Moenie spyt wees oor enigiets nie – wees eerder dankbaar oor elke les wat jy geleer het.” Ek hou van dié Marokkaanse spreekwoord.

Op 16 Oktober verlede jaar skop een van die lekkerste vakansies van my lewe af – sestien dae in Marokko saam met my reismaat, Celeste Grobler van Staden, ’n oud-skoolmaat. Ons het elke dag iets nuuts gesien, beleef, gehoor. Sy het haar 53ste verjaardag daar gevier, maar ons het so sorgeloos soos tieners gevoel.

Celeste, wat haarself as ’n “huisgodin van Orlando, Amerika” beskryf, het ’n 20-jarige dogter en twee Italiaanse windhonde, Fiona en Lola. Haar man, Theunis, is ’n sakeman. En hoewel sy al die wêreld platgereis het in haar “vorige lewe” as lugwaardin, was sy nog nooit in Marokko nie. Dit was ook op my wenslysie.

Ons eerste en laaste stop was Marrakesj, waar ons die eerste drie dae, op ons eie, in die Riad Houdou in die medina tuisgegaan het. ’n Riad is ’n tradisionele Marokkaanse huis met ’n tuin in die binnehof en die medina die Ou Stad, wat uit die Middeleeue dateer. Marrakesj se medina is ’n wêreld-erfenisgebied, en dit was al die inspirasie vir vele #skeppendes, onder andere die Franse mode-ontwerper Yves Saint Laurent. Hy het in die 1970’s ’n ruk lank hier gewoon saam met sy destydse kêrel Pierre Bergé. Hulle het ook die Tuine van Majorelle “gered” toe dié stad dit in ’n woonstelkompleks wou omskep.

Dié tuine is salig. Koivisse swem in poele met waterlelies, toeriste wandel tussen bome en riete wat koel skadu’s gooi. Hier is wegsteekhoekies vir meditasie of om die natuur te waardeer, asook ’n blou muur wat gewild is vir geposeerde foto’s.

Saint Laurent het van sy grootste reekse in Marrakesj ontwerp, betower deur die kleure van dié eksotiese land – amber, pienk, blou, taan, oker. En die YSL-museum is met groot sorg saam-gestel. Binne pryk sy tydlose skeppings, waarvan party uit die 1980’s dateer, asook reuse-foto’s van hom en mode-ikone soos die aktrise en model Catherine Deneuve, vir wie hy ontwerp het.

Die klanke van Maria Callas, etniese Afrika-musiek en rock sweef deur die museum se lokale terwyl jy jou verwonder. ’n Vertoonkas met sy kostuumjuweliersware slaan jou asem weg. Min mense weet dat monsieur Laurent graag vir hartsvriende persoonlik geskilderde kaartjies gegee het. Van dié skilderye en kaartjies, dikwels heel primitiewe kinderkuns van diere (hy was byvoorbeeld dol op honde), versier die mure. Ons het, diep begeesterd, twee keer na ’n dokumentêr oor Saint Laurent in die museum gekyk.

Wanneer die son sak, is Marrakesj ’n malse skouspel. By die bekende Jemaa el-Fnaa-markplein word toeriste teen betaling vermaak deur apies wat met ’n ketting aan die nek rondgetrek word (’n aaklige gesig). Of slange wat met fluitmusiek getart word sodat hulle hul koppe hoër en hoër van die grond af lig (dit is selfs vir my, geen slangliefhebber nie, jammerlik om te aanskou).

Daar is yskoue lemoen-en-granaatsap en vars turksvye te koop, en vroue skilder met henna op toeriste se hande. Hiervoor is ons maar versigtig, want soms is dit nie so higiënies nie en kan allergieë veroorsaak. Jy weet ook nie watter chemikalieë saam met die henna gebruik word nie. Wil jy jou hande laat beskilder, is ’n spa ’n veel beter keuse.

Die mark (souk) bly tot so halftien saans oop en inkopies is bekostigbaar (R1 = 0,6 dirham of $1 = 10 dirham). “Soek-soek deur die souk [uitgespreek ‘soek’],” het ons naderhand gespot. Om elke hoek en draai was daar iets wat ons “geroep” het: serpe, juweliersware, die mooiste rokke, broeke en hemde, keramiekpotjies, bakke, sakkies, sleutelhouers, tossels, matte. Ons is betower deur die Marokkaanse skoen, oftewel babouche. Dit is plat en gepunt, byna soos ’n pantoffel, en gewoonlik gemaak van tou of leer, met talle ontwerpe om uit te kies.

Soos jy dieper die “web” van stegies inwandel, ontdek jy allerlei wondere, soos die speserymark met piouterkanne en mandjies gevul met gedroogde roos-knoppe, roosmaryn, naeltjies en bossies ment wat jou neus kielie en streel.

Gedoekte vroue met kinders op die skoot sit plek-plek bedremmeld en bedel, terwyl talle straatkatte tussen vrugtestalletjies en mark-slaghuise drentel op soek na ’n kossie. Ou bedelaars in weeshuis-bruin djellabas (lang, wye jurke met ’n kappie) skuifel verby, geboë, met ’n hand gebak. Marokkane gee vir ou mense geld, maar nie vir kinders nie, omdat hulle reken die bejaardes sukkel om werk te kry.

