Vriende, tot hier toe en nie verder nie. (Dis wat my broekspante en ritssluiters ook sê!)

Die afgelope paar weke het veel te wense gelaat...Vele wense dat ek eerder beter keuses in die kombuis, tydens Heinz se verjaarsdagete, saam met vriende by hul damhuis, en om ander etenstafels gemaak het...

Vir die afgelope 4 maande het ek, my man en beste vriendin, Sumari Schoeman, aan ‘n ontsaglike belaglike wonderlike opwindende projek gewerk, wat elke liewe (spaar) minuut van ons daggies en spaar korrels van ons energie in beslag geneem het. (Een van die dae gaan julle alles hieroor uitvind) Maar gisteraand het ons noodgedwonge (semi) klaar gemaak met die grootste gedeelte van die projek.

Vanoggend vroeg is my man KKNK toe, en ek en kiddos skiet later deur na oupa en ouma in Parys. Saterdag ontmoet ek en Heinz (skelmpies- hiehie) in Stellenbosch vir Anel Botha (ontwerper) se sprokiestroue en Sondag is hy weer terug in Oudtshoorn en ek in Parys. Dinsdag sal ons mekaar weer in die oë kyk en Woensdag....O Weë Woensdag 3 April 2013 het ek ‘n afspraak met myself.

Ek, Aletté-Johanni Winckler gaan besin oor haar gesin, haar loopbaan, haar roeping, haar tyd én gro(o)tendeels, haar lyf. Ek het nét dalk die antwoord gevind op almal se vrae en ek is baie opgewonde om hierdie deel van my lewe en wese met julle op ‘n daaglikse basis te deel.

Dus, van volgende week af, gaan ek naak voor julle staan in al my glorie, alle maskers agtergeblewe en ons gaan saam die pad stap na PROJEK 64!

Ek hoop julle is reg om saam te huil, en saam te lag, en saam te detoks...maar meer hiervan ...volgende week.

Mag elkeen van julle oor hierdie Paasnaweek net weer opnuut besef watter wonderlike opoffering Jesus vir ons aan die kruis gemaak het, en dat Hy alleen die lewe die moeite werd maak.

Baie liefde

A

* Lees nóg blogs deur Aletté-Johanni.