Nog ’n seder val. Charlie Rose se gesaghebbende TV-onderhoudreeks met sy naam is deur PBS (Amerikaanse openbare uitsaaier) en Bloomberg TV gestaak. Dis nou ná beweringe dat hy verskeie vroue deur die jare seksueel geteister het.

Dit het ons soos ’n tsoenami getref. Harvey Weinstein, Hollywood-grootmeneer, was eerste. Van die glinsterstad se bekendste vroue het vinger gewys: Ashley Judd, Gwyneth Paltrow, Angelina Jolie . . .

Toe bars die bom oor die kop van House of Cards se Kevin Spacey. Hy het glo mans seksueel aangerand en geteister. Nou is hy sy rol as die onderduimse politikus in dié gewilde Netflix-drama kwyt.

Die dam se sluise is oop, met die #MeToo-beweging as simbool van mense met ’n soortgelyke ervaring. Dis groot name wat genoem word: Onder andere Sepp Blatter, voormalige Fifa-president, Michael Fallon, Britse minister van verdediging, en Dustin Hoffman, Rain Man, ja.

Ook plaaslik het #MeToo soos ’n veldbrand versprei. Dit wys dat daar nie net ’n paar vrot appels is nie, maar dat seksuele teistering vir baie vroue alledaags is, skryf prof. Amanda Gouws van die departement politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch op Netwerk24. En ja, tot 70% van SA vroue kan slagoffers van seksuele teistering wees, volgens navorsing in die SA Tydskrif vir Bedryfsielkunde.

Sangeres Jennifer Ferguson hang sokkerbaas Danny Jordaan se beweerde verkragting aan die groot klok. Aktrises soos Crystal-Donna Roberts (Krotoa) sê: “Dit het al op stel met my gebeur!” Natuurlik is die openbare gesprek rondom seksuele teistering ’n belangrike stap om dié donker sosiale probleem by die horings te pak. Maar wat presies is seksuele teistering?

Die wet omskryf dit as onwelkome gedrag/aandag van ’n seksuele aard, sê Samantha Lewis, prokureur by die Kaapse firma Miller du Toit Cloete. Dis dus nie welkom en wederkerig nie. Kortom: As die ander een nie dieselfde voel nie, kan dit dalk op seksuele teistering neerkom.

#MeToo wys die spektrum van seksuele teistering, volgens prof. Gouws. Dit sluit die nie-verbale vorm daarvan in, soos mans wat vroue met die oë “uittrek”, prente van skamel geklede vroue aan mure, verbale gedrag (iemand wat fluit of grappe maak met seksuele innuendo), om aan iemand te vat, seksuele aanranding en verkragting. “As dit die spektrum is, het talle vroue al iets hiervan beleef,” skryf sy.

Bygesê, vir die wet (spesifiek die Wet op Arbeidsverhoudinge en die gepaardgaande kode van goeie gedrag ten opsigte van seksuele teistering) se tande om te byt, moet dit werksverwant wees, wat werkspartytjies en -reise insluit.

Vanweë die strekking van die wet is talle mense plaaslik al skuldig bevind, sê Charlie Higgs, arbeidsprokureur van Johannesburg. “Die appèlhof het dit in ’n saak as die wreedste vorm van wangedrag in die werkplek beskryf.”

Maar wanneer word ogies maak (seksuele aandag) vir ’n kollega teistering? Volgens Samantha as dit knaend is. (Hoewel net een voorval ook seksuele teistering kan wees.) En/of die een aan die ontvangkant het duidelik gemaak dis hinderlik. En/of die meneer met die rooi hakskene moes geweet het die gedrag is onaanvaarbaar.

In ’n hofsaak waarin ’n bestuurder ’n werknemer byvoorbeeld gevra het of sy “vanaand ’n minnaar” wou hê, het die hof beslis dis nie teistering nie, aangesien hy opgehou het nadat sy gesê het die toenadering is onwelkom.

Foto's ter illustrasie. FOTO: Getty / Gallo Images

Seksuele teistering is nie nuut nie, sê Janine Nieuwoudt, bestuurskonsultant van Johannesburg wat onder meer werkgewers adviseer oor beweringe van seksuele teistering. Dit neem ook nie noodwendig toe nie, meer mense meld dit net aan. Seksuele teistering of net ’n onskadelike geskerts? Dit gaan als oor hoe die persoon aan die ontvangkant dit waarneem. Is dit onwelkom, kan dit dalk ’n etiket van seksuele teistering kry. Nie so as dit niemand ontstel nie.

