Op Vrydagoggend 20 April 2012 was ek presies 40 weke swanger. 40 weke van 18-20 kg oorgewig wees. 40 weke van rugpyn, gereelde opstaan-in-die-nag-nagte, ongemak, oorgroot-klere, opgeswelde...wel ALLES, en die lysie hou aan.

Maar natuurlik ook 40 weke om die grootste wonderwerk onder die sterre te ervaar in jou liggaam. Simeon het geskop, gestoei, gehik en gedruk, en dit was woes spesiaal, maar ek kon nét nie meer wag om hierdie seuntjie van aangesig tot aangesig te ontmoet nie.

Dus het ek die 20ste opgestaan en geweet VANDAG IS DIE DAG. Ek sal elke boereraad in die boek uithaal...(ja, en sommige van hulle is met moeite so op 40 weke) maar uit, sal die knaap uit.

Vroegoggend het ek my dosis kasterolie in. Gelukkig het my ma ons van kleins af gewoond ge(s)maak aan die aaklige smaak. Maar soos ek sê, ek was desperaat. Toe vaar ek die winkels in en dink by myself: “Vandag LOOP ek hierdie baba uit.”

En was dit nie die snaakste ervaring nie. Soms druk Simeon op ‘n senuwee hier tussen my bene dat hulle sommer so onder my meegee en ek so half inmekaar sak, dan maak ek maar of ek iets BAIE interessant in die winkelvenster sien, wat mens nie uit ‘n normale hoogte sou raaksien nie. By twee of drie winkels het die winkelassistente vir my gevra: “So when is your baby coming?” “Today”, sê ek, dan lag hulle uit hulle mae uit en ek smile en wieps myself bietjies bietjies nat, soos knaap op die blasie lê.

Ek was seker so teen 4:30 by die huis en na ek my post-swangerskap-in-die-geloof-nommer-34-pakkies weggepak het, het ek uitgeput op die bed gaan lê. Heinz het so net na 5 ingekom en gevra of ek saam met hom en Lian wou gaan stap, waarop ek antwoord: “Ek dink ek het genoeg gestap vir een dag.” And off they went...

Teen 5:05 BBM my ginekoloog se vrou my (my vriendin en wonderlike ontwerper) en vra of ons die Saterdag gaan induseer want haar man gaan die volgende week Indië toe en hy wil graag by wees met die bevalling. Ek laat weet haar dis reg, ek wil OOK baie graag hê haar man moet by wees.

My BBM is nog êrens in die kuberruimte toe ek haar weer laat weet om 17:12: “Eish ek dink iets is aan die gebeur?” “RÊRIG?” kom sy terug “Time bietjie hoe ver uitmekaar uit” “*^&%#$@$%#%@!!!! TWEE MINUTE UITMEKAAR!!” “GAAN DADELIK HOSPITAAL TOE, ek bel solank vooruit en reël met my man om jou daar te kry!”

Ek voel soos ‘n hoender met ‘n af-kop. My man is êrens in ons kompleks en ek is besig om te kraam. Wat vat ek? Wat los ek? Is dit werklik NOU die tyd? Ek loer by die badkamer se venster uit en sien Heinz onder in die straat loop en skree soos ‘n vrou wat nie haar sout werd is nie: “HEINZ!!! Jy moet KOM!!” Dié skrik sy as af, gryp vir Lian en hardloop huis toe.

In ons kamer aangekom volg die gesprek so: “So, dis dit?” “Jip! OEPS, daar breek my water nounet!” (Gelukkig is ek nog in die badkamer?” “Is jy seker?” “JA HEINZ, want ek het nounet myself nat gepiepie en ek staan by die wasbak?” “GOED, ons ry dadelik.”

Hy gryp my tas, en Simi se tas en reël met ons assistent, Marisa, om na Lian om te sien. Ons spring in die kar en jaag in Vrydagmiddagverkeer Sandton toe. Ek praat in tale as iemand net effe te stadig na my (kontraksies se) sin ry.

Ek spring uit by die hospitaal voyer terwyl Heinz die kar parkeer en wys vir die bode om asb ‘n rolstoel te bring. Hulle kyk my met sulke groot oë aan asof daar nog nooit in die geskiedenis van Sandton Medi-Kliniek ‘n vrou in kraam aangekom het nie. Ek snap my vingers om hulle aan te moedig en na vele (minute) sekondes begin die spannetjie beweeg. Ek word “Maternity Ward” toe gestoot...

“Nee, skree ek half uitasem, kraamsaal toe, dadelik, daar is nie tyd vir Maternity Ward nie!” Die twee is nie op dieselfde vloer nie en skielik druk die man ‘n ander knoppie in die hysbak. Daar aangekom (17:45 se kant) word ek dadelik in die kraamsaal ingestoot en die suster praat baie rustig met my. “Ek soek ‘n epiduraal!”

Die kontraksies raak meer intens en vinnger op mekaar. Die suster verseker my sy sal die narkotiseur bel maar moet gou net gou ondersoek hoe ver ek al ontsluit is... “6 cm” “I can phone him but I doubt it if he will make it in time?” Ek druk daai gasmaskertjie oor my mond en haal diepier asem as wat ek gedink het ek het LONGE!

Nou moet julle verstaan, dit was nie ‘n geval van kontraksie vir 30 sekonde, rus vir 3 minute nie? DAAR WAS GEEN RUS NIE, dit was só opmekaar ek kon skaars ‘n woord uitkry om te praat. My dokter het 18:20 by die teater ingestap en my bevoel en bevat. Toe hy hoor ek het gevra vir ‘n epiduraal, bars hy amper uit van die lag: “Baie jammer maar daar is geen tyd nie!”

Die volgende oomblik voel dit of hierdie baba by my wil uithardloop en ek begin skree soos in die ou dae! En net daar kry ek die openbaring van “waar die kranse antwoord gee!” Dit was die Voortrekkers se geskree op daai waens wat vir hulle terug ge-eggo het! (Beste voorbehoedmiddel vir al die jong voortrekkertjies wat ‘n paar kilos agter die kraam-wa was.)

Die baie gereserveerde suster probeer vir my sê dat ek moet ophou skree en eerder my energie gebruik om te druk. Ek kon nie minder omgee wat sy sê nie, want ek het amper nie eers gedruk nie Simi wou UIT en hy het gekom!!

18:48 presies ‘n uur en ‘n half later (van die eerste kontraksie af) hou ek my mooiste donkerkop seuntjie in my arms. 4.34 kg, 55 cm en ‘n 37 cm grootte kop. Geen wonder ek het so gewaggel nie. Interessant dat Lian 4.12kg was en Simeon 4.34kg... wat sê dit van ‘n (moontlike) 3de baba...4.56 kg??

Vir julle dames wat mammas is (ek hoop dit is net dames wat hierdie ongesensorde details lees) sal weet die tweede baba is net anders! Ek is soveel meer op my gemak en geniet net elke liewe sekond saam met hom. Sy glimlag laat elke liewe sel in my liggaam smelt (wel apparently nie die vetselle nie) maar ALS anders. Julle sal BAIE binnekort vir Simeon ontmoet en verstaan hoekom hierdie mamma so koer!

Volgende keer vertel ek julle van die chaos met twee babas in die huis...soms drie!

Lekker om terug te wees,

ek

P.S blykbaar sê my dokter vir sy vrou dat sy ore nog ure na die bevalling gesuis het van hierdie sopraan stem!

* Lees al Aletté-Johanni se blogs hier