Sy sou die Oscar-wenner Meryl Streep, wat vanjaar 70 word, kies om haar lewensverhaal in ’n fliek te vertolk.

Vir dr. Elna McIntosh, bekende Gautengse seksterapeut, gaan die wêreld vanjaar op sestig opnuut oop. Sy het einde 2018 afgetree nadat sy 33 jaar aan die stuur was van die Disa-gesondheidsorgkliniek in Johannesburg. Die kliniek help vroue met seksprobleme – en sy was die stigter daarvan.

“Sestig is nie meer oud nie. Al dink mense op sestig sit jou kop op jou ken en al jou hare val uit,” lag sy. “Bog.”

Elna het op 5 Julie 2018 die groot ses gevier. As geskenk aan haarself laat tatoeëer sy toe in Augustus haar tepels op Worcester.

“Ek het nie eens gedink ek gaan veertig haal nie nadat ek op 36 met kanker in my linkerbors gediagnoseer is. Toe kry ek dit ’n tweede keer op 48, weer in my linkerbors. Daarna het ek rekonstruktiewe chirurgie ondergaan. Nou is ek twaalf jaar in remissie.”

Dié bedrywige afgetredene reken sy is op sestig geregtig om haar lewe en vrouwees te vier. “Sommer sestig geskenke – vyf elke maand van dié jaar.”

Sedert Julie besoek sy elke maand ’n ander wêrelddeel. Plaaslik en internasionaal. Heel eerste is sy en haar twee ouer susters na ’n spa, “waar ons net gaan lê het om gepamperlang te word”. In Augustus, ná die tepelprosedure, het sy ’n ruk lank by ’n vriendin op McGregor gaan herstel. Hoewel haar regterbors nooit deur kanker geaffekteer is nie, moes albei tepels dieselfde kleur wees. “Dus moes ek een tepel laat ‘aanbring’ en aan die bestaande een laat werk sodat die kleur dieselfde lyk.”

Reeds in September het sy al weer die eksotiese Indië besoek en in Oktober en November is sy na Amerika. Daarna het sy salig in die waters van Mauritius geswem en in Januarie is sy na die Vallei van ’n Duisend Heuwels in KwaZulu-Natal, waar sy die golwende groen ingedrink het. “Ek besoek dié landskap elke Januarie, want dit is die blyplek van my ‘kinders’ . . .” Dis iets waaroor sy nie baie praat nie, maar Elna het hier heelparty kinders in haar nie-amptelike pleegsorg blyplek gegee en hulle help grootmaak, leer roei, blootgestel aan die wye wêreld.

“Ek wil nou reis. Om die lewe te geniet, nie om te werk nie.” Sy volg juis Chantelle Flores se blog, 51countriesandcounting.com, wat haar inspireer om ook te waag en te verken.

“Sy’s ’n Suid-Afrikaner wat alles verkoop het en ’n lewe uit haar blog maak. Sy besoek eksotiese plekke waarvan ek net kan droom en dit lyk so wonderlik.

“Ek het my lewe lank ander gehelp, lang ure gewerk.” Dit is nou tyd om goed te wees vir haarself, glo Elna. Sy gee egter wel nog op uitnodiging klas aan universiteite in Kenia, Botswana, Indië en Namibië, en plaaslik tree sy op as moderator vir meestersgraad- en doktorale studente wat seksnavorsing doen aan die universiteite van Pretoria en die Witwatersrand. “Dit stimuleer my en hou my op hoogte van wat in my vakgebied gebeur.”

Uit die aard van haar werk was Elna altyd in voeling met haar eie seksualiteit. En haar spesiale vriend van die afgelope twintig jaar, wat vir Dokters Sonder Grense werk, is mal oor haar, vertel sy.

“Hy bewonder my borswonde ná die rekonstruksie, gee nie om vir my onperfekte liggaam nie. Sestigjarige vroue is baie seksueel, want ons vrees nie swangerskap nie. Ons is gewoonlik tuis in ons liggaam. Rekmerke, keisersnitte en selluliet vertel stories. Mans respekteer dit. Hulle beskou dit as ‘dapper’. Hulle dink ons is sterk omdat ons soveel deurgemaak en oorwin het. Hoekom sou mens daaroor ongemaklik wees? Ek is lief vir my sagte heupe, want my kêrel het soveel om aan te vat. Dink maar aan die rolprent Shirley Valentine [van die tagtigs], waar die middeljarige Shirley uit haar saai Britse huisvrou-bestaan op haar eie met vakansie na Griekeland is en ’n minnaar ontmoet wat haar bemin het – rekmerke en al.”

Tog het Elna ná haar mastektomie alle spieëls uit haar badkamer verwyder. “Toe ek jonk was, was my borste nogal plat, want ek het so baie sport gedoen, maar dit was steeds nie lekker om vir myself te kyk toe hulle verwyder is nie.”

