“Ek sit by die Magaliesberg in my bakkie met my by-uitrusting aan. Dis 30 °C buite en ek kyk hoe my bye tot rus kom ná ek met hulle gewerk het. Op die agtergrond is twee rooihartbeeste, elkeen met twee kleintjies.”

Sharon Lage van Johannesburg se whatsapp op ’n loom Woensdagmiddag. Sy is een van ’n handvol vroulike kommersiële byeboere plaaslik. Moenie ’n gespierde vrou verwag wat met gemak ’n byekorf kan ronddra nie. Sy is in haar vyftigs en volgens haar eie beskrywing “kort en oorgewig”.

“So ’n dekade gelede het my man, Rob, se neef gekla daar is ’n byeswerm in die watermeter op sy sypaadjie. Rob het gesê: ‘Ons sal die swerm kom verwyder.’ Ek het hom vreemd aangekyk want ons was nie byeboere nie.”

Nog nie.

Die volgende week het hulle die plaaslike bybel oor byeboerdery, Beekeeping in South Africa, geredigeer deur M.F. Johannsmeier, deurgewerk. Gewapen met ’n byekorf, roker en twee by-uitrustings het hulle die bye aangedurf.

“Die suksesvolste manier om ’n swerm te verwyder is om die koningin te vang en in jou korf te sit. Die ander bye ruik haar feromone en trek ook in. ’n Wanopvatting is dat jy net jou korf by die boom of pyp met bye kan neersit en hulle verhuis vrywillig. Hulle het daardie plek gekies en gaan dit nie vir jou ‘boks’ verruil nie.”

Dus van Parktown na ’n munisipale huisie trek nie. Die redes waarom ons plaaslik net ’n handvol vroulike kommersiële byeboere het.

Om daarmee vol te hou moet jy ’n passie vir bye hê. Hulle fassineer haar.

“Hulle kommunikeer deur chemiese afskeidings of feromone en ’n spesiale byedans, die sidderdans genoem. En doen wat nodig is vir die kolonie se voortbestaan, wéét net wat en wanneer.”

Sharon het soveel moontlik oor bye uitgevind en maak ’n punt daarvan om met ander byeboere skouers te skuur.

“Dis soos kind grootmaak – daar is nie net een regte manier nie. Jy moet die manier vind wat vir jou werk.” Tot waar sy nou bewusmakingspraatjies by skole en vir volwassenes asook opleiding vir byeboere gee.

FOTO Unsplash

’n Gereelde vraag is of die heuning op winkelrakke “regte” heuning is. “Ek weet nie. Kenners sê 95% is nie, dat daar op een of ander manier mee gepeuter is. Dis verdun, ander goed is bygevoeg, suikerwater is verwerk om soos heuning te lyk, ensovoorts. As jy dit nie vir die soet nie, maar om gesondheidsredes gebruik, koop by ’n byeboer wat jy ken. Heuning is glo derde op die lys van voedsel wêreldwyd waarmee bedrog gepleeg word.”

Nee, bye byt nie, hulle het ’n angel op hul agterwêreld en hulle steek. Vreemd genoeg is dit ’n wanopvatting wat Sharon dikwels teëkom.

Syself is nie bang vir daai giftige angeltjie nie. “Ek swets nog, maar dis meestal omdat ek iets verkeerd doen.” Sy verdedig haarself maar net. [Die manne, hommelbye genoem, het nie angels nie.]

Ons almal reageer verskillend op ’n bysteek. Meestal swel dit baie, dis seer, rooi en jeukerig, maar klaar ná ’n paar dae op. Sowat 3% van die samelewing is allergies vir bysteek, teenoor sowat 14% tot 34% van byeboere. Hulle word meer gesteek en kan ’n intoleransie ontwikkel. Maar meestal reageer byeboere al hoe minder hoe meer hulle gesteek word,” sê sy.

’N WÊRELD SONDER BYE

Onthou toe julle kleintyd ver per motor gery het, al die blertse op die voorruit van insekte wat daarteen vasvlieg? Deesdae is dit omtrent skoon. Nie net heuningbye nie, maar al ons byspesies en ook ander insekte word bedreig. Volgens Sharon is ’n hoofrede moderne landboupraktyke. “Grond word in landerye omskep en boere plant boonop een gewas op ’n slag. Daar is nie meer ’n verskeidenheid natuurlike bronne van kos [nektarryke blomplante] nie.

