Dis blote toeval dat sy ’n kostumier geword het. Én in die proses op die stel van die internasionale TV-trefferreeks Game of Thrones beland het, vertel Mia Hofmann Scott, wat tans in Oranjezicht, Kaapstad, woon. In 2000 was sy pas terug uit Brittanje toe hierdie loopbaan “toevallig” op haar pad gekom het.

In Londen was Mia – met ’n huishoudkundegraad (deesdae verbruikerstudie) van die Universiteit Stellenbosch – kinderoppasser en het sy vir die Britse nasionale gesondheidsdiens (NHS) gewerk.

Dit was toe sy ’n vriendin met administrasiewerk by Spier se amfiteater uitgehelp het dat dit alles begin het. Een oggend stap daar ’n vrou in met haar hande in die hare – sy was die kostuumontwerper vir vier operas wat daar op die planke sou wees, maar wis nie hoe sy betyds sou klaarkry nie.

Mia Hofmann-Scott

Mia het aangebied om te help ... en kort voor lank werk sy toe in die advertensiebedryf en op plaaslike TVprogramme soos Madam & Eve en Fishy Fêshuns.

As dogtertjie was sy al kreatief, dol op kleure, krabbel, musiek en dans. “Ek wou ’n prima ballerina soos Phyllis Spira word.” Sy het klere gemaak en gebrei en was ook haar pa se handlanger as hy timmerwerk doen.

As kostumier is sy dus in haar element. “Elke dag verskil. Jy moet op jou voete dink, goed organiseer en visueel dink.”

Danksy haar werk het sy al plekke gesien waaroor ander net kan droom, Ierland, Wallis, Spanje, Nederland, Hongarye, Mosambiek, Mauritius, Indië ... “Droomplekke in die buiteland, maar ook wonderlike dele in SA.

“Ek ontmoet mense uit alle lae van die samelewing. Groot sterre ook. Maar ek is nie starstruck nie. Soms kom ek eers ná die tyd agter iemand is bekend.” Liam Neeson, een van haar groot helde, is egter een akteur saam met wie sy wél nog wil saamwerk.

Op die stel van Game of Thrones, waaraan sy drie seisoene lank gewerk het, was dit vir haar lekker om te sien hoe van die akteurs se loopbane ontwikkel.

Ook dié projek was “toeval”. ’n Kollega, saam met wie sy aan haar eerste advertensie gewerk het, het haar genader. Met haar EU-paspoort, danksy grootouers wat uit Europa na die ou Suidwes-Afrika (tans Namibië) en later Suid-Afrika verhuis het, was dit maklik om op Malta te werk. ’n Deel van die eerste reeks van Game of Thrones is daar vervaardig.

“Die kostuumontwerper het my leiding gegee en moes die kostuums goedkeur, maar ek moes elke karakter verstaan en bepaal watter uitrustings sou wérk.” Mia is bekend vir haar aandag aan detail. “Die klere moet tekstuur aan die produksie verskaf,” sê sy.

Sy doen baie navorsing oor die geskiedenis, klerestyl en wêreldgebeure en omring haarself met kreatiewe mense vir inspirasie. “Die bedryf hou jou in voeling met die werklikheid, want jy kry baie blootstelling. Ek is baie aanpasbaar.”

Gelukkig verstaan haar man, Garth, dit. Hy is ’n kameramonteerspesialis in die rolprentbedryf.

“Akteurs is interessant, maar soms moeilik. Uiteindelik is hulle net mense, dikwels met meer hang-ups as wat mens besef.” Die lang werksure, soms 80 uur per week, is uitmergelend en laat min tyd vir ontspanning.

“Vryskutwerkers aanvaar elke werksaanbod, en spaar vir die ‘maer jare’. Die waterkrisis in die Wes-Kaap het ons beïnvloed – daar was minder werk.” Goeie menseverhoudings en geduld help haar deurdruk. “Wanneer ek tuis is, probeer ek slaap inhaal en op road trips met Garth nuwe plekke ontdek. Ek onthaal ook graag.”

Maar dan dink sy dankbaar terug aan produksies waaraan sy gewerk het, soos die rolprent Invictus oor Suid-Afrika se Wêreldbeker-rugbysege in 1995 met Clint Eastwood as regisseur.

Die glanswêreld het haar geensins verblind nie. Haar werksetiek is: “Wees opreg, hardwerkend en vermy skinderpraatjies.”