‘Ons het die natuur nodig om weer mens te word’ Constance Stuurman, blomkunstenaar en tuinier by Babylonstoren

Sy dink sy het die grootste kantoor in die wêreld – en “dit is ’n plant-biblioteek”.

Só sê Constance Stuurman, blom-kunstenaar en tuinier by die landgoed Babylonstoren tussen die Paarl en Franschhoek waar die geskiedkundige Kaaps-Hollandse opstal uit 1692 dateer. Dié lewenslustige vrou met die groot, bruin oë en stewige hande is kort en gespierd en werk daagliks saam met die hooftuinier, Liesl van der Walt, meestertuinier Gundula Deutschlander, die botanis Ernst van Jaarsveld en 25 tuinwerkers.

“My kollegas is my tweede familie. Die tuin ís my huis,” sê sy. Hier is sy op haar gelukkigste. Hande in die grond, graaf in die hand, gesig gekeer na die son.

Dié blomkunstenaar sê: “Ek sorg vir mooi rangskikkings met troues, spesiale geleenthede, vir vrugte- en groentemandjies in die kamers, blomversierings in die restaurante by Babylonstoren.” Sy gebruik interessante kombinasies, soos blomme en groente, saam – enigiets van waterblommetjies, radyse en suurlemoenblare. Vir ’n romantiese ruiker sal sy weer ’n sensuele magnoliablom met ’n geurige aspersieblaar kombineer. “Dit moet pas by die okkasie.”

Wat is dan lekkerder as om daagliks betower te word deur 300 plante op 3,5 hektaar grond? “Die tuin is geïnspireer deur die historiese Kompanjietuin in Kaapstad,” vertel sy. “Daar is ’n paar ‘tuine’ op die plaas, soos die groente-, Khoisan- en kruietuine, asook ’n vetplant- en cliviahuis.”

Haar liefde vir plante kry sy van haar oumagrootjie Anna Stuurman, wat in Elsiesrivier op twee akker grond met ’n tuin gewoon het. “Ek en my neefs en niggies het gereeld daar gaan kuier en soggens om vyf gehelp in die tuin.” Sy het maar min gesien van haar ouers, wat lang skofte in ’n vrugtefabriek in die Drakensteinvallei, “aan die ander kant van die berg van oumagrootjie”, gewerk het.

Constance het geen formele opleiding as tuinier nie. Oumagrootjie was die muse. “Op skool het ek goed gevaar in wiskunde en ek wou nogal ingenieur word. Toe kry ek deur ’n familievriend die geleentheid om te help om bote te bou op die dokke.”

Daarna het sy ’n ruk lank “soos ’n dame” kantoorwerk gedoen, vertel sy in haar donker, hees stem. Maar sowat 23 jaar gelede het sy teruggegaan na haar mense “agter die berg”, en by ’n kwekery begin werk.

“Op ’n dag, in 2009, het ek en Gundula, wat vir Babylonstoren plante by die kwekery bestel het, begin gesels.” ’n Paar weke later kry sy ’n oproep om daar te kom werk. “Gundula was beïndruk met my werksywer.

” In 2010 skop haar “nuwe lewe” toe af. “Ek moet kreatief én fiks wees, en geen challenge kry Constance onder nie,” lag sy.

Sy is enkelma van Mariolynne Chelsea Milianne (10) en McClarin Chamlin McPherson (5). “Dit verg kophou om vyf dae per week van sewe tot vier te werk, maar my kinder-oppasser is puik.” Vir ontspanning maak sy tuin saam met haar kinders, doen gemeenskapswerk en hardloop daagliks vyf kilometer. “Ek is ook ’n rugby-fanatikus en voorsitter van die Lanquedoc All Stars-rugbyklub.

“My werk is eintlik ook ontspanning. Om mense daagliks op uur lange kruietoere te neem en van die medisinale eienskappe te vertel, is wonderlik. Ek wil my kennis deel. Ek verheerlik God se skepping deur my werk. “Tegnologie laat ons vergeet van die natuur – ons het die natuur nodig om weer mens te word.” Sy glo vas haar oumagrootjie het 115 jaar oud geword omdat sy tot met haar dood in die tuin gewerk het. “Dit hou jou lyf en kop gesond.” Navrae: 021 863 3852; enquiries@babylonstoren.com; www.babylonstoren.com 

‘Ek wil my ma se kennis ook aan mý kinders oordra . . .’ Sandy Roberts, eienaar van die Margaret Roberts-kruiesentrum naby Hartbeespoort

Sy het groot planne om haar ma, Margaret Roberts, die internasionaal bekende kruiekenner, se werk by haar kruiesentrum naby Pretoria voort te sit.

