LUCILLA BOOYZEN, hoof van die SA Modeweek

DIT WAS DIE OOMBLIK . . . Ná byna tien jaar se navorsing oor die plaaslike modebedryf, reise na ander lande se modeweke en haarfyn beplanning, het Lucilla een oggend in 1997 opgestaan en besluit: Dis genoeg, nóú moet ek die SA Modeweek begin.

“Dit was in Februarie. In Augustus het ons die eerste modeweek gehou. Om daardie markiestent te sien opgaan was ongetwyfeld die hoogtepunt van my loopbaan. Die gaste, media en modelle het aangekom en daarna was alles net ’n warboel, maar my droom is bewaarheid.”

Die eerste jaar het die modevertonings publisiteit ter waarde van R4 miljoen gegenereer. Vandag is dit R197 miljoen.

“Ek het geweet ons modebedryf kan ’n groot bydrae tot die ekonomie maak, maar ek bly verbaas oor die hoogtepunte.Ons eerste groot borge, die nuwe ontwerpers elke jaar, ons ooreenkoms met Edgars wat ontwerpers die geleentheid gee om hul klere in die winkels te verkoop . . . te veel om te noem.

“Ek glo vas geluk is die produk van harde werk. Jy skep jou eie geleenthede.”