Sy sou hom Jan noem. Haar tweede kind, tweede wonderwerk, omdat sy nie gedink het sy sou kinders kon hê nie.

“En toe hy gebore word, lyk hy nes ’n Jan. Rooi hare, spierwit. Dit was ’n groot geskinder in die hospitaal. [Sy en haar man is bruin.] Maar iets sê vir my ’n engel het oor my pad gekom. Dat ons ’n spesiale reis saam gaan hê.”

En sy noem hom Adam, na aanleiding van Martha Beck se gelyknamige boek, oor haar seun met Downsindroom. Daar was geen uiterlike teken van die serebrale verlamming waarmee Marlene se Adam later gediagnoseer sou word nie.

Op 25 Oktober verlede jaar, pas voor sy sestiende verjaardag, is hy oorlede. Sowat 2 000 mense het Adam, wat nie kon praat nie en aan ’n rolstoel gekluister was, se begrafnis bygewoon.

“Die ganse kabinet was daar. Gestremdes het ’n halfuur van die stasie geloop om dit te kon bywoon. Hy’t sonder taal, kultuur, godsdiens grootgeword. Maar Adam raak mense se lewens aan. Waaroor baklei ons oor sulke netelige goed? Ons is uiteindelik almal net mense.”

* Marlene het al verskeie toekennings gekry vir haar werk om die lot van gestremdes te verbeter. Onder meer die Commonwealth Point of Light, wat namens koningin Elizabeth in Kaapstad aan haar oorhandig is. Syself is gestremd, ná polio op 3.