As jy al op ’n wynskou of -fees was, sou jy dit dalk raakgesien het. ’n Pragtige ligblou-en-wit kombi van 1964, met ’n swart-en-wit blokkiesvloer, retro-luidsprekertjies en roomkleurige bankies . . . gewoonlik omring deur ’n klomp feesgangers. Dis die gesig van Vintales Wyne. En alles die geesteskind van Anneli Karsten, wat al die kuns verfyn het om ’n handelsmerk te skep wat die verbeelding aangryp.

Daar’s net iets aan so ’n ou kombi wat mense lok, verduidelik Anneli, mede-aandeelhouer en bemarkingsdirekteur van Vintales. “Dit was sommer al by die eerste fees opvallend – almal is mal daaroor. Dit vind byval by al die generasies. Vir die ouer geslag gaan dit oor die nostalgie, die romantiese idee van ’n kombi en die herinneringe aan daardie jare . . . vir die jongmense is dit weer cool en retro. Mense klim in, neem foto’s, deel stories, en proe ’n glasie wyn.”

Vir haar pas die kombi’s (die wyn-groep het sedertdien nóg drie ou kombi’s uit die sestigerjare laat restoureer) perfek by die handelsmerk. En sy behoort te weet, siende dat ook dié wyne haar konsep was, van begin tot einde.

“Ek het besef daar is ’n behoefte daarvoor in die mark. Dis ’n toeganklike wynreeks vir mense wat nie noodwendig kenners is nie, maar van ’n lekker, ontspanne drinkwyn hou. Natuurlik het ernstige handelsmerke en duur wyne hul plek, maar die gedagte is ’n goedvoelwyn vir gewone mense wat alledaagse dinge geniet, of jy nou in jou agterplaas braai, piekniek hou of saam met vriendinne kuier. Daardie spesiale oomblikke in die lewe . . .”

Anneli, wat ook die bemarking- en handelsmerkbestuurder van Lutzville Wingerde is, het geweet dat so ’n wyn nie net hier in Suid-Afrika gewild kan wees nie, maar ook in die buiteland. Sy het die idee om die wyn as een van hul handelsmerke te produseer in 2012 met Lutzville Wingerde bespreek.

“Lutzville het uitstekende wynmakers én die infrastruktuur om sulke groot volumes te produseer. Ek het weer die konsep na die tafel gebring. Dis my baba. Ek is nie ’n wynmaker nie, maar het presies geweet wat ek soek, tot op die laaste bietjie ressuiker! Dit kom van jare se terugvoering van markte, gesels met kliënte . . .”

wyn
Vintales Wyne FOTO Salomien Smal van Of the Earth Photography

Vintales Wyne word sedert 2015 uitgevoer en kry gereeld toekennings by veral internasionale kompetisies waar die fokus op alledaagse wynkategorieë val, soos dié wat deur die Franse tydskrif Gilbert & Gaillard georganiseer word en wêreldwyd erkenning kry. (In 2018 het hulle ses goue medaljes by dié kompetisie gewen.) Die reeks bestaan uit 14 wyne en drie vonkelwyne. “Daar is werklik iets vir almal.”

Anneli is passievol oor die wynbedryf, maar het eintlik toevallig daar beland. Sy het ’n regsgraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en was ’n assistent-belastingadviseur voordat sy in 1991 Kaap toe getrek het.

“Ek het nie veel van ’n wynneus gehad nie en het ook nie as student wyn gedrink nie, maar die wynbedryf het na ’n goeie opsie gelyk vir ’n eerste werk in die Kaap. Ek het by Simonsvlei ingeval as bemarkings-assistent en myself mettertyd opgewerk totdat ek ná sewe jaar daar weg is as bemarkingsbestuurder. Ek was later by Overhex, vir wie ek ook handelsmerke ontwikkel het, voordat ek by Lutzville Wingerde begin het.”

Sy het haar verbeelding vrye teuels gegee met die skep van die Vintales-verhaal. Dis ’n fantasienaam – wyn (vin) en stories (tales) – en die slagspreuk is: Every wine has a story. Elke kultivar het sy eie sub-handelsmerk en ’n kombi in vintage-kleure wat daarby pas. So is daar die Sea Breeze (Sauvignon Blanc) met ’n seegroen-en-wit kombi, die Cabernet s’n is ’n vuilbruin-en-wit een, dié van die Pinotage ’n ligte vuilblou-en-wit en die Sunset Rosé s’n vuilpienk-en-wit.

Soos met die eerste kombi (wat sy aanvanklik vir eie plesier laat restoureer het – tot die aha!-oomblik haar getref het), was Anneli ook stap vir stap by die restourasieproses betrokke – van die kies van die kleure tot hoe die kombi aan die binnekant lyk.

Dis haar kos om sulke konsepte uit te dink, sê sy. As ’n idee haar te binne skiet – en daar is gereeld een – skryf sy dit op ’n lysie wat sy by haar dra. Sy is lief daarvoor om dit verder te ontwikkel en uiteindelik bekend te stel. Een van haar sterkste eienskappe is haar kreatiwiteit, dat sy die aanvoeling het om te weet iets gaan wérk.

In die ses jaar wat sy by die huis gebly het terwyl haar twee kinders klein was, het sy ’n florerende onderneming vir babaprodukte gehad, vertel sy. (Sy het onder meer lappoppe en beertjies ontwerp en in China laat maak. Op ’n stadium het sy duisende beertjies aan Woolworths verkoop, skoue oorsee bygewoon en plaaslike winkelgroepe voorsien van enigiets van bababaddens tot bottels. Maar later het die wyn-wêreld weer geroep.) Sy voel tuis in dié bedryf. “Ek hou daarvan om verhoudings met mense te bou en dis lekker om te sien as kliënte ons wyne en die handelsmerk geniet,” sê sy.

Anneli is ook opgewonde oor Vintales se betrokkenheid by Living Legends, ’n organisasie sonder winsbejag. Dié organisasie het ’n paar jaar terug begin met vaardigheidsontwikkeling (van sport- tot algemene lewensvaardighede) onder sowat 300 voorheen benadeelde kinders van Stellenbosch. Vandag reik hulle al uit na meer as 15 000 kinders in die hele streek.

“Vintales het ’n ooreenkoms om ’n vaste bedrag aan Living Legends te gee vir elke bottel wyn wat verkoop word. As jy dit vir oorsese kopers vertel, hou hulle baie van die idee dat hulle ’n bydrae kan maak deur ons wyne aan te koop. Soos ons handelsmerk groei, raak die bedrag wat ons aan hulle oorhandig, ál meer, en dis lekker om te weet dat ons op dié manier ’n verskil kan maak.”