‘Jy swem in die see in die mooiste verrassings vas . . . maar ook plastiek’ langafstandswemmer - Sarah Ferguson

Dit het alles een dag in Oktober 2011 op Hawaii begin. Die dag toe swemmer Sarah Ferguson van Durban op die oseaan verlief geraak het.

Sy het vir die pret aan ’n resies in die oop see deelgeneem, vertel sy. “Ek het twee jaar tevore my swembrilletjies opgehang nadat ek 12 jaar lank mededingend [in die swembad] geswem het, maar ek was dadelik dol op dié resies oor twee kilometer. Later die dag het ek in die verte ’n eiland gesien en gedink: Eendag wil ek soontoe swem.”

Dit was die begin van ’n ses jaar lange reis vir Sarah, op pad na haar groot doelwit: om die eerste vrou van Afrika te word wat die Ka’iwi-kanaal (42 km), oftewel die Channel of Bones, met sy reuse-branders, giftige bloublasies en onvoorspelbare seestrome kruis. En om terselfdertyd haar swemvernuf in te span om mense van die impak van plastiekbesoedeling op die oseaan bewus te maak. Op 23 Julie 2017, ná ’n epiese tog van byna 18 uur en 60 km in die see, was die titel hare.

Dis vandag vir Sarah steeds onwerklik as sy dink wat sy op Hawaii vermag het. Dit was ’n ongelooflike ervaring, vertel sy. “Veral fantasties was om in die nag in die fluweelswart water te wees, met al hierdie fosfor-agtige plankton soos vuurwerkies om my. Nog ’n hoogtepunt was toe ek swarttip-haaie teëgekom het. My afrigter, ook Sarah [Houston], het sommer ingespring en ’n rukkie saam met my en die haaie geswem.

In ’n stadium was ek vir drie en ’n half uur in ’n seestroom vasgevang. Eers toe ek later die vreugde op my ondersteuningspan se gesigte sien, het ek besef hoe bekommerd hulle oor my was. Behalwe vir twee, drie uur wat ek geweldig naar was, was dit net pure genot. Ek het 18 km verder geswem as wat ek moes, en op ’n ander strand klaargemaak! Ophou was nooit eens ’n oorweging nie. Ek het verskriklik hard geoefen en met ’n sportsielkundige gewerk aan my emosionele krag.”

Sarah se eerste amptelike uithouswem in die oop see was in 2014, toe sy die 18 km van Umhlanga na Durban afgelê het – die eerste vrou wat dit kon regkry. Sedertdien het sy wonderlike dinge in die water beleef terwyl sy haar aan verskillende omstandighede blootstel ter voorbereiding van die Hawaiiswem. Sy het al saam met dolfyne in die water “rondgehang”, haar verwonder aan waterskilpaaie, en skaars rooi jellievisse en pylsterte het haar pad gekruis. 

Dis veral die verrassingselement in die see wat haar bekoor. “Ek het nog nooit uit die see gekom en slegter gevoel nie. Daar is die ruimte, ’n verskeidenheid seelewe en natuurlik, soveel waaroor jy nie beheer het nie. Ek is mal oor die vryheid. Jy swem in ongelooflike mooi verrassings vas, maar ongelukkig ook teen plastiek . . .”

Die swem op Hawaii was die ideale platform om haar bewusmakingsveldtog vir die bewaring van die oseaan momentum te gee. Vroeër vanjaar het sy op Mauritius in die see deelgeneem en praatjies gehou. En einde Julie was sy in Mosambiek om haar boodskap aan die jeug oor te dra. 

Sy is passievol oor die bewaring van die oseaan. “Nadat ek destyds as nasionale swemmer uitgetree het, het ek doelloos gevoel. Ek het ’n goeie werk as fisioterapeut en ’n wonderlike vriendekring, maar ek het byna ’n identiteitskrisis beleef. Ek wou meer beteken, deel wees van iets groters as net myself. Omdat ek van kleins af lief is vir die natuur, het ek geweet ek wil op die omgewing fokus. Ná my uittrede het ek in Indië gewerk – die besoedeling in die strate en riviere was skokkend. Ek dink die saadjie is daar geplant. Ek put ook baie inspirasie uit swemmers soos Lewis Pugh en Penny Heyns.” 

Volgende jaar beplan sy ’n groot swemtog wat nog nooit voorheen aangepak is nie. “Ek hoop my boodskap sal weer só blootstelling kry. Die winkelgroep Spar is gelukkig as borg betrokke. Ek probeer mense met my storie inspireer en hulle leer om meer mindful te wees in hul daaglike keuses. Een minder strooitjie. Een minder plastieksak. Studies wys teen 2050 sal daar meer plastiek as visse in die see wees. Ons kán dit verander.”

Besoek www.breatheconservation.org vir meer oor Breathe, ’n organisasie sonder winsoogmerk.