Maar iets in my bly knaag ... en omdat ek glo dat daar heelparty is wat hulself met my situasie kan vereenselwig (asook die terapeutiese waarde daarvan), druk ek tog deur om kommentaar te lewer. Hierdie brief is dus vir myself en vir my ouers (op wie ek so ongelooflik trots is. Nee, as ek eerlik moet wees – dis dalk net vir myself ...

Ek is onlangs van my handsak beroof. Die afgelope 4 jaar was ons slagoffers van twee “suksesvolle” inbrake en nog twee pogings tot inbraak by ons huis. En ons motor is gesteel.

Maar by verre die ergste: Oktober 2007 het ’n traumatiese voorval, met verreikende gevolge, met my ouers gebeur. Selfs voorbladnuus van koerante gehaal. Detail hieromtrent is nie nodig nie. Dis tog altyd maar min of meer dieselfde storie, en één misdaadslagoffer se storie is nie noodwendig nie meer uniek as die ander s’n nie.

Ek en my man was, buiten die polisie en ’n huisvriend, van die eerstes op die toneel. Dis onmoontlik om presies weer te gee hóé en wát ek as dogter daardie oggend ervaar het. Net so moeilik is dit om my emosies en gevoelens wat sedertdien rondspring tussen pessimisme, antagonisme, soms optimisme en enige ander toestand wat met die agtervoegsel “isme” verbind kan word, uit te druk.

Die volgende gediggie, hoe somber ook al, is my eie poging om my te help om klaarheid te kry.
Hester Roos, Pretoria-Noord

Die donkerrooi prentjie


Wanneer slegte dinge met goeie mense gebeur

Maak dit my ongelukkig, ja, dit vat mens seer –

Veral wanneer die statistiek aan jou voordeur kom klop

En ek probeer verbete teen die prikkels skop ...

My ouers het die onmenslikheid tog nie verdien?

Ek kan steeds die bloed teen die mure sien

En teen die kosyn ... en die mat ... en die bed,

Ek stap deur die huis waar hul haar verniel het ...

Die wonde van tiental messteke het by nou al genees En hy probeer hard om die “macho-man: te wees Enslaag goed daarin – dra sy masker goed –

Maar soms, net soms, sien hy ook die bloed?

En dan sien ek haar lyfie – gebukkend, half krom

Maar sien ook haar braafheid, dit laat my stom.

Ná die terapie en operasies gaan dit wel goed

Maar ek wonder, sien sy ook soms nog die bloed?

Ja, te veel dinge gebeur met goeie mense

Waar is die waardes en waar is die grense?

En ek sal nooit weer na bloed soos voorheen kan kyk

En wonder of die donkerrooi prentjie ooit sal wyk ...