Ligdag was die trop grootvoete uiteindelik in hul stewige kamp. Dáár moes hulle bly tot-dat hulle hul nuwe blyplek aanvaar het.

Nè? Die volgende dag reeds druk hulle ’n yslike tambotieboom deur die 800 volt elektriese heining. En daar gaan hulle! Noordwaarts, in die rigting van hul vorige tuiste. Op hul pad lê talle landelike dorpies, stippels op Zoeloeland se heuwels. ’n Ramp in wording. Spoorsnyers, 4x4’s en heli-kopters kry nie daardie grote diere nie.

Françoise Malby Anthony, die trop se nuwe “ma”, durf met haar klein Tazz die grondpaaie aan. Penny, die uitbundige boelterriër, as geselskap. “Sawubona, het jy sewe olifante gesien?” vra sy almal langs die pad. Hulle kyk na die blonde vrou met haar vreemde aksent en swaaiende hande. Dan links met die pad op, regs met die pad af, voor hulle beleefd hul kop skud. Nee, hulle sien nie olifante nie.

Tien dae later eers is die olifante weer op Thula Thula. Françoise en haar oorlede man, die bekende bewaringsgesinde Lawrence Anthony, se wildreservaat naby Empangeni. Die trop is as probleemolifante gebrand-merk en as die Anthony’s hulle nie aangeneem het nie, was hulle geskiet. Om te keer dat hulle weer die pad vat, waak Lawrence drie weke lank feitlik dag en nag by die boma. Sirkel dit terwyl hy vir hulle sing en stories vertel tot hy hees is. Tot een warm middag toe Nana, die matriarg, haar slurp deur die heining steek en aan sy hand raak. En hy weet hulle kan vrygelaat word, hulle het hul nuwe tuiste aanvaar.

Dertien jaar later, op Vrydagoggend, 2 Maart 2012, sterf Lawrence tydens ’n sakebesoek in Johannesburg aan ’n hartaanval. Daardie naweek daag die trop by Thula Thula se hoofhuis op. Rusteloos, angstig, nie hul gewone, bedaarde self nie. Die laaste keer toe hulle gewaar is, was hulle ’n goeie twaalf uur daarvandaan. En presies ’n jaar daarna doen hulle dit, onverklaarbaar, wéér. “Iets het in hul koppe geroer toe my man se hart stop en hulle het myle en myle afgelê om saam met ons te treur, hom te groet, nes hulle maak as een van hul eie doodgaan,” skryf Françoise in haar boek (saam met Katja Willemsen), An Elephant In My Kitchen (Pan MacMillan, 2018).

Françoise was onderbevelvoerder op Thula Thula. Nes Frankie, die olifantkoei wat na haar vernoem is, van die trop was. Maar sy én Frankie moes albei uiteindelik bevel oorneem. Nana het die trop se leisels aan Frankie oorhandig toe sy blind begin raak.

En Françoise? Baie mense het gedink sy sal teruggaan Frankryk toe, haar geboorteland. Want hoewel sy betrokke was by die reservaat se bemarking en dag-tot-dag-bestuur van huisvesting, het sy bitter min van bewaring af geweet. Hý was die een in die kollig, tydens die Irak-oorlog aan die voorpunt om diere uit die Bagdad-dieretuin te red. Sy verhouding met die trop probleemolifante het hom die naam “olifantfluisteraar” besorg. Dit was inspirasie vir ’n TV-advertensie, met akteur Albert Maritz as Lawrence. Hy was reeds oorlede toe die advertensie geskiet is en Françoise se stem met die bekoorlike Franse aksent is daarvoor gebruik.

In dié macho omgewing was Lawrence die alfa-man. Sy die “uitlandse blondine wat snaaks praat”. Oorstromings, droogtes, stropers . . . Mabula, een van die olifante, wat die Land Rovers op wildkyk-ritte jaag. Tot konsternasie van die besoekers. Maar opgee het nie eens by haar opgekom nie. “Hoe kan ek die Thula Thula-droom agterlaat waarvoor ons so hard geveg het? Ek het my omring met mense wat die bos ken, toegewyd en passievol is. En leer steeds elke dag.” Deursettingsvermoë, om telkens ná terugslae terug te bons . . . dít het sy.