Aan die woord is Sandy Roberts, dogter en voormalige sakevennoot van Margaret. Saam met haar ma het sy dié sentrum, wat 36 jaar gelede gestig is, as een van die grootstes in die land gevestig.

Op Tuindag bou Sandy voort op haar ma se herinneringe – Margaret is in Maart 2017 oorlede – met die saadbank-nalatenskapprojek wat in 2005 begin is. “Die bank is gevul met duisende eetbare en medisinale sade wat nie geneties gemanipuleer is nie, en dit word aan leerlinge by skole uitgedeel om hulle te leer hoe groeiprosesse in die natuur werk.”

Sy leer ook haar kinders, Skye (15) en Michael (11), meer van tuinmaak. Die twee het selfs hul eie groentetuin.

By hul nuwe gesinstuiste in Pretoria is sy besig om ’n replika van die hoof-kruietuin by die Hartbeespoort-sentrum uit te lê, vertel Sandy opgewonde. Dit sal teen die einde van die jaar voltooi wees en is aan haar ma opgedra.

Haar liefde vir plante het op ’n afgeleë plaas buite Rustenburg begin, daar waar sy en haar suster en broer grootgeword het. “My ouers het kruie vir medisyne en groente en blomme vir die tafel self gekweek. Ons het aanvanklik nie elektrisiteit gehad nie. Televisie en elektroniese speletjies was onbekend.

Dit was ’n eenvoudige plaaslewe, waar ons in die veld, in Ma se tuin of in haar pottebakkersateljee gespeel het.” Sy het haar kleipotjies gevul met heerlike kruie waarmee sy kos gegeur of motte uit die linnekas weggehou het, onthou Sandy. Die ideale plek om kinders se kreatiwiteit te voed.

Ná matriek aan die Pretoria High School for Girls het Sandy ’n diploma in ontwerp gedoen, voordat sy in 1987 die restaurant by die Margaret Roberts-kruiesentrum begin en in 1993 voltyds saam met Margaret begin werk het.

Hul derde boek, Indigenous Healing Plants (Briza, R375), wat op 1 Julie verlede jaar op Margaret se verjaardag bekend gestel is, was hul laaste projek saam. Sandy vertel daar is nog twee in die vooruitsig. “Ek glo ek maak ’n verskil, danksy my ma se invloed op my lewe. Die toekoms van Suid-Afrika hang af van volhoubare, organiese produkte – dít gaan help om ons van kos en medisyne te voorsien. Ek gee gereeld lesings oor die medisinale en voedingswaarde van plante, asook oor navorsing wat op plante en kruie gedoen word.” Sjefs, skoolkinders, kossoekers, parfumeurs en tuinklubs kom luister na haar. “Dit hou my ma se nalatenskap lewend.”

Daar is dae wat sy baie na Margaret verlang. “Deur haar nalatenskap in die tuin voort te sit word my spirituele konneksie met die aarde versterk. Wanneer ek laventel sien, dink ek aan haar. As ek haar geliefde Tulsi-tee [bekend as ‘heilige basiliekruid’, wat jou help ontspan] drink, stil dit my verlange.”

Sy glo tuinmaak is terapeuties. Die helende plante voed die siel en tuinwerk laat jou sweet, terwyl die verskillende geure in al die afdelings by die kruiesentrum ook kreatiwiteit bevorder. Die publiek kan die Margaret Roberts-kruiesentrum (voorheen die De Wildt-kruiesentrum) elke Woensdag en eerste Saterdag van elke maand van 8:30 tot 16:00 besoek. Besoek www.margaretroberts.co.za

Sandy Roberts

‘Rose se kleur, vorm en geur roer my hart’ Anja Taschner, rooskweker, ‘neus’ en landskapsargitek van Ludwig’s Roses naby Stellenbosch

Sy hou ’n wit roos met ’n ligpienk randjie na my uit: “Ruik dit.”

Dan eers groet sy.

“Die roos se naam is Addictive Lure,” sê Anja Taschner, een van Suid-Afrika se suksesvolste rooskwekers, direkteur van Ludwig’s Roses en dogter van top-rooskweker Ludwig Taschner.

