Juandi Andrag, eienaar van Mantua Silkwear op Stellenbosch

Kleintyd het Juandi Andrag al in haar ma se klere voor die spieël rondgedraai en vir haar poppe klere ontwerp. “Klere is ’n manier om jouself uit te druk,” sê die petite blondine in jeans, ’n swart bloes en brogues wat ek op ’n snikhete dag by ’n koffieplek in Kaapstad ontmoet. Om haar lyf dra sy ’n fleurige syserp, een van haar eie skeppings, as gordel.

“Ek was nog altyd gek na serpe,” vertel sy. “Dis my drabare kuns.” Haar eenvrou-tekstielontwerpsaak, Mantua Silkwear, het sy in 2017 begin. Sy droom oor ’n mini-klerereeks later vanjaar, maar het begin met haar syserpe – tans vuurwarm nuus met groot modehuise soos Chanel, Ferragamo en Dries van Noten wat almal by hul Somer 2019-vertonings met serp-ontwerpe gespog het.

Mantua
Mantua

Juandi vertel die “manteau” – Frans vir mantel en die woord waarvan Mantua afgelei is – dateer uit die 17de en 18de eeu, toe modieuse vroue dit om hulle gedrapeer het. “My serpe is ’n vloeiende drapeersel wat jou uniek laat lyk.”

Haar liefde vir naaldwerk kry sy van albei haar oumas en haar ma. “Toe ons nog op skool was, het ek en my ma en sussie, Ilne, gereeld in die Oosterse Plaza in Johannesburg gaan lap koop en klere gemaak.” Ilne, ’n chemiese ingenieur wat ook ’n graad in geur en kosmetiek het, woon deesdae in New York met haar man en twee kinders. Juandi en haar man, ’n ingenieur, het drie dogters: ’n tweeling van veertien en ’n sesjarige.

Mantua
Mantua

Juandi kan haar lewe nie voorstel sonder tekstiele nie, maar die pad na haar luukse, drabare kunswerke het eers deur die kombuis gedraai.

Ná ’n kursus aan die sjefskool Institute of Culinary Arts (ICA) op Stellenbosch het kosstilering oor haar pad gekom. Die volgende tien jaar het sy as vryskut-kosstilis gewerk, iets wat haar gestimuleer en baie deure vir haar oopgemaak het. Dit was egter die blootstelling aan die tydskrifbedryf wat die vonk vir die modewêreld aan die brand gesteek het, en in 2012 het sy voltyds modeontwerp aan die Elizabeth Galloway Academy of Fashion op Stellenbosch gaan studeer. “Dit was baie harde werk om as ma voltyds te studeer, maar my passie het my aan die gang gehou.”

Haar reis na haar syserpe het in haar finale jaar begin, toe sy as deel van ’n projek ’n gevoelvolle storie oor modes moes vertel. “Ek het navorsing gedoen oor my Hugenote-voorsate en besluit om die Hugenote-kruis in waterverf te verf en op sy te druk. Ek hou van spontane, vloeiende kuns eerder as strak en begrens.” So het symateriaal haar “brug” tussen mode en kuns geword.

Mantua
Mantua

Juandi was nog altyd lief vir waterverf, maar vertel sy moes baie eksperimenteer met patroonuitleg en drukwerk om haar tegnieke te vervolmaak. Aan inspirasie het sy nooit ’n tekort nie. Die vroulike krag van die Griekse mitologiese godinne bekoor haar. “Seker omdat ek ’n diep spirituele konneksie met die lewensiklus het en sterk met my vroulikheid identifiseer. Vroue se vermoë om lewe te skenk is magies.” Sy maak staat op haar intuïsie, en in haar ontwerpe vergestalt sy dit met simbole soos die maan en sterre.

Kyk jy na haar serpe in van turkoois en pers tot #aardse roesrooi en olyfgroen, is dit duidelik dat kleur haar fassineer. “Kleur hang saam met ons emosies. Party mense is bang daarvoor en voel veilig met neutrale swart en roomkleur. Maar ek wil dit juis uitbeeld in my ontwerpe sodat mense verbintenisse daarmee kan vorm. Ek verkoop stories en drome ook,” verduidelik sy.

Sy speel ook met abstrakte dier- en Afrika-motiewe, iets waaraan veral toeriste ’n behoefte het. “Ek moet my deur die mark laat lei en wins maak sodat die besigheid organies kan groei.

In die toekoms sal ek graag ’n paar vroue wil aanstel om my met stikwerk te help en hulle hopelik só bemagtig.”

Dit is nie maklik om jou eie besigheid te hê nie, gee sy toe. “Jy is alleen en moet jouself elke dag motiveer. Maar dit is baie bevredigend om iets te skep wat mense gelukkig maak.” Sy besoek gereeld ’n sake-afrigter om aan die voorpunt van kreatiewe sake-oplossings te bly en het ook verskeie entrepreneurs uitgevra. “Dié wat misluk én diegene wat geslaag het.”

Mantua
Mantua

Maar sy bly die beste advertensie vir haar produk, want sy self is gek daaroor. “Symateriaal is warm in die winter en koel in die somer terwyl dit jou vel teen die son beskerm. Dis boonop hipoallergenies. En ’n erfstuk as jy dit mooi versorg. Bêre jou serp in ’n donker kas, maar hang dit gereeld uit om ‘lug’ te kry.” Soos sy sê: “In dié era van sosiale media en kitskos is ’n syserp iets durends.”

*Besoek mantua.co.za om Juandi se reeks van 16 syserpe te sien. Pryse tussen R1 550 en R1 800.