Deesdae kyk sy weer vir haarself in die spieël ná die fyn handewerk van Tanya Swiegers-Loots, ’n derma-pigment-tegnoloog op Worcester. Tanya is die enigste tegnoloog in die land wat in tepel/areola-restourasie ná borsrekonstruksie spesialiseer. “Ek voel soos ’n millenniër, want hulle het mos almal tattoos. So, ek is deel van die span.”

Elna is hoeka mal oor sosiale media. “Soggens as ek wakker word, kyk ek na my slimfoon: Instagram, Facebook en Twitter. Jy moet weet wat aangaan. Ek durf nie agter raak by die jongklomp nie. Dit hou my ingelig en help om waardevolle inligting oor seksuele gesondheid te versprei. Ek moet die boodskap uitkry.”

Haar vroulikheid leef sy ook op ander maniere uit. “My gunsteling-blom is sintjosefslelies. Elke dag maak een oop, soos ’n geskenk. Ek bederf myself gereeld met ’n bos. Dit is deel van sestig wees – jy maak ’n ophef van jouself.”

Sy laat vryf en skrob ook gereeld haar voete. “Daar is niks soos ’n goeie pedikuur nie. En ek hou van rooi toonnaels.” Gereelde besoeke aan die haarkapper laat haar goed voel. Sy stuur trots ’n foto op WhatsApp van haar hare, pas gestileer en gekleur. En sy bederf ander. “My susters kry gereeld geskenke: mooi onderklere, spabehandelings, ’n skildery. Gee is mos lekker.”

As ’n jong verpleegsuster wat in die waakeenheid van die hospitaal gewerk het, moes sy altyd jaag. “Dit is hectic, want alles gaan oor lewe en dood. Ek het te vinnig geëet, geloop, als vinnig gedoen. Iemand het eenkeer vir my gesê ek was toe so vet omdat ek so vinnig eet. Nou dink ek na voor alles wat ek doen. Ek eet stadiger, ek dink oor elke happie. Ek is goed vir myself, en ek dink voor ek besluite neem, ek geniet dinge. Maar my lewe laat dit toe. Ek moes baie hard werk sodat ek nou vergunnings aan myself kan maak en is dankbaar daarvoor.”

’n Nuwe stokperdjie is om legkaarte te bou, “die prentjies van die Nederlandse spotprenttekenaar Jan van Haasteren”. Dit is haar silent retreat, verduidelik Elna. “Dit skep kalmte ná ’n dag se chaos. Ek kan ’n hele naweek legkaart bou. Ek is obsessief oor sy werk. Dit fokus my gedagtes.” Boonop het navorsing gewys as jy gereeld ’n legkaart met 1 000 tot 2 000 stukke bou of ’n blokraaisel voltooi, kan jy Alzheimer se siekte troef. “Dit leer jou om bewustelik te leef,” sê sy.

Baie van haar ouer vriendinne draf nou en het aan avontuur-sport begin deelneem. “Ek is so bly ek kan nou net rustig wees, hoewel dit waar is dat van die beste marathon-atlete eers in hul veertigs ontpop en heelparty vroue avontuursport in hul middeljare ontdek. Maar ek het sewe keer die Comrades voltooi toe ek jonk was, ‘ge-Ysterman’, en ek was mal oor die moordende Dusi-kanovaart. Ek het tot Kilimandjaro uitgeklim. Ek hoef nou niks aan myself te bewys nie.”

’n Groot deel van haar vervulling op sestig is om saam met haar seun, Garth, ’n animasiekunstenaar, te kuier. Hy het onlangs van Nieu-Seeland na Kanada verhuis en sy besoek hom oorsee of hy kom kuier by haar in Suid-Afrika. Hy het pas aan die wetenskapsfiksie-rolprent Mortal Engines gewerk.

“En kán ek net soos ’n trotse ma brag oor al die plaaslike vroue wat nou so presteer, vroue wat ek gementor het!” Een van hulle is Tlaleng Mofokeng, met ’n rits toekennings agter haar naam, soos die 120under40-toekenning in 2016 van die Amerikaanse miljardêrs en filantrope Bill en Melinda Gates se stigting. “Sy word pal deur hulle uitgenooi om wêreldwyd gesellighede as spreker oor vroue en seksuele kwessies by te woon.”

Dan spot Elna: “Jy weet, sestig het ook geldelike voordele. En ek gebruik dit. Hier ’n 10%-afslag, daar ’n ietsie. Afslag op fliekkaartjies, ek laat nou my tande ook ‘oordoen’, nuwe implantate, my tandarts doen dit vir my goedkoper omdat ek sestig is. Ek wil met mooi tande graf toe gaan. Nóg ’n geskenk aan myself.”

Op 60 bederf ek myself elke maand met vyf geskenke – 60 oor ’n jaar! dr. Elna