Anja is ma van Gabriel (6) en Sophia (3) en haar man, Talhat Alhabal, ’n Siriër, werk in die kwekery se winkel.

Haar ander “kinders” is die rose – sowat duisend variëteite in die kwekery. Dis te vroeg vir bloeityd (in November), maar sy wys party uit: die Nelson Mandela is oranje, die South Africa goudgeel en die Blue Moon pers. “Ek ken elke ‘baba’ en selfs die ‘grootouers’ op die naam.”

Oor hul nuutste skepping, vir aktrise Nomzamo Mbatha, is sy opgewonde. “Sy doen so baie om bewustheid van onbemagtigde vroue [vlugtelinge] in Afrika te skep.” Dié roos is vroulik en sensueel, met ondertone van appelkoos, perske en ’n tikkie sagte bruin.

Die huidige Mej. Heelal, Demi-Leigh Nel-Peters, se roos is ’n sexy, elegante donkerpers op ’n lang steel. Daar was al baie celeb-rose oor die jare, soos die ligpers een met sy besonderse geur vir sanger Steve Hofmeyr, en die sagpienk romantiese roos op ’n perfekte lang steel vir aktrise Brümilda van Rensburg. “Die operaster Mimi Coertse, wat dol is op rose, se naamgenoot is donkerpienk en ruik speseryagtig.”

Rose se kleur en vorm, maar veral die geur, roer haar. Haar personeel weet al daar moet altyd ’n vaas vol rose op haar lessenaar wees. Anja het grootgeword in ’n huis waar rose geruik, geëet en gepraat is. “Ek, my sus, Heike, en broer, Halmar [hy is die uitvoerende hoof van hul maatskappy], het al kleintyd in my pa se kwekery in Pretoria gewerk.”

Ná skool wou sy kuns studeer en het ’n kinderboek, Zazi’s Garden Marvel (4 tot 7 jaar), geskryf, geïllustreer en self uitgegee. Haar pa het haar oortuig sy het groen vingers en toe het sy ’n graad in tuinboukunde deur Unisa verwerf. “Ek is mal oor my werk, wat my baie vryheid gee. Ek hou nie van reëls nie.” Vir groot kliënte soos die Ruperts doen sy konsultasies oor watter rose hulle moet aanplant. Sy geniet haar navorsing oor die kweek van roosvariëteite en hou ook gereelde roostoere*.

Boonop reis sy baie oorsee om op die voorpunt van tendense te bly. “Ek het Frankryk as sewejarige saam met my ouers besoek en gaan nou tweejaarliks.”

Sy is ’n ervare “neus”. “Dit is byna soos wynproe en ek het ’n talent daarvoor.”

Interessant het sy opgehou om seep of parfuum te gebruik toe haar kinders gebore is. “Babas moet met hul ma se reuk identifiseer. Dit laat hulle veilig voel.” Sy sê mense kies maats volgens liggaamsreuk. “Ek sal saans Bulgari Jasmin Noir dra vir my man. In Sirië is dit ’n gewilde reuk – hulle stoom tot rys in jasmynwater om dit sag te maak.”

In Amerika – van November 2015 tot Januarie 2017 – het sy in Arizona op roosplase gewerk om húlle meer te leer van plaaslike roosvariëteite. Sy het op haar beurt baie geleer oor hoe rose in geharde toestande oorleef. “Die ‘argitektuur’ van die plant beskerm dit teen die son. Die blare moet wyd genoeg uitloop sodat dit, soos ’n sambreel, kan skadu bied.” Kennis wat nuttig te pas kom met die Wes-Kaapse droogte. Anja is gek oor rose se veelsydigheid.

“Jy kan dit selfs in kos gebruik. En aanstaande jaar gaan ons vir tuiniers ’n handeroom en lipbalsem van gebottelde roosolie bekend stel.”

Ek onthou haar woorde: “As jy mense in ’n swart kamer sit wat na niks ruik nie, sal ons mal raak. Mense het kleure en geure nodig.” Besoek Ludwig’s se roosfees in Pretoria van 5 tot 7 Oktober gratis. * Van 1 tot 3 November bied Anja toere na tuine in die Stellenbosch-omgewing aan en in Mei 2019 ’n eksklusiewe geurtoer na Frankryk. Lees meer by www.anjataschner.com

Anja Taschner