Heinz sing nét gisteraand vir my die volgende liedjie: (In die oorsponklike weergawe kan jy die woord "dokter" vervang met "kat":

O, die dokter kom weer en hy wou nie langer wag

Die dokter kom weer net die volgende dag

Die dokter kom weer, glo vir my dis waar

Die ander dag se more was die dokter weer daar

(Sou graag die laasste lyn wou vervang met: "Dis nie meer nodig ek is lankal al maer!")

Ek wil nou nie katterig raak nie, maar ek is nou bykans heeltemal reg om paadjies met hierdie dokter te skei! 13 weke en 16kg later het ek en hy (dokter) lankal die pap heeltemaal té dik aangemaak (ek wens dit was pap) en los die noem van sy naam 'n baie bitter smaak in my mond.

Oor net een week van nou af is ons tassies gepak en is ek en my seuntjie op 'n vliegtuig op pad Kaap toe. (Pappa kom soos skilpad met kar aangery.) Oor net oor die 2 weke van nou af staan my ouboet voor die kansel langs sy pragtige (hiper-maer) bruid. En net daarna is dit Kersfees met alles wat net 'n Kersfees kan inhou. Oor net drie weke van nou af vlieg ek en Pappa Bulgarye toe om bietjie te gaan ski en net oë vir mekaar te hê. En dan...O, ja, en dan sal geen dokter meer 'n plek in my lewe hê nie.

Die einde is so naby en naas die bitter smaak wat die dokter in my mond los, proe ek al die oorwinning. Met ander woorde ek sit met hierdie bitter-soet smaak in my mond, en ek moet eerlik wees, dit is nie aldag lekker nie.

Ek kan egter vir julle vertel wat wél lekker is: pepperment crisp- en melkterte, kase en brode, aartappelslaai en wyn. En hoé weet ek dit? Want dit is wat ek alles gistraand by my dissipelskapsgroepie se afsluitingsbraai ge-in het.  Dit lyk nou maar die nuwe roetine in my lewe te wees. Eet die hele week mooi en koer met die dokter dan kom die naweek (nie dat Maandag deel van die naweek is nie) slaan die paw-paw die fan en kom hierdie karretjie se wiele almal af.

Knit one, slip one.  Verloor 3, tel weer 2 op, verloor weer 3 en tel 2 op. En dit is waarom hierdie "heerlike" proses so ontsaglik lank vat. Almal het ook van die begin af gesê dis daai laaste 4 of 5 kilos wat vir hulle lewe aan jou lyfie klou. Hulle het vir die afgelope paar weke gesien hoe hulle maaitjies uit en afgeskei word en daar is geen manier dat hulle sommer dieselfde paadjie gaan loop nie.

Hulle ken blykbaar nie híérdie tannie nie.  Ek ruk vir hulle los met my 2 vingertjies of verdrink hulle sommer in liters en liters water. Dís nou my nuwe strategie - vir die volgende 3 weke voor 2010 sy rug op ons draai, gaan ek my are en organe laat swem in die water. Hulle moet silwerskoon, jeugdig, maer en vol lewe wees wanneer ek met hulle klaar is.

En oor 3 weke is ek met júlle ook klaar. Ek sal graag vir julle vertel  wat op die rooitapyt gebeur so nou en dan maar wat verder gebeur wanneer ek en meneer die skaal mekaar ontmoet, gaan binne my badkamer se vier mure bly...

Veilig reis.

Ek