Op dag drie het ons by ’n toergroep van drie in Marrakesj aangesluit en is van daar verder na die provinsie Ouarzazate (uitgespreek Wharzazat), Marokko se “Hollywood”. Dáár by Aït Benhaddou, ’n Middeleeuse vesting op ’n heuwel wat baie goed behoue gebly het en ook ’n wêrelderfenisgebied, is sommige tonele van flieks soos Jesus of Nazareth, Gladiator en Lawrence of Arabia geskiet.

Van bo op die heuwel het jy ’n lieflike uitsig oor die vallei, wat soos die Vallei van Verlatenheid naby Nieu-Bethesda in die Karoo tot in die ewigheid strek. Dit is nou tyd om “tagine”, Marokkaans vir “say cheese”, te sê, sê Aziz, ons gids, en neem ’n foto. Ons is baie trots dat ons tot bo geklim het, want dit is hoog en ons is natgesweet.

’n Tagine is, terloops, ’n hutspot van vleis, hoender of vis, stadig gekook oor ’n lae hitte, en die Marokkane se stapelvoedsel. Hulle is ook mal oor koeskoes-geregte. Sy is nie ’n tagine girl nie, het Celeste vroeg-vroeg besluit. “Dit is te bland.” Later hoor ons ons het dalk net nie die régtes gekry om te eet nie. Maar ons was wel gek oor die vanieljejogurt, pannekoek met heuning, kleinkoekies, wafels, roomys, nougat en brood. Dit is ’n nasie waar die Banting-dieet nie sal werk nie – deeg is gewild.

Weer op pad flits een ná die ander dorpie by ons verby. Af en toe word gestop vir nous nous, koffie met baie melk en twee blokkies suiker, bedien in ’n glasie. As alternatief drink ons menttee, gewoonlik baie soet. Net voor Merzouga, van waar ons die Sahara sal bereik, koop ons tulbande vir die woestyn. Ons kry ’n demonstrasie oor hoe dit gevou word en neem video’s.

Met net die allernodigste (tandeborsel, borsel, onderklere) in ’n klein rugsakkie vertrek ons na ons “Rolls-Royces van die woestyn” waarmee ons die duine gaan aandurf. Doodrustig lê hulle in die stof en wag. Sexy leepoë kyk ons aan. Al vyf kamele is bulle. Abdul, ’n mooie Berber met slanke kaal voete en ’n potblou tulband, “hys” ons een vir een op.

Ek sit lekker stewig en voel gou asof ek in ’n bootjie in die lug vaar. Alles is stil. Behalwe vir een kletskous wat ná ’n ruk besef die goudbruin duine voor, agter en langs ons is nie lus vir onsinnige woorde nie. Ver op die horison sien ons nog ’n paar kamele. Celeste en ek neurie saggies “Caravans”.

Ná ’n uur stop ons en klim ’n baie hoë duin uit. Hygend trap ons twee tree vorentoe, gly dan drie terug in die rooi sand. Maar bo gekom, is dit ’n mooi waarvoor ek nog nie woorde geleer het nie. Almal is stil en ons neem foto’s vir ’n vale. Die heelal se grootsheid sit diep in my en ek weet niks sal ooit weer hierby kom nie. Ek grawe my voete in die Sahara-sand. Tevrede soos ’n hond wat ’n been kry ná ’n vleisbraai. “Dis die beste verjaardaggeskenk,” sê Celeste. Sy wil vir altyd 53 wees.

Ek bestyg die kameel dié keer sonder my tekkies en voel sy warm pels onder my voete, ruik hom. Af en toe bulk hulle soos tjello’s in die stilte. Die maan glim. By die Berberkamp kry die kamele water. Ons boude is lammerig, maar dis lekker. Laataand dans ons op Berber-trommusiek en sing onder die sterre. Celeste kry haar eie soet, pienk vanielje-“kinderkoek” wat hulle spesiaal vir haar gebak het en blaas die kersies dood.

Die toilette werk nie lekker nie, die water is koud. Ons slaap almal in ons klere in een tent en die beddegoed is nie juis vars nie. En die volgende oggend is ons voor ses al weer op die kamele want ons wil die sonsopkoms sien. Maar dit is oukei. As die Sahara in jou is, is jy getoor.

Later die dag is ons vort, op wiele, nege uur lank, na Fès. Oor berge en dale van die Atlasberge, waar die sneeu plek-plek op die pieke lê. “Ons gaan piekniek hou,” beloof Aziz. En wraggies, ons stop sommer in die veld en hy haal die wonderlikste jogurt, brood, kaas, konfyt, sap en ingemaakte vis uit. Koningskos. Hy het tot ’n opvoutafel, stoele en tafeldoek saamgebring.

Die Middeleeuse Fès is die tuiste van die wêreld se oudste universiteit (dit dateer van 859 n.C.) en die Ou Stad, die grootste en oudste Middeleeuse medina wat vandag nog behoue is, bestaan uit 9 400 stegies, waarvan party in ’n doodloopstraat eindig. As jy eers in een is, kan dit soos ’n slegte huwelik wees: moeilik om uit te kom. Ons bly naby aan ons gids, Nabil.

