Toe Heinz net na Idols Johannesburg toe getrek het en in sy eie nuwe plekkie kom bly het, het Joe Niemand eendag by hom kom kuier. Dit was in die week tydens werksure en die kompleks was bonatuurlik stil.

Heinz het vir Joe sy tuintjie gewys toe die volgende afspeel. Joe: “Hierdie is ‘n lekker plek, dit klink baie rustig en stil, is dit stil?” Heinz maak sy mond oop om te sê hoe bly hy is dat dit so stil is, veral deur die dag wanneer hy meestal by die huis is toe daar êrens uit een van die huise ‘n vrou is wat kliphard vir haar man/kêrel/minnaar/kind skree: “Praat die waarheid!”

En met daai woorde het sy bevestig dat dit toe nou wel nié so stil en rustig is nie, en die manne kon maar net lekker saam lag.

Ek, Aletté-Johanni Winckler het besluit 2012 is mý jaar waarin ek die waarheid gaan praat. Ek wil eerlik wees oor my gevoelens. Ek wil eerlik wees as dinge moeilik gaan en ek nie voel ek kom die mas op nie.

Ek wil die waarheid vertel vir my man oor my kredietkaartskuld, asook waarheen my voorkop plooie heen gaan verdwyn ná my swangerskap. Ek wil eerlik wees oor my verlede en ek wil eerlik wees oor die toekoms. Ek wil eerlik wees oor wat die skaal my toesnou en die waarheid in die gesig (of die boude) staar.

My laerskool se leuse was nie verniet: “In lig en waarheid lewe” nie,  en hoe sê hulle, dis in daai eerste 7 jaar van ‘n kind se lewe wanneer hulle fondasies gelê word. (Ek was skool toe toe ek 5 was so hulle het darem so 2 jaar se invloed gehad)

Iemand anders wat blykbaar ook besluit het om die waarheid te praat was my ginekoloog tydens my eerste besoek na die vakansie: “Het jy lekker vakansie gehou?” en nog voor ek kan antwoord kyk hy na my lêer en sê: “Nee toemaar, ek kan sién jy het baie lekker vakansie gehou?”

Hy is gewoonlik ‘n man van min woorde. My huishulp het met die intrapslag vir my gesê: “Eish, Lian has gotten beeg...and you also gained a lot of weight!” Dus is daar geen tekort aan mense wat die waarheid in my lewe inspreek nie.

Al wat ek wil sê is met Lian se swangerskap het ek 5 kg opgetel tydens my son, see en somervakansie in my skoonma se huis. Simeon, aan die ander kant was my baie begenadig en kon sy “cravings”  (soortvan) in toom hou, want hierdie Desember was dit ‘n skamele 3 kilos. Goed, so as ons dus die waarheid moet praat, is ek Vrydag 20 Januarie 27 weke swanger en het ek (laas toe ek op die skaal geklim het) 10.9 kg opgetel.

Maar dis hiér dames en here waar die koring en die kaf geskei word. Hier in die pylvak van die swangerskap. Volgens daai dokter se geweldige eerlike lêer, het ek laas keer in die laaste 3 maande sommer 14 kilos opgetel.

So dis hiér waar ek begin bid dat die Here my mond sal sluit soos hy met die leeus in Daniël se tyd gemaak het en dat ek ook eerlik sal wees oor wat ek (of Simeon) RÊRIG nodig het en wat ek net wil hê.

Ek hoop elkeen van julle het ‘n verfrissende vakansie gehad en dat die nuwe jaar ook net hoop, liefde, lig en waarheid vir elkeen sal inhou.

Tot ‘n volgende keer.

* Lees al Aletté-Johanni se blogs hier