Anders as met Lian se koms het ons nog nie so vroeg ‘n naam nie, maar glo my ek sal julle laat weet sodra Liewe Jesus daai naampie in ons ore gefluister het. Ons leer nou vir Lian van “boetie” en hy soen hom speels, maar as ek vir hom vra “waar is boetie?” dan wys hy effe verder noord as my maagarea. Wil nog vir hom leer, dit is boobie, nie boetie nie...

Week 14 is verby en volgens die dokter se rekords is ek nog so 3.5 kg voor my my vorige swangerskap, EN kan ek by sê, ek het defnitief ‘n kilo of 2 laer begin die vorige keer, dus gaan dit eintlik goed. Ek kon tot onlangs toe my normale broeke aantrek, maar hierdie boetie is nou so groot soos ‘n suurlemoen of dalk ‘n lemoen en raak dit al hoe moeiliker om daai broek se knope vas te maak. (Wag tot hy ‘n waatlemoen is!!!!) So by the way, die noorderlike “boeties” is sterk oppad waatlemoene nie...EN DIS WEEK 14!!!

My trippie na mevrou die dieetkundige het ook verbasend goed afgeloop. Hierdie week het sy my geleer hoe om kos-etikette te lees, waarvoor om te kyk, asook wat om te bestel by watter restaurant, asook wegneem-etes. Een belangrike faktor wat sy my leer is: “Vet, maak vet” en baie produkte wil mens flous met etikette soos “light”, “lower”, “low in fat” of “60% LESS FAT” wat net beteken daar is steeds 40% vet per 100 g m.a.w 40.g vet per 100.g en ons moet altyd kyk vir minder as 3.g vet per 100.g.(Sjoe, hoor hier, my wiskunde word ook weer êrens uit ‘n leër in my grysstof uitgeruk en afgestof. ) Belangrike sleutelwoords om ALTYD te onthou: Lae GI, gereelde etes, PORSIE BEHEER, baie baie water, en natuurlik LAE VET of nog beter Vet Vry.

Dis eintlik belaglik hoe elke Jan Rap en sy maat op die wa spring en sy eie reëls en regulasies het van wat is dit nou EINTLIK wat ons moet vermy. En wat sy sê maak eintlik vir my sin. Moet NIKS vermy nie, jou liggaam het iets van als nodig, maar i.p.v. die die hele avo, feta, croutons, bacon crips EN mayonnaise in jou slaai, kies één vet en hou daarby.

Ek kan behoorlik nie glo die tyd vlieg so en dat die jaar ook al klaar weer vebry is nie. In my kop én in my hart lê ek al op een of ander Kaapse strand of speel ek met my eerste seuntjie in die groot bad (see)! 2011 het sy tol geeis en ek dink almal van ons is moeër as wat ons laasjaar hierdie tyd was...of is dit net ek?

Dames, op ‘n ander noot: Ek weet om ‘n kind te baar en in die wêreld te bring is seker dié grootste wonderwerk en voorreg in hierdie lewe. Ek weet hoe dit voel om te sukkel om swanger te raak, en ek weet hoe dit voel om ‘n baba te verloor. Asseblief moet nie vir een oomblik dink ek sien dit as ‘n straf of is nie dankbaar vir die omstandighede waarin ek myself begewe nie. Hierdie is mý storie, uit mý hart, aan al my vriendinne wat al hierdeur was of nog hierdeur moet gaan. Almal ervaar nie dit nie as maanskyn en rose nie. Almal is nie “gebore om swanger te wees nie”. Hierdie is vir dié van julle wat kan assosieer met die kilos, die energievlakke en die hormone wat elke nou en dan hulle kop uitsteek. As jý met my kan vereenselwig, lees gerus voort...

Tot volgende week

A.

* Lees Aletté-Johanni se vorige blogs hier.