’n Nguni-bees is ’n mooi ding – insgelyks ’n handsak van dié bees se vel.

Kort ná haar aankoms in Nigerië begin Amanda Bekker, eienaar en ontwerper van Nguni Handbags, se handsak-droom. Dit was sowat twee dekades gelede toe sy saam met haar man, Vos, en dogter, Imke, na dié land met sy “vriendelike, fynbesnaarde” mense verhuis het vir sy werk as telekommunikasiespesialis.

Sy ontmoet ’n handsakmaker, ene Salah, geklee in wapperende gewade, wat met die hand handsakke uit krokodil- en slangleer maak. “Ek vertel hom toe van die mooi Nguni-bees van die Vallei van ’n Duisend Heuwels, met die patrone op sy vel en elke vel wat verskillend lyk. Hy wou dadelik daarvan hê.” Twee maande later keer sy terug uit Suid-Afrika met drie velle – maar haar vriendinne het dit dadelik opgeëis. “Salah het bloot gesê: ‘No problem, Madam, next time.’”

Dít het toe nie gou gekom nie. Amanda, wat onderwys studeer het maar opgeskop het, het eers ’n gaping gesien in eiendomsverhuring en invoer uit Suid-Afrika na Nigerië. Imke (27), wat tans aan die Silwood-kookskool in Kaapstad studeer, is skool en daarna universiteit toe.

In 2016 gaan Amanda, self ’n foodie, toe vir ’n kookkursus van vier maande na Calabria in Suid-Italië en keer vol kreatiewe inspirasie terug. Daardie Nguni-handsakke moes sy maak.

In ’n trendy koffieplek in Kaapstad, geklee in swart, bruin manshoed op haar donkerblonde hare en afgerond met een van haar eie handsakke, bruis sy: “Elke sak vertel ’n storie.

“Jong Nguni-veldwagtertjies moes tweeduisend jaar gelede maniere beraam om elke bees te identifiseer. Hulle het toe gediggies opgemaak wat verband hou met die natuur. Hulle doop die diere byvoorbeeld ‘gespikkelde eier’ en skryf ’n kort gediggie met dié frase.” 

Elke handsak wat sy maak, kry dus sy eie “gediggie” in ’n leer-“paspoort”. Yvette Morgan, ’n letterkundige van Port Elizabeth, doen die navorsing oor die Zoeloe-gedigte en -woorde.

Die handsakke in nege style – met name soos Shaka (’n groot reissak), Nandi (’n klein handsak) en Thandi (inkopiesak) – word vir ’n nismark vervaardig “Dit is ontwerp vir sterk, trendy vroue,” sê Amanda. Vroue in Woodstock, Kaapstad, maak die sakke, en die man wat die patrone sny, is ook plaaslik. Elke vel kies sy met die hand uit by ’n leerlooiery in KwaZulu-Natal. “Wanneer ek daar rondkruip, sien ek al hoe die handsak gaan lyk.”

Dié beesras betower haar omdat die Zoeloes hulle as heilig beskou en slegs geslag het om hul voorvadergeeste te eer. Dit is ’n soort geharde superras, kleiner as ander beeste en het duisende jare gelede uit Noord-Afrika (toe Europa) na die Suide migreer.

Amanda wou haar “storie” wyd deel en beland verlede jaar by Monica Buzzoni, wat op haar dag al vir ontwerpers soos Bruno Mali en Salvatore Ferragamo gewerk het, en die “Anna Wintour” van handsakke in Italië is. Dié het haar hande bewonderend saamgeslaan oor die vakmanskap. Buiten die Italianers is veral ook Duitsers, Switsers en Nigeriese toplui in vervoering oor die sakke.

“Dié kreatiewe reis was nie pynloos nie,” sê Amanda, wat haar besigheid in twee lande bedryf met hoofsaaklik die langhaar-Nguni-velle, wat skaars is. “Foute is duur,” bieg sy. Maar die beloning is as vroue ’n “storie van die Nguni’s” oor hul skouer hang.

Nes die Amerikaanse uitvinder Thomas Edison glo sy: Inspirasie is net die begin, die res harde werk. Destyds toe sy haar studies opgeskop het, het haar verbysterde pa gesê: “Nooi, jy maak jou bed op – en jy moet op hom lê, al is hy hard.”

Vandag lê sy knus.