Wie Betty was en wat sy gedoen het om só mooi plek na haar vernoem te kry weet g'n mens nie, maar sy’s nou alombekend. Met die blouste see voor my en die groenste berg agter my, kan ons gesinnetjie vir ‘n slag net bietjie by ouma en oupa Winckler ontspan. Maar nou kan julle seker net dink wat gebeur in so ‘n ontspanne atmosfeer... Dit was juis my skoonma se skuld dat ek oor laas Desember sommer in een maand 5 kg opgetel en die tannie by die ginekoloog se spreekkamer amper ‘n hartaanval gegee het. Daar is tuisgemaakte nagereg ná elke aandete, en dan was die aandete nog iets om oor huis toe te skryf óók. Hierdie keer is die belewenis egter vir my héél anders. Gisteraand se malvapoeding is vervang met Crackerbread met versoeter en vanaand se vanilla-roomys, bessie-coulisen meringues gaan vervang word met papaja met versoeter... Maar, my mede-mammas en ander mede-moedeloses, ek moet bieg, dis nie eers my skoonma wat die verblyf vir my en die dokter besonders moeilik maak nie. Hier op Betty's is daar ‘n deli genaamd De-Nice met die beste croissants. En dit nie net in die suidelike hemisfeer nie, maar ook die noordelike, want ek het nog nóóit sulke croissants, selfs in Parys (Frankryk), geëet nie! Elke besoek aan Betty's word beloon met De-Nice-croissants met De-heuning en De-kaas en ek belowe julle... De-Kobus se GAT! As daar nou iets is om die dokter oor huis toe te stuur, is dit dit. Heinz het reeds vanoggend sy eerste kwota in. Ek het sommer in die kar gespring en Kleinmond toe gery vir Canderel-sjokolade. Okay, daar het julle dit! EEN HELE SLAB CANDEREL-SJOKOLADE. Gelukkig is die skade nie só erg nie? Ek kon net nie meer nie! Na 6 weke en 10kg doen blomkool en hoender dit net nie meer vir my nie! Ek voel amper ek moet op ‘n binge-sessie gaan en vir een aand alles eet wat voorkom, net om weer die volgende oggend Maandag te maak en my opnuut aan die Dokter voor te stel endan hierdie lyf skokterapie te gee en daai laaste 10 kilos sommer so 3 weke te skud. Hahaha! As dit maar net so maklik was! Nou dat ek so naby aan die einde kom moet ek rêrig al my wilskrag inspan om eindelik Projek 64 klaar te maak. Julle beter bid. Ek is besig om laks te raak en die bitter blomkool en krakerige Crackerbread help nie. Ek het al die inspirasie, kommentaar en bemoediging nodig wat ek kan kry. 4 weke vriendinne. Dis 4 weke tot 15 November en hier gaan een GROOT wonderwerk moet gebeur.                                                            *** (1 uur tydsverloop) Goed, nou nadat ek vir 30 minute in die vars lug langs die see op en af gehardloop het, is my gemoed in meer van ‘n gemoedelike toestand. My hart het vinniger geklop en bloed deur my are gepomp en hopelik is die Canderel-sonde ook by my sweetgaatjies uit! (Dit was glad nie vars nie en dus nie eers die belydenis werd nie.) I AM BACK WITH A VENGEANCE! Nou gaan ek kliphard saam met Wikus van der Merwe sing: “Hier kom ‘n ding ah-ah!” (Wie't gesê ek kan dit nie in 4 weke doen nie????)