Fès is veral bekend vir sy leerwerk van hoogstaande gehalte, met kameelleer die sterkste en duurste. Maar jy moet maar sterk wees vir die leerlooiery. Ten spyte van die bossie ment voor ons neus, is dit ’n afskuwelike reuk: jy wil flou val. “Nee wat, ek gaan sommer rus in die uitstallokaal,” sê Celeste.

Ook hier in die leerlooiery hang ’n portret van Mohammed VI, die koning, soos oral elders, selfs by vulstasies en in kiosks op die mark. Mohammed is sedert 1999 aan bewind, skatryk, sy paleis in Rabat. En die mense bang om hom te kritiseer. So sê almal.

In Casablanca is die Hassan II-moskee groots en skouspelagtig. Die marmer is ingevoer van Carrara in Italië en dit kan 25 000 Moslems huisves. Die seder-houtsneewerk slaan jou asem weg. By Rick’s Café in die styl van die rolprent Casablanca het ons ongelukkig net verby gery, maar jy kan daar gaan eet.

Essaouira (uitgespreek Essawhiera) is ’n hippie-sjiek seedorpie, soortgelyk aan Kalkbaai, waar jy kan rondslenter en jou veral aan boheemse klere kan verkyk. Dit is ideaal vir hammams (openbare baddens), waar jy geskrop en gevryf word tot jy soos ’n prinses in ’n harem (maar sonder “kettings”) voel. Deesdae kan jy dié ervaring in ’n spa kry.

Die hawe in Essaouira is propvol aksie, wilde geure en raserige seevoëls wat maar te bly is vir ’n happie visingewande wat in hopies lê. Ons kies ’n vars vis wat die eienaar van ’n seekos-kiosk daar en dan vir ons braai.

Marokko is ryk aan geskiedenis. Volubilis, naby Meknes, waar die Romeine hul stempel al in die eerste eeu afgedruk het, is nog ’n wêrelderfenis-gebied. Die ruïnes vertel stories van meesterlike vakmanne wat spoeltoilette gebou het en waar in goed ontwerpte kombuise gebak en gebrou is, en selfs olyfolie geproduseer is. Hul juweliersware was bekoorlik en hul tuine, argitektuur en mosaïekkuns (sonder die hedendaagse tegnologie) laat jou verwonderd.

Dié droomland verg aanpasbaarheid as jy ’n toeris is. Ons het twee aande in verskillende riads nie warm water gehad nie. Wi-Fi is beroerd. Om te kibbel oor aankope is deel van die kultuur, en as jy nie wakker is nie, koop jy gou vir jou ’n spreekwoordelike kat in die sak. Moet nooit kibbel as jy nie regtig wil koop nie, dit maak die verkoopsman boos.

Oor die algemeen is die Marokkane baie gemoedelik. Selfs al praat hulle net Arabies, probeer hulle jou verstaan en is altyd bereid om te help.

Daar is groot verdraagsaamheid teenoor alle gelowe. Hulle is toegewyde Moslems, hoewel nie fanaties nie. “Maar Allah vereis dat ons vyf keer per dag bid en ons doen dit,” sê Mustapha, een van ons gidse in Marrakesj. “En is jy ’n goeie ou?” vra ek. Hy gooi sy hande in die lug en lag: “Net Allah sal weet, maar ek probeer.” Mustapha is eintlik ’n boer, wat deeltydse gids is om sy salaris aan te vul.

Toe ek ná 33 uur in Marrakesj land, ná stoppe in Doha (Katar) en Casablanca, moes ek hoor my taxibestuurder, wat ek uit Suid-Afrika bespreek het, het gou gaan bid. Ek was nie kwaad om nog te wag nie, ek was eintlik nogal beïndruk.

Dit is ’n land waar daar ooglopend min rykdom is. Die La Mamounia-hotel in Marrakesj is egter die afgelope twee jaar as die beste ter wêreld aangewys en dit drup van prag en praal. Selfs die Britse staatsleier Winston Churchill het gedurende die Tweede Wêreldoorlog tyd afgeknyp om hierheen te kom. Dit is onlangs heeltemal opgeknap.

Marlene Dietrich het weer gesê Marokko lyk beter in rolprente as in die regte lewe . . . Esels dra swaar en aanvaar gedwee hul lot. In die medinas, waar motors nie kan ry nie, trek ou mans ook swaargelaaide waentjies met goedere deur die klein stegies, wat herinneringe bring aan prentjies van Bybelse tye. Brandsiek honde bedel kos langs die pad.

Ek hou van Marokko. Dit is werklik – geteister deur armoede, maar ook magies. Miskien lê ’n groot deel van die Marokkaanse psige opgesluit in twee van sy spreekwoorde: “Sonsondergange bewys dat eindes mooi kan wees” en “Moet nooit verbaas wees oor enigiets in Marokko nie. As jy ’n donkie sien vlieg, sê maar net Allah kan enigiets regkry.”

Dis ’n mooi waarvoor ek nog nie woorde geleer het nie