Tot hier toe en nie verder nie. Ek het gekla, en gehuil en my dokter gesmeek om alle vooropgestelde idees te laat vaar en gepleit dat ons ‘n nuwe blaadjie kon omblaai en opnuut van vooraf kon begin en net wérk. Maar vergeefs. Hy wou nie saamwerk nie. Hy kon my nie vergewe vir al die ‘ander’ wat ek uitprobeer het nie;-(

‘n Baie dierbare vriendin vertel my toe van ‘n ánder dokter en nét daar en dan is my lojaliteit aan dr. nommer 1 self sommer afgeknip. “Ja...vertel my meer?” wil ek weet. Sy noem ‘n paar indrukwekkende feite. Hulle neem jou bloed (jou mediese fonds betaal) en toets elke liewe funksie moontlik: Lewer, cholesterol, skildklier, sodium, yster, kreatinien, niere, kliere...als. Daarna word jou uitslae Duitsland toe gestuur en binne 3 dae het jy (werklik) ‘n program wat nét vir jou bedoel is. (Anders as dokter nommer 1 waar die hoeveelhede net aangepas word per klient)

My fraaie vriendin vertel my dat sy al menige mense se programme gesien het en nie éen s’n lyk dieselfde nie. My ore spits al hoe meer ... “En,” sê sy, “jy eet rerig baie en (báie) lekker. Nou ja, sien is glo, of in hierdie geval proe is glo, en so maak ek my afspraak met die nuwe dokter (so gou as moontlik) Die inligtingsessie klink gevaarlik intimiderend en die verduideliking van die 4 verskillende fases van hierdie program lyk soos Kilimanjaro, of dalk meer realisties, Northcliff koppie.

Woorde soos: 2 dae van detoks, nét vrugte, of groente, of aartappels, of rys...en geen suiker of melk en ook niks tussen etes, laat my bleker as die melk wat ek nounet totsiens moes sê. Maar al bewe my bene onder die tafel weet ek in my hart, hiérdie is my antwoord waarvoor ek gebid het. (Ja, ek bid ook vir myself.)

Twee dae later word my bloed getrek...liters en liters bloed ;-) Die suster moes omtrent haar varkies bymekaar hou om seker te maak daar is genoeg buisies vir al die toetse. En natuurlik as jy weet jy het 3 dae oor om “lewe” gaan jy aan’t vrete! Enige ding wat voorkom net om seker te maak jy verlang nie te veel na hom tydens hierdie volgende vier fases nie.

Lekker vang die slim Duitsers my vir ‘n vuile want net twee dae later en sommer so op ‘n Saterdag lê my uitslae, program en 4 fases in my e-pos-binne-boks. Ek sien hom vir my lê en loer...maar ek vermy vir hom soos die pes. Teen laatmiddag is ek eintlik net te nuuskierig om te sien wat daar vir my gesê/gegee word dat ek toe nou maar die outjie oopmaak. “Pulses “Wat de joos is Pulses vra ek myself en my fraai vriendin per sms af. Die groente klink soos iets uit ‘n ander land (off course) maar daar is darem ‘n paar wat ek herken: Avokado, tamatie, blaarslaai, spinasie, butternut, groenbone, witkool, rooikool, komkommer, wortels, jare se sampioene, groen olywe, uie en die res is Grieks. My vrugtebesluit o.a in appels, kiwi, naartjies, mango, papaja, perskes, suurlemoene, kersies, spanspek, en swartbessies. (En vir die tegnologieses onder ons is daar twee kompeterende slimfone ingesluit.) Daar’s rooivleis, vis en hoender, kase, tofu en dan kom die verduideliking van Pulses: Allerhande weergawes van bone, lensies en kekerertjies.

Maandag is Maandag. Fase 1. Detoks fase en nag der nagte. Ek kies vrugte; makliker bekom- en voorbereibaar. Twee dae. Baie water. Baie hoofpyn. Doodmoeg. I rest my case...and my body.

Woensdag begin Fase 2. Twee weke van volg-die-program-woord-vir-woord soos uiteengesit. Woensdag is die nuwe Maandag en Fase 2 begin. Maar baie blerrie slim van die Duitsers voel enige dieet gevolg na twee dae van detoks soos die HEMEL!!

Elke ete word vergesel met rogbrood (wat noodgedwonge nou vir my die lekkerste brood op die aarde is) groente en proteine en word afgesluit met ‘n vrug. Dit verseker jou bloedsuiker word gestabiliseer en jy kan uithou vir die volgende 5 ure sonder kos.

Na my gesondheidsbroodjie ontbyt afgesluit met ‘n perske en swart, bitter rooibostee, wag ek dat die honger my moet tref hier ná uur 3...en dit kom nie... As uur 5 nader kruip, kan jy voel dat jou maag regmaak vir rondte nommer 2. Wéer ‘n broodjie met maaskaas en avo en ander groente...I mean? Dit klink nie vir my soos ‘n dieet nie? En dit is ook wat hulle beaam. Dit is nie ‘n dieet nie, jy herstel jou metabolisme wat deur jare se inspuitings, pille en shakes net nie meer dieselfde is nie (dis nou nie ék nie, dis júlle daarbuite ;-)

Voordat ek verder gaan om Fase 3 en 4 te verduidelik, wil ek net spog en sê, na een week saam met my nuwe beste VROULIKE dokter (dalk is dít die geheim) is Aletté-Johanni Winckler 3.3kg ligter! Die 13.6 wat wat oorbly gaan baie vinnig moet begin pak, want hiérdie lyf was lanklaas so gemotiveerd. En ja ja moet nou nie dink jou wiskunde is baie goed omdat jy kon uitwerk hoeveel ek nou weeg nadat ek 3.3 verloor het en dan 13.6 moet aftrek om by 64 uit te kom...nee! Hiérdie keer, mik ek ‘n bietjie laer...It leaves me room to grow...

Sien later minder van my...

P.S Op ‘n ander rooi tapyt tipe noot, Sondagaand se Ghoemas was WOW!! Die produksie was briljant aan mekaar gesit en Barry Pretorius wat als aanmekaar gesit het, kan homself op die skouer klop. Die wenners hierdie jaar was meestal Theuns en Bobby en Theuns en Bobby en Juanita en Theuns en Bobby en Theuns en Juanita en Bobby...as ek die twee mans wenners se stemme so luister dink ek dat dat ek dalk ‘n rasper by my man se keel moet afgooi...(Grappie)

Almal het beeldskoon gelyk en dit was lekker om vir die eerste keer vanjaar op te tof in een van Anél Botha se ongelooflike skeppings. Fanie, van SARIE was hoeka saam met Melinda Bam op die verhoog en dit wil voorkom of hy die skares mense geniet. Nadia Beukes, Willem Botha, en Emo Adams se vertolking van Suid-Afrikaanse “musicals” was belaglik goed en Corlea, MoniQue, Johan C Venter, Dewald Louw en Bobby se vertelling van hoé mooi jy kan vry in Afrikaans het my letterlik in trane gehad.

(Tannie) Carike Keuzenkamp is vereer vir 46 jaar in die musiekbedryf en Juanita het tydens een van haar (vele) dankie-sê sessies op die verhoog genoem sy dink dis tyd vir ‘n museum vir Afrikaanse musiek, sodat ons nageslag kan weet wie is Tannie Sonja en Oom Bles.

‘n Spesiale aand saam met SARIE, Rapport en kykNET ter verering van Afrikaanse musiek. Ek was, is en bly trots Afrikaans.

* Lees nóg blogs deur Aletté-Johanni.