Janine: “Ek was in ’n vergadering waar die uitvoerende hoof ’n senior vroulike werknemer nooi: ‘Kom sit op my skoot.’ En niemand lig ’n wenkbrou nie. Later sê ek vir haar: ‘Dit was duidelik seksuele teistering. Hoekom doen jy nie iets daaraan nie?’ Nee wat, sê sy. Sy hou van haar werk, sy het ’n senior pos. Sy gaan nie moeilikheid maak nie. Sy beskou dit dus nie as onwelkom nie en dis die einde van die saak.”

Uit ’n wetlike oogpunt moet die gedrag nie net onwelkom wees nie, jy moet ook laat blyk dit staan jou nie aan nie. Dit kan ook nie-verbaal wees, soos om jou rug op hom te keer. En voorts: Is daar ’n magswanbalans? Bv. ’n jong klerk teenoor ’n bestuurder, sê Charlie.

Volgens Janine is dit nie altyd so eenvoudig nie. Sy het vir navorsing met verskeie vroue in maatskappye gepraat. “Hoekom het jy niks gesê nie?” het sy talle kere gevra. “Hulle was regtig te bang vir verdere intimidasie, ook buite die werkplek. Daar was gevalle van beledigende e-posse, vreemde motors snags voor hul huis.”

Dis dikwels vroue met ’n lae inkomste (47%) en nog in opleiding (51%), wys navorsing. Is dit realisties dat ’n bloedjong klerk vir haar baas gaan sê basta? Daarom beskerm die wet jou, sê Charlie: Jy kan ’n klag by jou werkgewer (die maatskappy) indien. Wat deur die wet verplig word om vir ’n veilige werkplek, sonder seksuele predatore, te sorg. Indien nie, kan die maatskappy mede-aanspreeklik gehou word. Jy kan ook direk aanklop by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (CCMA) indien jou werkgewer hom om die een of ander rede nie daaraan steur nie. “Hy’s net vriendelik, moenie laf wees nie.”

Statistieke wys die voorvalle wat aangemeld word, is oorwegend vroue wat deur mans geteister word. Volgens Janine het sy al met gevalle te doen gehad waar vroue ander vroue, en mans ander mans, seksueel teister. Vroue wat mans teister, is verreweg in die minderheid. Dalk is mans maar net minder geneig om te kla. Ander mans sal hom dalk uitlag, dis mos nie macho om oor so iets te kla nie.

Ook die werknemer het ’n verpligting om die werkplek vry van seksuele teistering te hou. As twee kollegas onder die belt grappies maak, ’n kliënt/ander kollega hoor dit en neem aanstoot, kan tugstappe volg. Jy dink dalk die lyn is vaag, of baie duidelik. Vir Janine is daar ’n mantra wat jy voor oë moet hou om slaggate te vermy: Seks en die werkplek is onversoenbaar.

Scenario 1: 

’n Vroulike toesighouer vra ’n manlike medewerker van tyd tot tyd om haar skouers te masseer. Sy kla sy is gespanne. Die deel waar hy masseer word metteryd ál groter en eendag betas hy momenteel haar borste.

“Wat dink jy doen jy?” gil sy. Seksuele teistering? Beslis, sê Charlie. Haar reg op privaatheid word aangetas.

Enigiets met ’n seksuele strekking is misplaas in die werkplek, sê Janine. “Die afgelope twintig jaar of wat moes ek bestuurders oor die volle spektrum van seksuele teistering oplei. Vir hulle vertel seks in die werkplek is onvanpas. Ons het heftige debatte daaroor, sommige sien niks verkeerd daarmee nie.”

Scenario 2:

’n Kollega of toesighouer komplimenteer jou kleredrag. “Jis, jy lyk goed . . . wow, daai lyf!” Seksuele teistering? Volgens Charlie hang it alles af van die ontvanger van die kompliment se subjektiewe siening. “Dis ’n fyn lyn, veral omdat die wet spesifiek aandui verbale seksuele teistering sluit ook grafiese kommentaar oor iemand se lyf in.”

