My mooiste kleinste knapie is al 9 maande en 2 weke, mooier as ooit, begin begin loop en mamma sit nog met al die bewyse dat sy (nie meer so) onlangs swanger was.

Hierdie maand het baie staaltjies opgelewer om aan julle oor te vertel (vir ‘n bietjie simpatie). Een middag staan ek en Heinz en ons assistent, Marisa in die kombuis en middagete maak, toe Marisa vra: “So wanneer het jou liedjies oor Aletté begin gaan, Heinz?”

Heinz begin vertel dat dit was vandat hy my ontmoet het, maar ek val hom in die rede...Hy het my LANKAL in gedagte gehad, nog voor ek daar was: “Waves crashing over me...(not so) gently....” En later gaan die liedjie: “You’re drowning me...” Daars ook:  “Can’t loose (weight) with you”. Heinz se liedjie, “Thank you”, se woorde begin: “It’s all changed, around here” en ek sien in my geestesoog hoe hy verduidelik “around here” is around my maag en around my boude. Ek praat nie eens van sy nuwer liedjies: "Groter as groot", "Klein bietjie" en "Weight of the world" nie.

Net laasweek speel ons gesinnetjie buite op die gras. Lian het onlangs Dawid en Goliat se storie gesnap en elke nou en dan is een van ons Dawid en die ander Goliat en dan vat hy sy “shlingevel” en skiet die ander een. Op die middag wil hy dit weer speel. Ek sê vir Lian: “Lian, jy is Dawid, pappa is Goliat en ek is Jonathan” “Nee mamma, ek is Dawid, mamma is Goliat en pappa Jonathan!...” Dankie Lian.

As ek nie ten minste 2 kilos verloor het van ons laaste gesprek af nie, het ek verseker aan ‘n kompleks begin ly. Hoekom is dit so moeilik? En hoekom vat dit so lank? Ek eet werklik mooi, en oefen (wanneer ek kan) baie hard, maar dit voel vir my of elke hormoontjie en vetselletjie met elke kliertjie, aartjie en orgaantjie ‘n Dawid en Jonathan bloedverbond gesluit het om nie te roer nie en staande te bly. Niemand wil hulle werk verloor in slegte ekonomiese tye nie en daarom het hierdie outjies besluit om saam te staan en te STRIKE! As hulle nog getoi-toi het was daar darem ‘n mate van beweging maar hulle staan soos die wagte voor Buckingham Paleis: DOODSTIL, bankvas en stewig. Ek dink as dit lyk en voel of een, twee of drie van hulle dalk moontlik afgeskei of uitgeskei gaan word is dit ‘n mate van “touch, pause, engage” en daai outjies haak bymekaar in en klou vir lewe of dood.

Dit is nou nie juis in my persoonlikheid om ander se vriendskappe en verhoudings op te breek nie, maar my geduld raak nou klaar. My klerekas koekeloer vir my...die girls in die gym koekeloer vir my...die pakkie Woollies jelly varkies in my spens koekeloer vir my, geen wonder die outjies wil nie move nie, hulle kry vrek baie aandag!

Dalk moet ek net niks sê nie, nie gereeld weeg of kyk of daai kleiner nommers al pas nie, dalk moet ek ook swyg en kyk of hulle dalk dan bietjie afstand sal doen van mekaar...

Dus my nuwe taktiek: Projek Stilte.

* Lees nóg blogs deur Aletté-Johanni.