“Dan is daar plaagdoders. ’n Nuwe generasie, neonikotinoïede [ook bekend as neoniks], het ’n vernietigende effek op bye en ander insekte.” Sy verduidelik saad word daarmee behandel. Die chemiese residu wat dit agterlaat, bly nie net in die grond agter nie, maar versprei deur die hele plant, stam, blare, blomme, nektar. Dit word in heuning oor die wêreld heen gevind. Hierdie soort plaagdoders beïnvloed klaarblyklik die sentrale senuweestelsel van insekte, wat tot verlamming en dood lei.

Dit kan katastrofies wees. Bye bestuif ’n derde van alles wat ons eet en speel ’n noodsaaklike rol in die planeet se ekostelsel. Sowat 84% van gewasse vir menslike gebruik – sowat 400 verskillende soorte plante – het bye en ander insekte nodig om dit te bestuif om die grootte en gehalte van die oes te verseker, volgens die Britse koerant The Guardian.

Plaaslik is onder meer aarbeie, bloubessies en swartbessies, sonneblomme, amandels en makadamianeute afhanklik van bestuiwing deur bye, sê die webblad southafrica.co.za. Ook bladwisselende vrugte soos pruime, pere en appels het bye nodig om hul bloeisels te bestuif.

Maar meer: Sade, vrugte en bessies wat deur voëls en ander klein soogdiere geëet word, kom van plante wat deur bye bestuif word.

Hulle is die bewaarders van die voedselketting en biodiversiteit van ons spesies, gaan The Guardian voort. Vrek al die bye, sal die mensdom dit waarskynlik oorleef. Dit sal egter ’n ekonomiese ramp met moontlike hongersnood wees.

Elkeen van ons kan ons deeltjie doen, sê Sharon. Plant soveel moontlik blomplante en bome wat bestuiwingsvriendelik is om bye en ander insekte (vlinders, motte, ensovoorts) te voed. Moenie plaagdoders in jou tuin gebruik nie. Die byeboerbedryf is ook voortdurend besig om boere en die plaagdoderbedryf oor die uitwerking van plaagdoders in te lig.

As jy ’n swerm bye wil laat verwyder, moenie die naaste maatskappy op die internet kontak nie. Dikwels wis hulle die swerm summier uit. Kontak jou plaaslike byeboervereniging. Of besoek die Suid-Afrikaanse Byeboervereniging se webblad by sabio.org.za/downloads/Bee-Removal-Services.pdf vir geregistreerde diensverskaffers. Soms is daar ’n fooi betrokke. (Maar die byemoordenaars vra óók geld.)

Hoewel sommige byspesies op die lys van bedreigde spesies is, sluit dit nie heuningbye in nie. Suid-Afrika het een heuningbyspesie, wat in twee subspesies ingedeel word, volgens Sharon. Omdat hulle inheems is, is die genetiese poel sterk en kan hulle plae en siektes weerstaan.

In Gauteng is daar 17 tot 22 “wilde” heuningbykolonies per vierkante kilometer. (Dit word dus nie deur heuningboere bestuur nie.) Ons het ’n voorsprong bo byvoorbeeld Australië en Amerika, wat nie inheemse heuningbye het nie. Hul heuningbye kom van Europa af en word gereeld deur siektes uitgewis waarteen hulle nie ’n toleransie het nie.

Ook dele van Europa, soos Duitsland, het geen wilde kolonies nie, net dié wat byeboere bestuur, volgens haar.

FOTO Unsplash

Het jy geweet?

- ’n Byekorf kan in die somer soveel soos 50 000-80 000 bye hê. ’n By moet nektar van sowat 2 miljoen blomme versamel vir sowat ’n halwe kilogram heuning. Sowat 556 werkers is nodig om dié hoeveelheid te maak. Bye vlieg die ekwivalent van meer as een keer om die wêreld hiervoor.

- “Volgens bekende lugvaartwette is bye nie veronderstel om te vlieg nie. Hul lyfies is te swaar en hul vlerke te klein. Ons almal kan die noodlot klop en die onmoontlike regkry,” het Joan Rivers, Amerikaanse komediant, op ’n keer gesê.

- Steeds eetbare heuning is in die Egiptiese grafkelders gevind. Dis saam met die Farao’s begrawe vir soetigheid in die hiernamaals.