za) in Pretoria waar die foto geneem is.

‘As jy hou by al die reëls, mis jy die pret’

Kinna van der Westhuizen van Ai Ai, dekorvervaardigers en geleentheidstiliste, Pretoria

Kinna van der Westhuizen sien moontlikhede in enige ding. Iemand het al gesê jy kan selfs vir haar ’n boomstomp, ’n lamppaal en ’n boksie vuurhoutjies gee, en sy sal iets daarvan maak . . . Hy was reg. Vir Kinna, eienaar van Ai Ai, dekor-vervaardigers en geleentheidstiliste, is dit eintlik eenvoudig: “Ek hou my oë oop. Ek loop maklik iets goedkoops raak, spuit dit blou, en dit lyk ongelooflik! Jy hoef nie ’n miljoen rand te spandeer om iets mooi te maak nie.”

Dis juis die rede hoekom sy sewe jaar gelede haar eie onderneming begin het. Sy het eers vier jaar by die toonaangewende interieur-ontwerper Kim Hutton in Johannesburg gewerk. “Hy het ’n groot rol in my lewe gespeel en my alles van teksture, materiale en kleure geleer, maar ek kon nooit insien hoekom jy ’n ottoman moet maak met materiaal wat R4 000 per meter kos nie.”

Kinna het nie formele interieuropleiding nie. Ná haar BA-graad in rekreasie en toerisme het sy in haar pa se houtfabriek alles van trok bestuur tot spuitverf geleer. Sy het later as sekretaresse by Kim H ingeval, maar binne drie maande is sy as interieurontwerper aangestel – met haar eie sekretaresse!

Toe Kinna uiteindelik Ai Ai begin, reg langs haar pa se fabriek, het sy ’n figuursaag gekoop, ’n paar rand se dekorgoedjies mooi opgehang, en toe besef niemand in Pretoria weet wie sy is nie . . .

’n Enkele dag by ’n bruilofskou het álles verander. Met R500, geleen by haar pa, het sy gesaag en tekere gegaan met “geen benul wat ek doen nie” en haar “skoutafel” gedek. Sy het twee troues en ’n matriekafskeid gekry. Dis die laaste keer wat sy ooit bemarking moes doen.

As geskeide ma met twee jong kinders was dit daarna sink of swem – sy het álle werk aanvaar. Deesdae werk Kinna meestal met korporatiewe kliënte, soos die Atterbury-teater en groot bankgroepe. Sy help onder meer met Matthys Maree en Nataniël se Optog! en geleentheidsbeplanners span haar gereeld in. Vanjaar het sy ook die dekor vir SARIE Voorbladgesig se finale glansgeleentheid gedoen.

“My vriendin sê altyd ek het meer guts as brains. Die projekte wat ek aandurf, maak my bang. As ek by ’n geleentheid my weird and wonderful goed begin uitpak, is ek partykeer skrikkerig om mense te wys wat ek nou weer gedek of gebou het of uit die dak wil hang,” skerts sy.

Sy het eintlik nog altyd ’n flair vir dekor gehad, reeds op laerskool. As haar ma-hulle weg was vir die naweek, sou sy die hele huis rondskuif, en met die terugkeer was alles ánders. Dis ook hoe mense gereeld haar styl beskryf . . . anders, ongewoon. Dit stimuleer en daag haar uit. “As jy organza-strikkies en rooi rose soek, dis nie ek nie. Ek sal nooit net ’n tafeldoek oor my tafel gooi nie, ek sal dit eerder verf, of met viniel oortrek.”

Kinna fokus op die hele prentjie as sy ’n geleentheid stileer. Sy doen nie “kaggelkakkies” nie en sal eerder minder op die tafel doen en meer uit die dak laat hang. Sy hou daarvan om al die sintuie te stimuleer, van die tekstuur van die servet tot die ligte moet reg wees. Ai Ai het al vyftien werknemers, maar Kinna bly “hands-on”.

“As ’n kliënt my iets vra, kan ek uit eie ervaring vir haar ’n logiese rede gee hoekom iets doenbaar of onmoontlik is,” vertel sy. Aan inspirasie skiet sy nie tekort nie; en sy kyk glad nie na Pinterest nie. “Almal in ons familie het ’n kreatiewe streep. My een ouma was ’n pottebakker, die ander ’n internasionale hekelwenner. My ma het ’n doktorsgraad in Engels, maar het ook haar eie kombuisonderneming gehad.”

Sy onthou nou nog hoe sy kleintyd as die tomboy van drie dogters in haar pa se fabriek geboer het. Die werkers moes bokse bou om haar uit die masjinerie te hou. “My pa het my ook baie van besigheid geleer. Ek het ’n sterk linker en regterbrein.”

Haar groot uitdaging is dat sy haar oor ’n mik werk en nie weet wanneer om op te hou nie. (Die vorige aand het sy juis ’n geselligheid met 500 mense vir die liefdadigheidsorganisasie Caring Daisies gedoen; R4 miljoen is ingesamel.)

Gelukkig is haar “awesome man”, Gerhard (sy is intussen weer getroud), daar, sonder wie sy nie die pas sou kan volhou nie. En altyd genoeg idees.

‘Dis in my DNS om goed te maak’

Carin Smith, Kaapse handwerker, illustreerder en stileerder

Carin Smith was skaars tien jaar oud, toe het sy al vir haar ma gesê sy wil nie eendag ’n normale werk hê nie – haar stokperdjie gaan haar werk wees.

Vandag doen sy presies dit. Die skeppende dogtertjie wat altyd besig was met ’n kreatiewe projek – of dit nou was om papier te maak van die riete uit hul tuin of ’n weefraam prakseer – is nou ’n maker, handwerker, illustreerder en stileerder.

’n Mondvol, wat beteken dat Carin altyd ’n klomp dinge aan die gang het. Dié week maak sy tulle-rose vir ’n okkasie, stileer ’n winkelvenster en beplan twee opwipwinkels met haar eie ringe, papierblomme, handgeverfde rompe en blomsakke.

Dis ’n wêreld wat haar soos ’n handskoen pas. “Ek was kleintyd omring deur materiaal, verf, batik, klei, spykers, hout . . . Dis deel van my DNS. My ma het ’n ‘hoekom dit koop as jy dit kan maak’-houding, my pa kan enigiets maak, my ouma leer steeds elke dag nuwe handwerkvaardighede en my oupa was ’n ongelooflike houtwerker. Die hele familie het my geïnspireer,” sê sy.

Carin het kunsregie en grafiese ontwerp vir advertensies in Kaapstad studeer nadat sy die sperdatum vir skone kunste gemis het. Sy’t geleer om dinge uit die kliënt se oogpunt te sien, “of dit nou produkstilering is of om papierblomme te maak”.

Sy het juis die groot papierrose gemaak vir vanjaar se SARIE Voorbladgesig-fotosessie met die Top-10-finaliste. Sy sorg dat sy bewus is van tendense, maar probeer steeds getrou bly aan haar styl en wie sy is. “Dis pure geluk dat blomme op die oomblik ’n trend is en nog ’n rukkie een gaan wees, ek is mal oor blomme! Hulle is eenvoudig pragtig en so pragtig eenvoudig.” 

Carin Smith aan’t werk in haar ateljee in Woodstock, Kaapstad.