Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Die Franse teoloog Johannes Calvyn kon netsowel dié spreekwoord uitgedink het. Calviniste voel mos maklik skuldig.

Ons dink ons moet wérk en aanmekaar produktief wees. Stilsit is nie ’n opsie nie. Maar nie meer in Nederland nie. En die kuns van niksdoen, of “niksen” soos die Nederlanders dit noem, is dalk ook óns antwoord.

Dié nuwe leefstyltendens se lof word deesdae wêreldwyd besing in gesaghebbende nuustydskrifte, koerante en webwerwe soos Time, The New York Times Magazine, The Guardian en The Huffington Post.

Niksen beteken, kortom, om niks te doen nie, of om iets te doen sonder om ’n spesifieke doel voor oë te hê. Om bloot net te wees.

Kenners meen die behoefte aan niksdoen is moontlik as gevolg van uitbranding, wat wêreldwyd aan die toeneem is. Ook in Suid-Afrika. Volgens ’n 2018-peiling deur Gallup, ’n konsultasiemaatskappy vir prestasiebestuur in Amerika, het 23% van werkers voortdurend of gereeld dié toestand, met 44% wat dit soms ervaar. Die SA Depressie-en-angsgroep (SADAG) het bevind meer as 40% van siektes by die werk kan aan stres, major depressie, uitbranding en angstoestande gekoppel word. (all4women.co.za)

As jy chronies moeg is, stadiger as gewoonlik beweeg, opsien teen die kleinste takies en ’n soort geestelike uitputting en moedeloosheid beleef, ly jy aan uitbranding.

Maar al ervaar jy nie die simptome nie, is die meeste van ons se lewe só gejaagd weens werksdruk, die nimmereindigende eise van ’n gesin en die gezoem van sosiale media, dat ons nooit afskakel nie. G’n wonder ons sukkel om te slaap of om tot bedaring te kom nie, meen dr. Rosa Bredekamp, ’n sielkundige van Durbanville. Sy praat ook van die “geklets in ons kop” wat nooit stil raak nie en ons uitput.

Dit lyk wel asof die Noord-Europese nasies die balans tussen “werk en speel” regkry. Kyk na die Verenigde Nasies se geluksindeks van die afgelope sewe jaar. Die Skandinawiërs en Nederlanders tel elke keer onder die sewe gelukkigste bevolkings. Verlede jaar se gelukkigste land was Finland, gevolg deur Denemarke, Noorweë, Ysland, Nederland, Switserland en Swede. (independent.co.uk)

Verskeie faktore, waaronder ’n gesonde ekonomie, maatskaplike ondersteuning en lae vlakke van korrupsie, speel ’n rol. Maar kyk jy na leefstylkonsepte soos die Deense hygge (goedvoel-knusheid), die Sweedse lagom (matigheid) en nou “niksen” in Nederland, blyk dit dat jou persoonlike welstand swaar weeg by dié nasies, sê dr. Bredekamp.

Niksen, verduidelik prof. Ruut Veenhoven, ’n sosioloog aan die Erasmus Universiteit Rotterdam in Nederland, is enigiets van uitkyk by ’n venster tot eenvoudige breiwerk, wat jy “semi-outomaties” kan doen. Dit is om jou gedagtes te laat sweef, eerder as om op iets te fokus. Dit is ’n toestand waar mense hulself toestemming gee om tydelik weg te glip van die samelewing se obsessiewe verwagtings oor produktiwiteit.

Jy kan ook musiek luister of in die natuur stap – solank jy nie iets daardeur wil bereik of produktief wil wees nie, sê Carolien Hamming, hoof van die CSR Centrum in Nederland, wat pasiënte help om van uitbranding te herstel en hul stresvlakke beter te beheer.

Niksen is dus ’n stappie verder as mindfulness, oftewel bewustheid. By laasgenoemde moet jy immers konsentreer om in die oomblik te wees. (time.com) Dit werk uitstekend vir mense wat sukkel om te mediteer, sê Megan Cannon, eienaar en berader van Back to Balance Counseling in Illinois, Amerika. Sy beveel gewoonlik mindfulness-aktiwiteite soos asemhalingsoefeninge en meditasie aan vir pasiënte wat sukkel met stres en angstigheid. Maar sowat 50% van hulle kry dit nie reg nie en vir hulle stel sy niksen voor, want dit verg nie die dissipline van meditasie nie. “Jy begin deur net by ’n venster uit te staar. Kyk na ’n boom en laat jou gedagtes gaan ...” sê sy. (nbcnews.com)

FOTO Unsplash

Die voordele van niksen is legio. Doen jy dit gereeld, word nie net stres en angstigheid hokgeslaan nie, maar kan uitbranding ook voorkom word. Eve Ekman, hoof van opleiding by die Greater Good Science Center aan die Universiteit van Kalifornië, reken dit kan selfs help om jou immuniteit te versterk en die ouderdomsproses te vertraag. (time.com)

Dr. Bredekamp sê die Oosterse spreekwoord, “daar is aksie in geen aksie nie”, bied ’n verklaring hoekom dit werk. Sy verduidelik: Daar is ’n oorvleueling tussen meditasie en dagdromery (niksen). “Albei probeer ons gedagtes stilmaak. Met meditasie probeer jy stilte, rus en geluk ervaar. As ons dagdroom, is ons gedagtes onwillekeurig in ander koerse aan die dwaal.” En dan is dit maklik om die “geklets in ons kop” te tem. Sy sê dié geraas kan ’n mens onrustig en ongelukkig stem. “Daarom is dit belangrik om daarvan te ontsnap sodat ons sielkundig gesond kan bly.”

