Wat het julle laat besluit op Texas?

Texas is een van die sogenaamde “Southern States” en die mense baie meer ontspanne, gasvry, oop en vriendelik as diegene meer noord. Die leefstyl in hierdie omgewing is seker die naaste aan wat jy in Suid-Afrika sal kry. Die klimaat is baie dieselfde, hoewel die winters en somers ’n bietjie meer ekstreem is! Texas is ook een van die min state wat nie ’n staatsbelasting het nie (die staat kry groot inkomste uit brandstof). Ons betaal wel steeds federale belasting, maar dit is baie min. State soos Kalifornië is nie so gelukkig nie, hulle betaal twee belastings.

Bly julle al lank daar?

Ons het ons groenkaarte in 2014 gekry, via ’n EB-5-werkskeppings- georiënteerde beleggingsprogram, maar is permanent hier sedert middel 2015.

Is alles werklik groter in Texas?

Beslis! Dis ’n massiewe staat, reis-afstande is groot in enige rigting, en die meeste voertuie op die pad is groot SUV’s en sogenaamde trucks (hulle weet nie van Suid-Afrika se bakkies nie, en sê die goed is in elk geval te klein!). Iets soos 30% van die VSA se trucks word jaarliks in Texas verkoop. Die mense hier dink en doen alles op groot skaal.

Hoekom word Texas die “Lone Star State” genoem?

Dis na aanleiding van die enkele ster op hul staatsvlag. Min mense is bewus van die feit dat Texas in ’n stadium ’n soewereine land was voordat hulle by die Verenigde State aangesluit het. Dis derhalwe die enigste staat wat sy vlag op dieselfde hoogte as die Amerikaanse vlag mag hys – geen ander staat mag dit doen nie.

Mense hier is baie patrioties en lojaal teenoor hul staat. Tradisies soos derdegeslag-individue wat na dieselfde universiteit gaan, is volop. Hulle is ook net sulke patriotiese ondersteuners van hul sportspanne soos SA rugby-liefhebbers, of selfs meer.

Hoe groot is brandrissie regtig?

Rissie/Mexikaanse kos/Tex-Mex is groot op die meeste spyskaarte hier. Texas is die mees suidelike staat en grens aan Mexico, dus bied dit ’n deurgang vir die lande van Suid-Amerika. Hier is ’n groot Mexikaanse/Spaanse verteenwoordiging, spekulasie sê tot 7%, maar dis baie moeilik om te verifieer omrede baie Mexikane onwettig hier bly.

Watter klere is eie aan Texas?

Die hele cowboy-ding het baie verwater geraak oor die jare. Op die paaie ry party nog soos cowboys, maar darem nie so erg soos Suid-Afrika se taxi’s nie! Tans sal jy nog so hier en daar mans met stetson-hoede sien rondloop, terwyl cowboy-tipe stewels gewild is in die winter, maar oor die algemeen klee die mense in stedelike gebiede maar dieselfde as in byvoorbeeld in New York.

In die plattelandse gebiede met plase is jeans en cowboy-hoede meer aanwesig. Dan is daar ook in stede soos Fort Worth strate en areas wat doelbewus soos in die “ou dae” gehou is, en dit word dan gewilde toeriste-attraksies waar jy allerhande memorabilia kan koop. Hulle hou selfs bull runs en rodeo’s, wat baie gewild is.

Mis jy Afrikaanse TV?

Ons het jare terug ons kinders in Engelse skole gesit, met die droom om ander opsies te oorweeg sou die geleentheid opduik. Afrikaanse TV is dus nie iets wat ons baie gekyk het nie. Oor die algemeen is TV nie belangrik in ons lewe nie, so ’n bietjie nuus hier en daar is genoeg.

Die nuus aan hierdie kant is ook materieel verpolitiseer en dieselfde gebeurtenis op Fox en CNN klink glad nie dieselfde nie! Nuus-ankers verskaf nie meer nuus nie, hulle gee hul eie menings en kommentaar daarop, so baie feitelike inligting verdwyn in die proses.

Hoe warm word dit?

Die klimaat is soos in Suid-Afrika, net omgekeer (so ons kan nou ’n White Christmas geniet) en die temperature ’n bietjie meer ekstreem. In Julie en Augustus kan die kwik vir lang tye bo 40 grade Celsius bly, met ’n groot humiditeitsfaktor, omrede Texas meestal laagliggend is. Dallas is byvoorbeeld maar 140 m bo seevlak, dus stroom die humiditeit vanaf die Galvestonbaai-gebied aan die Golf van Mexico in.

