Versigtig seil sy op haar rug deur die ruwe grotgangetjie. Haar kopliggie af om nie die dierelewe te versteur nie. Die enigste lig, so ’n armlengte ver, honderde vlermuisogies. Soos die hemelruim op ’n Bosveldse nag. Tjoepstil, sonder om te beweeg, kýk hulle net. Die reuk, nat en muf, ’n herinnering dis hul en baie ander “gediertetjies” se blyplek.

Eers moes die span, tou om die lyf, in ’n loodreg tonnel af. Toe die nuwe uitdaging, die enigste manier vorentoe op hul rug deur die beknopte ruimte. Die vervaardiger van die 50/50-insetsel het besluit sy draai om. “Gaan jy en die kameraman maar voort.” “En ons hét,” vertel Bonné de Bod, veelvuldig bekroonde natuurlewe-TV-aanbieder en vervaardiger van dokumentêre films. Die adrenalien por jou aan. Jou hart klop ’n bietjie vinniger, jou hele lyf voel meer lewend, jy gaan ’n ander “sone” in. En jou kop, dié is helder, uitsluitlik op jou doelwit gefokus. Dit raak soos ’n dwelm, jy soek nog. Sy het ’n kursus gedoen oor hoe om slange te hanteer, ook vir 50/50.

Met haar skubaduik-lisensie kan sy die dieptes van die see ondersoek. Maar selfs Bonné moet toegee sy en haar medevervaardiger, Susan Scott, het hul lewe soms in gevaar gestel tydens die verfilming van hul dokumentêre rolprent STROOP: Journey into the Rhino Horn War. Nou, agterna, erken sy dit. Tóé wou sy net die volgende skoot op film vaslê.

Ons sê, ag shame, die arme renosters en klim onder die stoel in as die gruwelike tonele van hul verminkte karkasse op TV verskyn. Dié twee vroue wou iets daaraan dóén. En het dit boonop self gefinansier, met skare-finansiering en ’n borg of twee.

Bonné, ’n volle 1,76 m lank, lyk nietemin asof ’n sterk wind haar kan wegwaai. Haar polse tingerig, hande fyn. Maar daai potblou oë hou joune vas en jy wéét: Dié is geen muurblom nie.

Susan was soms skrikkerig. “Kom ons los dit liewers” – terwyl sy nogmaals ’n versteekte kamera aan Bonné se bors vasplak. “Maar ons móét,” veto Bonné dit. Voorwaarts, na die markte in Viëtnam en China, om die renoster-horingprodukte, van medisinaal tot juweliersware en ornamente, af te neem. As kastige ryk toeriste wat eksotiese juweliersware wil koop, ontmoet hulle die rampokkers met hul dik, goue kettings – ’n kamera verskuil onder Bonné se serp.

“Wat as hulle ons deursoek en die kamera gekry het?” vra Susan ná ’n benoude rit saam met die booswigte in ’n goue Lexus (nogal). Hul ledemate sou in die rivier opgeëindig het. Of die polisie, in die misdaadsindikate se sakke, sou hulle onder een of ander voorwendsel in hegtenis geneem het.

Hulle wag nou nog vir toestemming om daar te verfilm en besoek die Ooste onder die dekmantel van rugsak-reisigers. Teken by ’n hotel in en betaal met ’n kredietkaart. Slaap dan by ’n ander plek en dok met kontant op.

“Want ons was bang.”

FOTO Getty Images / Gallo Images

Daar is nie mediavryheid in China en Viëtnam nie. Met China wat die meeste joernaliste ter wêreld in die tronk het. Hulle wou egter die twee punte bymekaar uitbring: Die slagting van ons eietydse dinosourusse; die vraatsug na hul gesogte horing duisende kilometers hiervandaan.

Ter plaatse was daar ook benoude oomblikke. As sy in die hof sit en stropers neem foto’s van háár. Die besef dat hulle nou weet hoe sy lyk. “Hulle maak dit persoonlik. ‘Hoekom is jy hier, neem jy my af?’ Al fokus ons nie op ’n spesifieke sindikaat nie, maar die hele prentjie. Die massa stropers, boere, veeartse, eienaars, alle betrokkenes.” Die resultaat nie jou alledaagse natuurlewe-dokkie nie, waarvan die tien internasionale toekennings tot op hede getuig.

Dit begin met ’n insetsel vir 50/50 oor die renosterslagting. Sy sit tussen twee karkasse, die eerste keer wat sy so iets gesien het en tot vandag toe die gruwelikste. Susan was agter die kamera.

“Ons moes die storie in twaalf minute vertel. Nie baie tyd vir so ’n komplekse probleem nie, wat jy soos ’n ui laag vir laag moet afskil. En plotseling het ek net geweet: Dié storie vra meer.”

Hulle het mekaar goed aangevul. Susan, agter die kamera en regisseur, sou ’n toneel in haar kop sien en op papier neerpen. Bonné, meer prakties, sal sê hoe dit in die praktyk beter kan werk.

