‘Ek wil my ma se kennis ook aan mý kinders oordra ...’ Sandy Roberts, eienaar van die Margaret Roberts-kruiesentrum naby Hartbeespoort

Sy het groot planne om haar ma, Margaret Roberts, die internasionaal bekende kruiekenner, se werk by haar kruiesentrum naby Pretoria voort te sit.

Aan die woord is Sandy Roberts, dogter en voormalige sakevennoot van Margaret. Saam met haar ma het sy dié sentrum, wat 36 jaar gelede gestig is, as een van die grootstes in die land gevestig.

Op Tuindag bou Sandy voort op haar ma se herinneringe – Margaret is in Maart 2017 oorlede – met die saadbank-nalatenskapprojek wat in 2005 begin is. “Die bank is gevul met duisende eetbare en medisinale sade wat nie geneties gemanipuleer is nie, en dit word aan leerlinge by skole uitgedeel om hulle te leer hoe groeiprosesse in die natuur werk.”

Sy leer ook haar kinders, Skye (15) en Michael (11), meer van tuinmaak. Die twee het selfs hul eie groentetuin.

By hul nuwe gesinstuiste in Pretoria is sy besig om ’n replika van die hoof-kruietuin by die Hartbeespoort-sentrum uit te lê, vertel Sandy opgewonde. Dit sal teen die einde van die jaar voltooi wees en is aan haar ma opgedra.

Haar liefde vir plante het op ’n afgeleë plaas buite Rustenburg begin, daar waar sy en haar suster en broer grootgeword het. “My ouers het kruie vir medisyne en groente en blomme vir die tafel self gekweek. Ons het aanvanklik nie elektrisiteit gehad nie. Televisie en elektroniese speletjies was onbekend.

Dit was ’n eenvoudige plaaslewe, waar ons in die veld, in Ma se tuin of in haar pottebakkersateljee gespeel het.” Sy het haar kleipotjies gevul met heerlike kruie waarmee sy kos gegeur of motte uit die linnekas weggehou het, onthou Sandy. Die ideale plek om kinders se kreatiwiteit te voed.

Ná matriek aan die Pretoria High School for Girls het Sandy ’n diploma in ontwerp gedoen, voordat sy in 1987 die restaurant by die Margaret Roberts-kruiesentrum begin en in 1993 voltyds saam met Margaret begin werk het.

Hul derde boek, Indigenous Healing Plants (Briza, R375), wat op 1 Julie verlede jaar op Margaret se verjaardag bekend gestel is, was hul laaste projek saam. Sandy vertel daar is nog twee in die vooruitsig. “Ek glo ek maak ’n verskil, danksy my ma se invloed op my lewe. Die toekoms van Suid-Afrika hang af van volhoubare, organiese produkte – dít gaan help om ons van kos en medisyne te voorsien. Ek gee gereeld lesings oor die medisinale en voedingswaarde van plante, asook oor navorsing wat op plante en kruie gedoen word.” Sjefs, skoolkinders, kossoekers, parfumeurs en tuinklubs kom luister na haar. “Dit hou my ma se nalatenskap lewend.”

Daar is dae wat sy baie na Margaret verlang. “Deur haar nalatenskap in die tuin voort te sit word my spirituele konneksie met die aarde versterk. Wanneer ek laventel sien, dink ek aan haar. As ek haar geliefde Tulsi-tee [bekend as ‘heilige basiliekruid’, wat jou help ontspan] drink, stil dit my verlange.”

Sy glo tuinmaak is terapeuties. Die helende plante voed die siel en tuinwerk laat jou sweet, terwyl die verskillende geure in al die afdelings by die kruiesentrum ook kreatiwiteit bevorder. Die publiek kan die Margaret Roberts-kruiesentrum (voorheen die De Wildt-kruiesentrum) elke Woensdag en eerste Saterdag van elke maand van 8:30 tot 16:00 besoek. Besoek www.margaretroberts.co.za