Kort ná Lawrence se dood word Thabo, die driejarige renosterkalf, deur stropers gewond. Dis die eerste noodgeval sonder haar Lolo, soos sy hom genoem het. Thabo was eerste in hul diere-“weeshuis”, vol selfvertroue met nuuskierige ogies. As groter kalf het hy graag op die dek gegaan waar die gaste ontbyt eet. Teen die reëls, ja! Een stamp van sy sware lyfie en ’n tafel trek soontoe . . . Die kos anderkant toe. In die bos is hy en die jong renosterkoei, Ntombi, onafskeidbaar. Dis dan ook ’n gesukkel om haar van hom af weg te hou sodat die skietplek ondersoek kan word. Gelukkig net ’n vleiswond, maar almal is daarna gedaan.

Dit help Françoise egter om die doel van haar lewe sonder Lawrence te definieer: Thula Thula se wildlewe is weerloos teen die mens se aanslag. En die mantel om hulle te beskerm nou hare – en hare alleen. Die renosters word gereeld onthoring om hulle minder aantreklik vir stropers te maak. Hulle het GPS-halsbande, wagte wat hulle dag en nag bewaak, daar is kameras oral. “Hulle is soos celebs wat deur lyfwagte omring word!”

Françoise was blond, sjiek, ’n Paryse-naar in murg en been. Diere nie deel van haar lewe nie. “Daar was kleintyd eenkeer ’n skilpad in ons tuin. Ek dink amper ons het ’n kat gehad . . .” Maar ’n rooikopman met “Suid-Afrikaanse skouers” sou dit vir altyd verander. Tydens ’n besoek aan Londen in 1987 staan sy voor in die hotel se taxi-tou. Sy word gevra of sy die taxi met die man aan die einde van die tou sal deel, hulle gaan in dieselfde rigting. Sy gee hom ’n kyk en sê nee, ferm.

Dit was Lawrence. Ag, dit was bitter koud en sy in ’n slegte bui, vertel sy nou, 31 jaar later. Toe hulle later begin gesels, besef sy hoe interessant die man is. “Dis minus 17 grade, die koudste Januarie in 50 jaar. En jy hoor van ’n sonskynland en sy wonderlike mense . . . voilà . . . ek dink dit was feitlik onmiddellik liefde.”

Sy spot vir hul eerste afspraak vlieg hy 10 000 km Frankryk toe. Tipies, hy was vreesloos, impulsief en het niks in sy pad laat staan nie. Op haar eerste besoek aan Suid-Afrika besoek hulle ’n vriend se wildplaas, Windy Ridge, in Zoeloeland. Dáár sou sy die eerste keer wilde diere sien. Eers ses kameelperde. “So hoog soos ’n dubbelverdieping en met die stadige, wiegende stap van ’n danser.” En toe renosters. “Tien jaar later het daardie einste plek ons s’n geword. Ons het dit Thula Thula gedoop.” Rus, vrede, harmonie in Zoeloe.

In die daaropvolgende 20 jaar sou Afrika sy stempel op dié Franse nooi afdruk. Maar ook omgekeerd. Sy is lief vir klere met diermotiewe, ’n baadjie, serp. Was altyd, selfs voor sy haar Suid-Afrikaner ontmoet het. Sy het ook nie haar Franse flair in die bos verloor nie. “My vriende vertel my altyd my bos-styl is modieus.” Altyd onder haar blad by die huis is Gypsy, haar wit, wollerige Maltese poedel. Want sy loop vinnig en die hondjie se kort beentjies kan nie byhou nie. Dan raap sy haar op . . .

Françoise het by bekende Franse sjefs kooklesse geneem en die lodge se personeel rol hul oë as sy kreatief in die kombuis raak. “Wees gereed om ’n proefkonyn te wees,” spot sy dan. Eenkeer was dit krokodilkerrie met ’n donkersjokoladesous. Sy gee lesse in Mediterreense/Franse cuisine vir groepe van ses en meer.