Dít het sy vier jaar lank geëet, geslaap, gedroom. Sy kan op een hand tel hoeveel keer sy by vriende en familie gekuier het. Boonop het sy en Susan by hul onderskeie ma’s ingetrek om geld te spaar. Nóú sien sy uit na tyd saam met Nala, haar agt jaar oue hond, Canis africanis – “liefdevol met tonne persoonlikheid”. ’n Welverdiende vakansie. Ag, sy weet nou al, ná twee weke begin sy kriewel, uitsien na die volgende projek.

Aan die Hoërskool Linden in Johannesburg het jy in sport uitgeblink, jy was slim, mooi. Tog het jy “onsigbaar” gevoel?

Ek was teruggetrokke en skaam en het nie “koel” genoeg vir die in-groep gevoel nie. Dit voel nou verspot, maar as tiener word jou uitkyk gevorm deur ander se persepsie oor jou. Dit het my egter sterker gemaak, meer vasbeslote om te bereik wat ek wil. Jy wonder hoekom sekere dinge gebeur, maar uiteindelik pas dit soos ’n legkaart inmekaar, perfek.

Jy het ’n graad in bedryfsielkunde aan Tuks behaal, daarna ’n drama-diploma by City Varsity in Kaapstad, met modelwerk tussendeur. Hoekom die Kaapse draai?

My pa, Adrie, is ’n bedryfsielkundige. My jongste suster, Andri, ook. Op Tuks was ek betrokke by koshuis-verhoogproduksies en het besef ek wil stories vertel. Ek het kleintyd verhoogstukkies geskryf en my oudste sus, Marlette, moes my met my pa se outydse videokamera afneem terwyl ek dit opvoer. Dis dus maar net ’n liefde wat ek herontdek het. Tydens ’n produksie het ’n modelagent my raakgesien en ’n kontrak in die Kaap aangebied. Ek het my Citi Golf gepak en Kaap toe getrek. En onder meer ’n rolletjie gehad in Villa Rosa, as ’n biker chick wat gesellighede reël. In 7de Laan het ek ’n boereworskompetisie gereël en Marko ’n vet klap gegee.

As model werk jy saam met die beste fotograwe en is ’n kontrak by ’n voorste agentskap in Londen aangebied ...

Daar was ’n duidelike vurk op my pad. Ek het dieselfde tyd ’n oudisie as aanbieder van 50/50 geslaag en nie twee keer gedink nie. Die natuur was altyd ’n passie. Ons gesin het twee keer ’n jaar Krugerwildtuin toe gegaan. My oupa Willem het elke boom, plant en dier geken, ook die Latynse naam. Ek het met 50/50 grootgeword, my ma Sondagaande gevra of ek later kan opbly om daarna te kyk. Ek was sewe wonderlike jare by die program betrokke, en het ook insetsels vervaardig.

Het jy jouself ooit as ondersoekende joernalis gesien wat met ’n versteekte kamera in die Ooste sou rondhol?

Nee, ek wou stories oor die wonders van die natuur vertel. Dit na mense toe bring, ’n rol speel in hul waardering van die natuurlike wêreld. En hulle hopelik inspireer om dit te beskerm. Die mooi van wildehonde, dolfyne, sulke wonderlike stories. Daardie prentjie in my kop het beslis verander.

Die dokkie fokus op mense wat hulle vir die renoster se welsyn beywer. Gewone mense wat buitengewone goed doen.

Ons volg byvoorbeeld drie staatsaanklaers, toevallig vroue. Hulle kom te staan teen die stropers se goed betaalde, geoliede regspanne. Die regstelsel word gemanipuleer om hulle so lank moontlik uit die tronk te hou.

Dit duur dikwels jare voor ’n saak voorkom. En daar is die middelman, wat die horings landuit neem. ’n Chinees is byvoorbeeld gevang met drie reuse-horings in sy bagasie, die waarde daarvan sowat R13 miljoen op die swartmark. Hy het ’n boete van R500 000 gekry. Die regstelsel bevoordeel die misdadiger, nie die slagoffer nie.

'n Dokkie? Nee, 'n riller!
FOTO Getty Images / Gallo Images

Daar is soveel renosterflieks en -boeke. Wat maak dié een anders?

Ons het baie tyd daaraan bestee en kyk na die volledige prentjie. Dis boonop ’n unieke Afrika-storie vertel deur twee Suid-Afrikaners. So baie mense sê julle moet ’n Amerikaanse akteur gebruik, of ’n Amerikaanse akteur moet die stemwerk doen. Néé. Dis ’n rou, eerlike weergawe van die renosterstorie. En jy voel dit, jy voel daardie konneksie met die mense. Ons gaan op ’n reis met elkeen, vertel wat met hulle gebeur.

Dis ’n wipwaentjierit van emosies, soos ’n riller. Casper de Vries, wat by die première was, vergelyk dit met die werk van Michael Moore, die bekroonde Amerikaanse filmmaker van onder andere Fahrenheit 9/11.

Daar moes baie oomblikke gewees het wat jou diep geraak het. Kan jy een uitsonder?