Nóg ’n voordeel is dat dit met probleemoplossing kan help: Wanneer jou gedagtes dwaal, “rus” jou kop en dan begin idees in jou onderbewuste vorm. Die Nederlandse sosiale sielkundige Ap Dijksterhuis het in die vroeë 2000’s ’n eksperiment hieroor gedoen. Hy het twee groepe gevra om ’n keuse tussen vier hipotetiese woonstelle te maak. Die groep wat die saak eers ’n bietjie in hul onderbewuste laat “rus” het, se objektiewe keuse was beter as dié wat dadelik gekies én dié wat bewustelik daaroor nagedink het. (psychologytoday.com)

Hannelore Olivier, akademiese hoof van die Friends of Design Academy of Digital Arts in Kaapstad, reken ook niksen kan kreatiwiteit aanwakker – mits dit reg toegepas word. Sy hou daarvan om lang rukke in die natuur te “wees”. Sy gaan stap in die berg, sit onder ’n boom en verwonder haar aan die tekstuur van die stam of blare, asem die vars lug in. Sy het in die Karoo grootgeword en dit is asof die onbegrensdheid van wye landskappe meer vryheid aan jou gedagtes gee om te “niks”, sê sy. Deur in stilte in die perfekte balans van die natuur te stap, weg van die gejaagdheid van die stad, kry sy nuwe energie.

Sy verduidelik dit aan die hand van navorsing wat aan die Stanford-universiteit in Kalifornië gedoen is. “Mense wat meer tyd in die natuur spandeer, is verwonderd oor die lewe en hul persepsie van tyd verander. Dit verkwik hulle in so ’n mate dat hulle ’n nuwe opbruising van kreatiwiteit ervaar. Ek vind nadat ek ’n bietjie ‘geniks’ het, is ek weer vuur en vlam om te komponeer, mandalas te teken en te dig.”

Nie almal “niks” ewe maklik nie. Baie mense voel skuldig. “Gee jouself toestemming om verveeld te wees,” sê dr. Bredekamp. “Die lekkerte is dit kos niks nie en jy kan dit enige plek doen. Maar jy sal nét voordeel daaruit put as jy jouself afskakel van sosiale media en ander tegnologie.”

Dit gaan dalk nie dadelik werk nie. Moet dus nie afskop deur ’n halfuur by die venster uit te kyk nie. Begin met ’n paar minute per dag en bou geleidelik op tot een aand van niksdoen per week, volgens Carolien Hamming. Dr. Bredekamp sê: “Onthou, die doel is om met die omgewing saam te smelt, sonder om daarop te reageer.”

Soos Hannelore gebruik die Nederlanders niksen as werkwoord. Dis vir hulle ’n lewensingesteldheid, eerder as ’n leefstyltendens, meen Bas Bruijninckx van Rotterdam, e-handelhoof van ’n internasionale parfuummaatskappy. Jy sal byvoorbeeld vir iemand vra wat hulle doen en die antwoord sal wees, “Oh, ik zat te niksen” (Ek sit en niks). En hulle voel nie sleg daaroor nie. Maar dit beteken nie hulle doen dit heeldag nie.

Ellen de Visser, ’n vertaler, sê Nederlanders is juis baie produktief en daarop ingestel om doelwitte te behaal.

“Daar word van studente verwag om hul studies binne drie jaar te voltooi, oorsee te studeer, internskappe te doen, by universiteite se klubs aan te sluit, en hul CV gereed te kry vir hul droomwerk.” En sy glo ook dat gereelde verposings kreatiwiteit en produktiwiteit bevorder. (huffpost.com)

Tog moet jy versigtig wees om nie te veel te “niksen” nie. Navorsing het gewys as jou gedagtes té lank sweef, kan dit in “bepeinsing” oorgaan. Dít het die teenoorgestelde uitwerking as wat jy wil bewerkstellig.

Dr. Bredekamp meen plaaslik, met ons groot werkloosheidsyfer, klink dit dalk na ’n onverantwoordelike voorstel, maar die idee is juis om niksen te gebruik om meer kreatief en produktief te word. “Want as jy nie daardie kalmte, aanvaarding en vrede het oor die lewe nie, sal jy sukkel om ’n bydrae tot die gemeenskap te maak en jou eie gesondheid sal daaronder ly.”

Niksen bring perspektief. Soos dr. Bredekamp sê: “Dit is lekker om te besef die wêreld sal nie vergaan wanneer ons sit en niks doen nie.” Die Kanadees gebore Amerikaanse skrywer Marty Rubin, bekend vir haar leerspreuke, het juis gesê dit neem ’n lang tyd om te leer hoe om niks te doen nie ... Dit is dalk die moeite werd om dit te leer – wie wil immers ongesond wees?