Ek sit moeg gewag in die dokter se spreekkamers. Dis nou al die tweede keer dat ek deur die stapel tydskrifte grawe na een wat ’n blokkiesraaisel bevat. Blote obsessie en verslaaf. Dís wat dit is. Ek beken skuld sonder verskoning. Daar is tydskrifte oor finansies, medies en ’n plaag ander onderwerpe, maar niks waarna ek soek nie. My frustrasie groei soos die sweetbult, wat nou in die behandelingskamer uit my dogter se kop gesny word. ’n Vrou staan op en laat ’n tydskrif op die stoel lê. Ek skuifel soos ’n uitgehongerde kosdief nader. Daar is ’n blokkiesraaisel. Voltooiing van die raaisel bring die angsgevoel van ’n pa wat sy dogter op haar troudag moet afstaan. Voor ek die ander raaisel aanpak, blaai ek deur dié Oktober 2004-SARIE. “Praat saam”, die wenbrief van “’n Wedergebore Afrikaner”, trek my aandag. Die skrywer koop gereeld Engelse tydskrifte, maar vind toe weer haar taaltuiste in SARIE. Dit bring die spook van ’n onvoltooide brief op my rekenaar. Net daar word ek sommer weer die herrie in. Vergete is die blokkiesraaisels. Ek is oud, dwarsdenkend, konserwatief en obsternaat. Afrikaans is ’n lewende taal, of so was ons voorgehou in die vervloë jare. Dis goed, maar ek aanvaar nie dat Afrikaans huidiglik op die skoolbanke vermink word nie. Nie deur die leerders nie – kinders praat ’n pragtaal van hul eie – maar deur, hopelik net ’n paar, opvoeders. My kleindogter doen huiswerk. Sy’s op ’n laerskool in die Blaauwberg-gebied. “Oupa help”, kom die roep en ek tree gewillig nader. Ek het al baie tragedies in lewe deurgemaak, maar nog nooit so ’n befomfaai en mishandeling van die taal teëgekom nie. Elke huiswerkles, netjies opgestel, getik en gekopieer deur die opvoerder, is deurdrenk met spelfoute, onbegryplike woordsamestellings, idiome wat vanuit die buiteland geïmmigreer het en grammatika wat in die riool tuis hoort. Stel hierdie tipe opvoeders nie belang in hul werk nie? Waar is die professionele trots om ’n kwaliteitdiens aan die nageslag te lewer? Regverdig hul blote teenwoordigheid ’n salaris? Moet hulle maar nie liewer oppak en padgee nie? Hulle is sekerlik nie ’n voorbeeld vir ons kinders nie. Hierdie opvoeders ploeter rond en hul gedrag en optrede - skandelik onvoldoende - word die basislyn van ons kinders se taalgebruik. Geen wonder ons wedergebore Afrikaans is gewond en sterwend nie. Albertus Meulman, Milnerton