Ons was saam om ’n twee dae oue wesie te gaan haal wie se ma afgemaai is. ’n Zoeloe-koningin, Mantfombi, was toevallig ook by die optelpunt, ’n vulstasie. Sy het kom kyk wat aangaan en die renostertjie sy naam gegee, Makhosi. Haar seën oor die kalfie uitgespreek, wat agterop die motorsitplek binneaarse voeding gekry het. Dit was baie spesiaal, so mooi, en ek het geweet Makhosi gaan dit maak. Makhosi en Charlie, ’n wees-seekoeitjie, het daardie eerste nag by die Thula Thula-rehabilitasiesentrum reeds vriende geword, mekaar beruik, sy het hom gesoen. Hulle was onafskeidbaar en ek glo vas dit het daartoe bygedra dat sy oorleef het. Daardie einste sentrum is later deur stropers aangeval. Twee renostertjies is doodgeskiet, ’n meisie verkrag. Dis ’n wrede, siniese oorlog.

Hoe gemaak dat jy nie emosioneel betrokke raak nie? Jy durf nie, want dan sal jy nie die storie kan vertel nie.

Ons sien soveel karkasse en dit waartoe mense in staat is. Dít ontstel my die meeste. Dat die renoster net as ’n voorwerp gesien word en nie ’n lewende dier met ’n persoonlikheid nie. Dis moeilik, maar soos ek vir Susan sê: Jy moet terugtree van jouself, van jou ego en besef dit gaan nie oor hoe jy op daardie oomblik voel nie. Dit gaan oor hulle, die renosters. Dit maak dit makliker om jou emosies te hanteer.

Die dokkie het deure vir julle oopgemaak ...

Goeie nuus! ’n Internasionale TV-kanaal bekend vir hul uitstaande dokumentêre programme wil ons volgende twee finansier. Hulle was mal oor STROOP en wou weet wat ons volgende idees is. Ons het besluit op lugbesoedeling, ’n probleem wat ons almal raak. En water, waaroor die volgende groot oorlog sal gaan.

Wat kan iedereen van ons doen om ’n verskil te maak?

Jy hoef nie met ’n geweer in die Krugerwildtuin rond te hol nie. Laat jou stem hoor met die produkte wat jy koop. Deel daardie storie wat jou raak op sosiale media, ’n magtige medium. Hou die renosterstorie lewend om die dier lewend te hou. Ons verloor steeds drie renosters per dag, een elke agt uur, meer as 1 000 elke jaar. Die Chinese regering wou die verbod op renosterhoringpoeier in hospitale ophef. Die internasionale protes was so hewig, hulle het dit so pas weer uitgestel. As ons verandering wil sien, moet ons daarop aandring. Nie agteroor sit en vinger wys na ’n spesifieke organisasie of regering nie.

Dit geld van plastiekstrooitjies tot die etiese behandeling van diere wie se vleis ons eet?

Alles. Mense voel hulpeloos, moedeloos. As jy een klein dingetjie doen en iemand anders doen dit ook, word dit later ’n groot golf. #MeToo is ’n voorbeeld. Ek is so trots op daardie vroue wat opstaan en hul stories vertel. Want nou begin dinge verander. Daar is oral seksisme, ook in die wildlewe-filmbedryf. Maar ek dink as vroue vertel ek en Susan stories op ’n ander manier. Ons het byvoorbeeld ’n konneksie gehad met die vroue-staatsaanklaers. Hulle is vreesloos, sterk vroue. As dit ek was, het ek oor my skouer geloer. Hulle nie. Dít het ons op kamera vasgevang.

Glo jy nog aan die goedheid van die mens, of dink jy ons is ’n nikswerd spesie?

Ek was baie naïef, ek het net die mooi in mense raakgesien. Ek weet nou waartoe ons in staat is, hoe gewelddadig die mens kan wees. Met geen respek vir lewe nie, vol gierigheid. Maar ek het ook ongelooflike mense ontmoet wat my inspireer. Ek twyfel nie ’n oomblik dat die mens ook goeie dinge kan doen nie. Wat ons met die renosterstropery sien, is egter pure boosheid. Ja, armoede speel ’n groot rol. Dis ’n komplekse saak en ons fokus daarop in die film. Maar dit het ook verander sedert ons begin verfilm het. Dis nou meer brutaal en gewelddadig. Dit gaan nie meer net oor oorlewing nie, maar gierigheid.

Tydens die redigering het Susan met die erger tonele baie emosioneel geraak. Bonné het weer gehuil in die mooi oomblikke. Soos toe Makhosi die eerste keer reg rondom die rehabilitasiesentrum hardloop. Die dokkie beeld dit in stadige aksie uit. ’n Bondel spiere, dawerende pote, net maar ’n uitgelate jongeling in die oomblik vasgevang. “Nature is given by God while managed by man.” Ironies genoeg, die woorde van ’n Chinese filosoof op ’n plakkaat in Hongkong. Daar waar klaarblyklik juis nie ’n konneksie bestaan tussen mens en die natuurlike wêreld (soos diere) nie, sê sy.