En ja, daar wás al ’n olifant in daai kombuis! Weliswaar ’n kleintjie, net tien weke oud. Tom, die sjef, het haar eerste gewaar. Die dingetjie het van die trop afgedwaal, hoe weet niemand nie. Olifante los nie ’n baba om self reg te kom nie. Baba Tom (só is sy toe genoem) is die vorige dag saam met die trop aan die ander kant van die reservaat opgemerk. En moes kilometers ver geloop het voor sy by die hoofhuis opdaag, moeg, honger en dors. Daar, in die kombuis, het hulle haar melk gegee, versigtig vir te veel fisieke kontak – anders verwerp die trop haar dalk as hulle herenig word. Die wildbewaarders het intussen die trop opgespoor en die storie het ’n goeie einde: Ma en dogter is herenig. ET, die bekommerde moeder, het haar dadelik met haar slurp nader gehark en onder haar ingetrek. “Waar wás jy?”

“Baba-olifante vaar nie goed as hulle deur mense versorg word nie. Hulle het hul ma, die olifante se struktuur nodig om te oorleef.” Sy wéét. In 2004 is ’n pasgebore kalfie, Thula, gebore. Iets was met haar pote verkeerd en sy kon nie regop staan nie. Haar uitgeputte ma, Nandi, het by haar gewaak, maar dit was net ’n kwessie van tyd voor die kalfie vrek. Dít kon die Anthony’s nie sien gebeur nie en hul gastekamer het die babakamer geword, waar sy dag en nag versorg is. Haar pote het sterker geword en kort voor lank het sy uitbundig rondgehol. Françoise se skaduwee, “meer hondjie as olifant”. Dit het skynbaar met haar goed gegaan. Maar op vier weke is sy skielik dood. “Ek was so na aan daardie dingetjie, ek het nooit heeltemal daaroor gekom nie.”

Françoise het intussen haar droom bewaarheid om ’n sentrum vir wilde diere wat wees is te bou. Die dikwels getraumatiseerde jongelinge word 24 uur van die dag versorg. Met Duma, ’n Duitse herdershond, as ongewone kinderoppasser. Só was daar al ’n seekoeibaba Charlie, skrikkerig vir water! Groot vriende met ’n wees-renostertjie, Makhosi. Soveel stories . . .

Verlede jaar is die sentrum deur stropers aangeval en twee klein renosters doodgemaak. “Ons het nou te doen met georganiseerde misdaad, swaar gewapende, gevaarlike mense.” Maar dan gebeur daar iets moois en sy kry opnuut hoop. Sy is trots op die veldskool wat sy begin het, waar jong mense van die omgewing (en vanoor die hele wêreld) kan kom leer oor die natuur en bewaring. Ook van stroping. En die gevolge vir hul kinders se kinders. Lawrence se as is naby die dam gestrooi waar hy soveel ure deurgebring het. Numzane (Meneer), ’n olifant vir wie hy baie lief was, se bene is ook soontoe verskuif. Die trop besoek die plek gereeld, woel hul gestorwe mater se bene rond. Hulle het háár, Lawrence se Frankie, ook nie vergeet nie. En die gebruik voortgesit om nuwe kalfies vir haar te kom wys, soos hulle met hom gedoen het. Hulle kom steeds nou en dan, al was daar geruime tyd nie babas nie omdat die aanwas deur geboortebeperking beheer word. Thula Thula het te klein begin raak.

Vir haar is daar weer geluk, in die arms van Clément “met die sagte oë”. Hy is ’n Durbaniet, oorspronklik van Mauritius en Franssprekend, soos sy. Lawrence sou trots gewees het, want sy nalatenskap gaan voort, sê sy. “En hy ís trots, want sy teenwoordigheid is oral op Thula Thula. Sy hart, sy siel is altyd met ons.”

Lawrence se teenwoordigheid is oral op Thula Thula. Sy hart, sy siel is altyd met ons Françoise
Françoise met Ilanga, een van die bulle, op die agtergrond.
Mandla, seun van Nana, is die grootste bul met die sagste geaardheid.
Sonsondergang op Thula Thula.
Sy het eerste kameelperde gesien.
Pan Macmillan, 2018, R290
Pan Macmillan, 2009, R185