Janine voeg by jul verhouding sal dit bepaal. As jy sê “Hi, Boet, jy lyk goed!” en hy voel nie te na gekom nie, is sake reg. Die wet neem ook in ag wat die “redelike” mens sou gedoen het indien die ontvanger van jou kompliment die dam onder die eend uitruk.

Scenario 3:

’n Manlike toesighouer staar na jou bors en sê hy hou van jou rok. As jy jou kaarte reg speel, gaan julle nog lekker saamwerk. Janine sê die wet maak juis vir dié soort seksuele skimpe voorsiening.

Met seksuele teistering deesdae in die kollig gaan dit min gebeur dat jou baas/kollega jou in die oë staar en sê: “Wat van ’n vinnige squeeze?” Meer dikwels is dit skimpe, sinspelings, verskuilde voorstelle, onvanpaste gebare.

In een hofsaak het die baas byvoorbeeld vir sy sekretaresse gesê: “Somebody didn’t get it all this morning.” Hy het beslis nie na graanvlokkies verwys nie. Hy is skuldig bevind aan seksuele teistering weens die insinuasie dat sy sekshonger is.

Nog ’n hofsaak: Die werkgewer het gesê hy kan nie wag vir die somer nie om te sien hoe “strut” die werknemer haar “stuff” (met verwysing na haar borste). Hy is ook skuldig bevind.

Scenario 4:

’n Kollega bestee baie tyd om pornografie op sy rekenaar af te laai. Die meeste maatskappye het hopelik ’n beleid daarteen, dit pas nie in die werkplek nie, sê Janine. Dis seksuele teistering as jy verbyloop, dit sien en aanstoot neem.


Seksuele teistering in al sy vorms: 

Fisieke kontak kan wissel van aanraking, bv. kaal visentering (strip search) deur/in die teenwoordigheid van die teenoorgestelde geslag, tot seksuele aanranding en verkragting. Vir laasgenoemde twee kan jy natuurlik strafregtelik vervolg word indien ’n klag by die polisie aanhangig gemaak word.

Verbaal sluit in onwelkome sinspelings, verskuilde voorstelle en skimpe; seksuele toenadering; aanmerkings met ’n seksuele ondertoon; seksverwante grappies of beledigings, of grafiese aanmerkings oor jou liggaam; onwelkome en ontoepaslike navrae oor jou sekslewe; en ’n onwelkome gefluit.

Nie-verbaal sluit in onwelkome gebare, onbetaamlike ontbloting en die onwelkome vertoon van seksueel eksplisiete prente en objekte. Quid pro quo is wanneer ’n werkgewer, toesighouer, lid van die bestuur of medewerknemer onderneem om, in ruil vir seksuele gunsies, jou te bevorder, jou salaris te verhoog, of jou op die een of ander manier in die werkplek te begunstig.

Seksuele voortrekkery/begunstiging is wanneer iemand in ’n gesagsposisie net mense beloon wat toegee aan sy/haar seksuele toenadering. En nie werknemers wat dit dalk meer verdien, maar nie wil saamspeel nie.

Bron: Samantha Lewis, prokureur by Miller du Toit Cloete

Interessant:

Volgens Janine doen maatskappye dikwels navraag oor ’n beleid teen lae halse, kort rokkies, deurskynklere, ens. Só ’n klerevoorskrif, wat omskryf wat gepas in die korporatiewe wêreld is, is wel moontlik.

“Ons kry baie klagtes van maatskappye waar vroue kla oor ander evas se kleredrag.” Verstaan mooi: Sy sê nie jou kleredrag is ’n uitnodiging vir seksuele teistering nie. Maar seksuele gedrag kan iemand anders in die werkplek ontstig.

Growwe praatjies van ’n seksuele aard buite die werkplek? Nie binne die grense van die wet nie. Dit kan egter ’n kultuur van seksuele teistering voed, mense onder die indruk bring dat dit normaal is, volgens die Britse koerant The Guardian.

Kontak

Janine Nieuwoudt: 011 875 2077, bmtinfo@bmtdimensions.com 

Charlie Higgs: 010 590 6251, charlie@higgsattorneys.co.za

Samantha Lewis: 021 418 0770, samantha@mdtcinc.co.za CCMA: 0861 16 16 16, info@ccma.org.za