Nooit in der ewigheid sal hy my beste vriend raak nie, o nee, daarvoor het hy my al té seer in my lewe gemaak en sulke verneukery is moeilik om te vergewe... maar dalk sal ons net ten minste op speaking terms kan kom. Mekaar in die oë kyk, en met eerlikheid opreg met mekaar praat. Die waarheid praat, en die reël is dat níémand aanstoot mag neem nie.

Nou wonder julle almal wát in die lewe kon gebeur om my negatiewe gesindheid so onomwonde te verander? Wel, ek het julle mos vertel van my baie goeie nuwe vriendin, die dieëtkundige. Ek was vandag vir my 2de besoekie in ‘n week en ‘n half by haar (en kom ons draai nou nie doekies om met mekaar nie, ek was nie so soet nie), maar die gevolg is: Heup is 3cm af, bo-arms is 4cm af, bo-been is 3 cm af. Net my baba is met goeie reg so 4 cm groter. Op skaal het ek nog meer klere aangehad as laas keer en is net 100g op.

En laat ek julle vertel, ek was benoud om op daai skaal te klim ná ‘n week in die mooie Kaap en my skoonma se herderspastei, waterblommetjiebredie, tuisgemaakte pizza en sagopoeding! Maar die lae-Gi outjie werk. Jy móét jou metabolisme aan die gang hou met die regte kosse! En spanmaats, dit wat ek vandag geleer het sal die hare op jou nek laat rys en jou hare op jou tande gee.

Vandag het ons proteïne en vette bespreek, en hier volg ‘n paar interessante feite. Een Canderel-sjokolade (daai outjies wat ons verober en nie eens daaroor dink nie) is gelykstaande aan 3 Bar-ones!

Kyk, dan vat ek maar eerder die punch en eet 3 Bar-Ones en maak dit werklik die moeite werd! Jy kan 9 pakkies “Flings”-skyfies eet in die plek van net een pakkie NikNaks! Drie hot-dogs vir een boerewors-rol en die lysie hou aan en aan en aan...

Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar net so seker soos wat ek voel dat elke liewe mens op aarde ‘n voorkomskonsultant moet sien om te weet watter style en kleure by hulle liggaamsvorme en gelate werk, so voel ek dat elke liewe mens op aarde by ‘n dieëtkundige moet uitkom en leer oor wat ons en ons kinders en ons ouers elke dag in ons monde sit. Ek belowe jou, dit is skrikwekkend.

Soos julle kan agterkom is ek gemotiveerd en in vergelyke met laas keer waar ek in my eerste trimester al amper 7 kilogram opgetel is my 2.5 van hierdie eerste trimester nie te versmaai nie. Alhoewel ek het die lemoenskil so in die spieel uitgekyk vanaand toe ek my Skouspel-bikini aangepas het. Ek sal maar net moet seker maak ek kry daai bobene vinnig vinnig bruin gebrand, en hopelik speel die warrelwind- weer saam.

Tot ‘n volgende keer.