Die winters kan ’n bietjie geniepsiger wees as in Johannesburg, maar dis glad nie jou Chicago- en New York-temperature nie. Die lekker deel, wat klimaat betref, is dat alle wooneenhede gebou is vir meer ekstreme weer. Die isolasie is baie goed, met behoorlike sentrale verhitting en verkoeling. So binnenshuis is jy altyd gemaklik – teen ’n relatief goedkoper prys as in Suid-Afrika.

Geniet julle countrymusiek?

Ons is groot musiekliefhebbers, en country is beslis ’n gunsteling! Daar is talle radiostasies wat suiwer country speel, soos 99.5 The Wolf hier in Dallas, en dis maar wat ons in die huis speel. Dan is daar ook satellietradio hier beskikbaar (Sirius XM), waar jy enige musiek, country ingesluit, kan luister, sonder advertensies of omroepers wat tussenin praat.

Waarheen breek julle weg vir ’n naweek?

Omrede plaaslike vlugte so goedkoop en maklik is, byna soos busry, vlieg Amerikaners oral. Ons vlieg maklik na plekke soos Las Vegas, Nashville en Los Angeles vir ’n wegbreeknaweek. Om te gaan ski in die Coloradoberge buite Denver is net so maklik en goedkoop.

Daar is intense kompetisie hier, wat pryse baie bekostigbaar maak. Oor die algemeen is Amerika se kultuur, na my mening, baie meer prysgedrewe as in enige ander land in die wêreld. Monopolieë soos Eskom sal hier nie vastrapplek kry nie, die regering sal dit eenvoudig nie toelaat nie. Regulering is ook sodanig dat ’n handelsmerk soos Coca-Cola wat in Suid-Afrika dominant is en byna alle opposisie uitdruk, dit nie hier sal kan regkry nie.

Wat mis julle van Suid-Afrika?

Uiteraard mis jy jou familie. In ons geval kan geen ander familie dit bekostig om die land te verlaat nie. Ons het in 2011 ons beplanning begin doen om hierheen te kom, toe die wisselkoers R6,85 per dollar was. Teen die huidige R14 per dollar is dinge baie meer ekstreem. Die negatiewe daarvan is dat van die volgende geslag se kinders nou geleenthede oorsee begin kry, en die oueres bly agter. In elk geval, dit bly lekker om nou en dan Suid-Afrika toe te gaan vir besigheid, en dan sommer by van die familie in te val.

My man mis daardie familiariteit van sy geboorteland, meer as ek. Soos hy sou sê, met nasionale diensplig en kampe saam het hy 5% van sy lewe vir die land gegee, sulke dinge bly by jou. Oor die algemeen is dit maar moeiliker vir ons generasie om by ’n nuwe lewe aan te pas. 

Ons kinders, albei in hul laat twintigs, se lewe, werk en verhoudings is alles hier en toekomsgerig. Ons dogter, Chantal, is verlede jaar met iemand van hier getroud op die Karibiese eiland St. Lucia. Shaun, ons seun, het pas verloof geraak, ook aan ’n plaaslike meisie, en beplan ’n troue in Napavallei, Kalifornië, volgende jaar. So hul fokus is 100% vorentoe.

Het julle al bekendes daar raakgeloop?

Glad nie, hierdie wêreld is seker net te groot. Maar ons het wel die voorreg om verskeie konserte van bekendes van ons era, soos Boston, die Eagles, Journey, Rod Stewart en Neil Diamond, te ervaar. Bucket list stuff!

Wat maak Texas anders?

Texas bied vir ons hierdie spesiale gevoel van close to home, maar in Eerstewêreld-formaat en tegnologies op die voorpunt. Die nuutste hier is dat jy ’n skandeermasjien by die ingang kry wanneer jy jou inkopies gaan doen. Dan skandeer jy jou inkopies en pak dit in jou sakkies soos jy deur die gange loop. By die uitgang skandeer jy die totaal eenvoudig in ’n masjien en voorsien jou kaart. En alles werk: krag, water, verkeersligte, alle dienste . . .

Sal julle ooit terugkom?

Ons besoek Suid-Afrika een of twee keer per jaar, ook omdat ons steeds sakebelange daar het. Maar die idee is om wel in die toekoms daarvan ontslae te raak. Met die wisselkoers word die wins in dollarterme al hoe minder. Maar intussen gee dit jou tyd om dollargedrewe inkomstestrome aan die gang te kry. Ons het begin belê in mediese eiendomme, so ’n passiewe inkomste, maar redelik resessie-beskermd. Amerikaners word net ouer en ouer, en benodig meer en meer mediese hulp!