Dis inderdaad hoekom die publiek by hierdie panarie betrek is; sodat ek verantwoording moet doen aan die hele volk oor elke grieseltjie kos wat oor my lippe kom...en gaan...

Wel, hier het julle dit nou. Ek gaan eerlik wees, 31 Oktober het so half 'n spyker/stokkie in die wiel veroorsaak. En as ek nou in my ouerhuis was, sou my ma gesê het: "Dis nes sonde werk... begin met ietsie kleins en dan sien jy dis eintlik maklik. En dan volgende keer vat jy dit bietjie verder en volgende keer bietjie verder..." (alhoewel dit GLAD nie klein begin het nie, eerder soos val met die deur en die wyn en die pizza en die chips en sjokelade en ALS  in die huis)

Ek skaam my eintlik as ek julle kommentaar lees waar julle dink ek laat dit so "maklik" lyk. Hoor hier, moet nie dat 'n paar mooi woordjies op 'n stukkie papier julle mislei nie! Eintlik skryf ek elke week hierdie blog vir myself, om net weer motivering te kry om nóg 'n week uit te hou en nóg 'n week verby elke koek, tert en cappuccino te kyk in die blomkool en hoender vas. Dis glad nie maklik nie. Dit was nog nóóit maklik nie. En ek is seker hierdie laaste pylvak gaan ook nie maklik wees nie. Maar ek het net géén keuse nie.

Heinz vertel gereeld dat die toppunt van volwassenheid beteken om verantwoordelikheid vir jou eie dade te neem. Nou ja, laat ek nou maar die volwassene hier tussen ons wees en erken dat ek (buiten my kind se 4.12kg) nog so 25kg aan my lyf geëet het in die tydperk van 9 maande hier van toepassing. Ek het dit daar gekry. Ek moet dit afkry. Ek het nóú reeds baie voorneme om met geen ander opkomende swangerskap(pe) so hand (in die mond) uit te ruk nie. Nee wat, dis net nie die moeite werd om so te "let go" nie. (Mag hierdie enige mamma met 'n mensie in haar pensie en 'n milo in haar hand oor die vingers tik...)

Goed, hier gaan ek. Dit word nou bykans 'n weeklikse instelling dat daar so dag aanbreek, gewoonlik oor die naweek, dat ek net besluit, goed dis cheat-dag. Ek meen, watse geit is dit? Voor laasnaweek was dit Zet se 2de verjaarsdag. Of te wel Zet se 2de 30ste verjaarsdag(partytjie). Hierdie naweek was dit my boeties en sussie en hulle gades en aanstaandes en kinders wat kom braai het.

Nou moet julle weet my skoonsuster, Wess-Lee, het onder Nataniël se vlerke grootgeword en kook en bak soos 'n koningin. (Nie dat 'n koninging enigsins self kook of bak nie!) Om net 'n voorbeeld te noem, toe ons praat oor Kersdag se spyskaart wou sy graag "slakke" vir voorgereg maak en dan ttttttttttrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrdish (drum roll) kalkoen, gevul met 'n hoender, gevul met 'n eend! Of dalk was die hoender en die eend omgeruil? Maar dit maak nie saak nie! Vir ons Sondagmiddag-braai bring sy tuisgemaakte mini mieliebroodjies  en plaasbotter.

Ek dog die Dokter beswyk. Maar dit het my nie gekeer om 'n kortstondige fling met die brood én Woolies se malva én Simba se chips te hê nie. Die ding met hierdie gier om te cheat (wat na 31 Oktober begin het), is dit dat dit jou soveel langer vat om van daai affair te vergeet en oor dit te kom.

Wanneer dit net jy en die dokter is, is daar geen behoefte aan buite kurrikulêre aktiwiteite nie. Maar ek onthou destyds het die dokter se assistent ons geleer dat een cheat jou iets soos 5 dae terug sit. Nie die moeite werd nie, Aletté-Johanni Winckler!

Dus. Ek kon al heelwat nader aan 64 gewees het en heelwat verder van 70 as ek nie myself al meer as 15 dae terug gesit het nie...

Juffrou Bull sou baie teleurgesteld gewees het.

Ekke.